Algemeen, Gemeenskappe -

Kom ons praat 'n bietjie oor houding

Ons word gereeld gedurende films en televisiereekse aan die belangrikheid van ons eie houding herinner. Op YouTube hoef 'n mens nie eens ver te soek vir een of ander motiveringspraatjie wat jou uitkyk op die lewe as uiters belangrik beklemtoon nie. Selfs die Whatsapp-boodskappe wat familie of kollegas op ons groepe plaas is dikwels om hierdie tema geskoei: Jou houding teenoor 'n saak, en hoe dit die uitkoms sal beïnvloed.

Toe Spanje in 1519 'n inval op Meksiko geloods het, het die aanvoerder van die Spaanse weermag, Hernan Cortes, al die Spaanse bote aan die Meksikaanse kus laat sink. Die rede hiervoor was nie vrees dat die inboorlinge van Meksiko sy skepe sal neem en wegvaar nie. Nee, hy wou 'n boodskap aan sy soldate stuur – wen of sterf. Cortes het besef dat die houding van sy soldate die uitkoms gaan bepaal. As hulle glo dat hulle 'n plek het om heen terug te gaan, sou hulle dalk nie alles gee het nie, maar toe hulle besef dat dit wen of sterf is, was dit 'n ander storie.

Ek stem sonder twyfel saam dat 'n mens se houding uiters bepalend is in jou uiteindelike uitkoms. Hoe gereeld sien ons nie hoe onwaarskynlike resultate op die sportveld plaasvind nie, heel dikwels omdat die sterk span die swakker span onderskat het, en omdat die swakker span meer as net hul liggame gegee het, maar hul ganse wese. Op skool het my onderwyseres wat vir ons Engels gegee het vir ons geleer dat, alhoewel daar duisende films en boeke is, daar eintlik maar ses of sewe temas is waar om alle fiksie en 'n groot deel van die werklikheid draai – ek weet nie noodwendig of ek saamstem oor die hoeveelheid nie, maar dat daar wel net 'n paar temas oor en oor op ander maniere aangebied word, is verseker so. In terme van 'n mens se houding is dit eintlik ook maar so – daar is, in terme van die Afrikaner se houding teenoor Suid-Afrika se toekoms na my mening eintlik maar net drie dominante houdings.

Die eerste groep is die volstruise – mense wat om hulle kyk, sien hulle hou nie daarvan nie, en hul koppe in die sand steek, hoopvol dat die probleem homself net sal oplos. In baie gevalle is hierdie houding tipies van hoogsgekwalifiseerde of -gespesialiseerde persone. Hulle beroepe word glad nie deur die politiek van die dag bedreig nie, en hulle kan koeëlvaste motorvensters en tienvoetmure of selfs permanente hekwagte bekostig. Ek veralgemeen wel na beide kante toe, want daar is baie mense wat, ondanks absolute werksekerheid en welvaart baie betrokke by hul samelewings is. Vir sulke mense is ek sélf en baie wat soos ek dink natuurlik dankbaar. Daar is ook hulle wat nie hoë heinings of koeëlvaste vensters het nie, en wat gewoon nie van konflik hou nie, en rustig tot by tien tel en hoop die probleme verdamp.

Die Tweede groep se houding is soos die van 'n kwêvoël – primêr bekend vir sy volume. Afrikaners met hierdie tipe houding raak dikwels Vrydagaand om die braaivleisvuur hewig ontsteld oor alles wat aangaan, en die verlede en die toekoms en die Bokke en die kole en sommer nog 'n klomp ander goed ook – wat natuurlik nie verkeerd is nie. 'n Mens kan sekerlik nie anders as om diep te voel wat om jou aangaan nie, maar alhoewel die kwêvoël bekend is vir sy volume, is hy nie juis bekend vir sy jagvaardigheid of uitsonderlike nessies nie. Net so sal hierdie grootprater Maandag by die werk maar weer in stilte sit en luister na wat om hom aangaan, hy sal sien hoe sy kinders nie hul koshuisdrag mag dra nie en niks daaraan doen nie. Hy sal sien hoe onreg in die werkplek en aanstellingsproses plaasvind, en hy sal weet dat dit verkeerd is, maar al daai volume van die naweek langs die vuur sal vervang word met 'n stille onsekerheid.

Die derde en laaste houdingstipe is dié van die eenvoudige ou vinkie. Ek onthou met heimwee die vinknessies wat bo ons swembad gehang het toe ek 'n klein seuntjie was. So perfek geweef dat mense in die tekstielbedryf jaloers kon wees, en buite bereik van enige blaffende hond of honger slang bou hierdie vinkies hulle nessies. Aan 'n klein takkie waar skaars twee blaartjies groei weef hulle 'n veilige hawe waar eiertjies gelê kan word, en kuikentjies gevlerk kan word. En, wat as die groot Johannesburg-reën hierdie nessie uit die boom uit neerslaan? Dan sien jy more oggend voordat die son nog behoorlik sy kop uitgesteek het, hoe die vinkie maar net weer voortbou. Met dit wat hy het, en waar hy is, doen hy wat hy kan. My lewe lank al het ek respek vir hierdie tipe mense – bouers – mense wat hulself gerat hou vir die wind en weer wat kom, en nie bly lê as omstandighede sleg of selfs lewensbedreigend is nie. Ek hou daarvan om te dink dat die vinke onder ons die Afrikaner oor die jare heen gedra het na groot hoogtes. Klein treetjies, takkie vir takkie gebou het aan 'n toekoms vir die kuikentjies wat die Here in sy tyd skenk. Hierdie houding is, soos my Biologie meneer op skool gesê het, 'n Bou-ding!

Niemand op hierdie aarde is mooi seker oor hoe die toekoms gaan lyk nie, maar een ding is wel seker, dit gaan uitdagings inhou. Soos wat die geskiedenis ons geleer het, is uitdagings, selfs bedreigings, 'n gereelde besoeker van die mensdom – so hoe nou gemaak?  Dit maak miskien sin om tydelik agter hoë mure weg te kruip en te hoop dat die probleme en uitdagings hulself gaan oplos, en, miskien moet ek kerm en kla en hoop iemand hoor my? Miskien maak al hierdie dinge sin, miskien nie. Die een ding waarvan ons wel sekerheid kan hê is dat daar net een manier is om die toekoms te hê waarvan jy droom en waarop jy hoop – en dit is om daardie toekoms te bou. Die lekker ding van 'n mens se houding is ook dat dit nie onveranderlik is nie – daarom kies ek die vink se houding – ek gaan bou. Ek gaan maak wat ek kan, waar ek is, met dit wat ek het.

  • 20
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close