Algemeen, Nuus -

Kom ons praat bietjie oor taal

Dit is fassinerend om te sien hoe die skepping mense fassineer.  Enige mens kan groot pret ervaar deur by 'n dieretuin of wildtuin te sit en mense dop te hou en te sien hoe die natuur hulle keer op keer verwonderd laat.  Ons as mense verwonder ons aan, en word gefassineer of geïnspireer deur verskynsels bo ons eie aard.  Dit is verstommend om te sien hoe 'n olifant 'n boom plat trap – juis omdat ons dit nie self kan doen nie.  Ek vra myself soms, as die bordjies verhang was, watter eienskappe van mense vir diere fassinerend of inspirerend sou wees – die mensdom is nie die vinnigste of sterkste wesens nie, dus sou hierdie eienskappe nie bo-aan die lys wees nie.  Ek glo dit sou ons vermoë tot logiese denke en redenering wees, ons vermoë om 'n probleem op te breek in 'n feitestel wat een vir een aangepak kan word.

Desnieteenstaande sou dit seker onredelik wees om van alle mense te verwag om te alle tye die vermoë te hê om kalm te bly en nie emosioneel te reageer nie, maar 'n krisis eerder in dele op te breek en dit een vir een aan te pak.  Dit maak vir my sin dat 'n mens logies en denkend moet kan reageer as jy voor 'n uitdaging te staan kom, en van kleins af het ek die grootste agting vir mense wat, soos Rudyard Kipling dit in die tydlose gedig “If” stel, nie kopverloor as almal om hulle wel kopverloor nie.  Dit kom wel vir my voor asof minder en minder mense die vermoë tot logiese reaksie het, en al meer en meer mense emosioneel reageer, en amper 'n posisie van gesag aan emosie gee.

As ek byvoorbeeld dink aan die huidige taaldebat wat in Suid-Afrika aan die gang is, is dit duidelik 'n stel polities gedrewe emosies wat in stryd kom met onbetwisbare feite, en tog is die nasionale narratief aan die kant van die emosietornado.

Tydens 'n gesprek op Radio 702 oor Afrikaans het 'n ontstelde luisteraar ingebel en dit gestel het dat 1976 juis daaroor gegaan het dat Afrikaans nie as medium van onderrig gebruik moet word nie.  Vals.   Kom ons praat oor 1976 – daar is 'n massiewe verskil tussen mense wat nie moedertaalsprekers van 'n taal is nie en wat gedwing word om in 'n ander taal te leer, wat so terloops tans aan die gebeur is met Afrikaanse regsstudente in Potchefstroom, en mense wat in hul moedertaal wil leer en nie toegelaat word om dit te doen nie.  Eenvoudige voorbeeld:  Om vir 'n leeu te sê hy moet soos 'n olifant trompetter, is anders as om vir 'n leeu te sê hy mag nie brul nie omdat niemand anders kan brul nie.

Om emosioneel te reageer en so kwaad te word dat jy nie meer lekker dink nie, is sinneloos, en dit is die rede vir soveel onnodige wrywing op 'n daaglikse basis.  Die eenvoudige waarheid is dat ons weet hoe om wetenskaplik nader te beweeg aan reg en verkeerd – ons weet dit al jare lank. Trouens, die Amerikaanse filosoof Thomas Kuhn het reeds in 1962 verduidelik hoe die hele proses werk:

Die meeste mense meen dat 'n bepaalde denkraamwerk of paradigma die waarheid oor 'n kwessie verteenwoordig.  As 'n ander paradigma na vore kom wat hierdie kwessie vir ons in meer detail verduidelik en antwoorde op onbeantwoorde vra gee, word hierdie nuwe paradigma wetenskaplik as meer korrek beskou.  Die mensdom het geglo die aarde is plat, toe, op 'n dag seil iemand rondom die aarde, en toe besef ons dat die paradigma dat die aarde plat is, nie hierdie fenomeen kan vasvang nie. Die idee van 'n ronde aarde het as nuwe paradigma tot stand gekom, en aangesien die nuwe paradigma meer van ons observasies kon verduidelik, is dit as meer korrek beskou.  Persone wat dus nie bereid is om op logiese gronde te redeneer nie, weerhou die mensdom daarvan om vorentoe te beweeg.  Daarom is dit belangrik om kalm te bly, te luister na opponente, en goeie logiese argumente na vore te bring in teenstand daartoe.

Kom ons gaan terug na die gesprek oor Afrikaans wat Eusebius McKaiser op 702 aangebied het.  Natuurlik hoor ons toe die holruggeryde argumente van uitsluiting en vervreemding wat deur nie-Afrikaanssprekendes ervaar word op oorwegend Afrikaanssprekende universiteitskampusse.  Een van die inbellers het genoem dat baie studente ver moet reis omdat die kampus naby hulle onakkommoderend is.

Op hierdie oomblik het ek so liggies in my mou gelag vir die absolute tekort aan waarheid in dié tipe argumentering, ek verduidelik vlugtig:  As student het ek vir drie jaar na mekaar op die bushalte gestaan as die busse van George, Swellendam, Oudtshoorn en ander Wes-Kaapse dorpe in Potchefstroom aankom.  Jaar na jaar was dit dieselfde, sestig studente wat sak en pak afklim met alles wat nodig is as jy 'n hele jaar lank nie huis toe gaan nie.  Hierdie studente het vir die beste deel van 20 uur in 'n bus gesit om by 'n universiteit uit te kom waar die taal waarin hulle grootgemaak is as onderrigsmedium aangewend is.  Verby hoeveel universiteite het hulle gery om hier uit te kom?  Kom ons meet swaarkry aan die hand van verlange, koste, en moeite – nie aan die hand van die ideologie van studente in 1976 nie. Die meeste van hulle is in elk geval naby aftrede.

Dit bring my terug by logiese argumentering teenoor emosionele argumentering.  Is dit logies om 'n klein minderheid Engelse moedertaalsprekers te bevoordeel ten koste van soveel ander?

Die argument wat baie mense dan aanvoer, is dat Engels die groot gelykmaker is – waarom moet Afrikaans bo Setswana of isiXhosa bevoordeel word? Waarom het daardie tale nie hul eie kampusse nie?  Die maklike, logiese, meetbare antwoord is dat Afrikaans 'n wetenskaplik ontwikkelde taal is, en dat 'n Setswana-universiteit na my mening 'n wonderlike idee is, as die Setswana-mense hul kinders soontoe wil stuur, en as hul gemeenskappe die universiteit sal onderhou.  Om te argumenteer dat ek iets nie mag kry nie omdat iemand anders dit nie het nie, is 'n emosionele argument.  Om te argumenteer dat Afrikaanse mense, wat net hul klasgeld wil betaal en in vrede hul grade wil kry in 'n wetenskaplike taal onder omstandighede waarvoor die Grondwet voorsiening maak, 'n redelike versoek is, is logies, en sinvol, meetbaar en verdedigbaar.

Dit is hartseer wat gebeur wanneer logika teen die heersende party se ideologie van verdeling en misleiding ingaan – dit word as regs, onderdrukkend, of agterlik afgemaak.

My voorstel vir die taaldebat is die volgende:  Kom ons kry 'n paar denkers met verskillende menings, kom ons kry 'n ronde tafel en 'n paar bekers koffie, kom ons laat mekaar klaar praat, en toets ons eie oortuigings oor taal en die plek daarvan.  Kom ons los emosie vir net 'n kort rukkie by die deur.  Kom ons almal raak net 'n bietjie rustig.

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close