Algemeen, Gemeenskappe, Politiek -

Kom ons praat ‘n bietjie oor wêreldbeskouing…

Die Amerikaanse aktrise, Irene Dunne, het in 1945 gesê: “As ons nie staan vir iets nie, sal ons val vir enigiets.”

Wat beteken dit om vir iets te staan? Hier gaan dit oor wat jy dink reg is en wat jy dink onaanvaarbaar is, gebaseer op die manier hoe jy die wêreld verstaan en beskou.

Elke mens beskou die wêreld op 'n sekere manier. Eenvoudiger gestel, jy het altyd 'n wêreldbeskouing. 'n Wêreldbeskouing bestaan op sy eenvoudigste uit drie elemente. Ten eerste gaan dit oor wat om jou aangaan en hoe jy daaroor dink; dit wat goed is daaraan, maar veral dit wat sleg is daaraan.  Tweedens gaan dit oor dit wat volgens jou veronderstel is om aan te gaan – dit is dus jou idee van wat die perfekte wêreld of samelewing is en derdens gaan 'n wêreldbeskouing oor hoe om daarby uit te kom.

Almal het, soos hier bo gestel, 'n wêreldbeskouing.  As jy van mening is dat jy nie 'n  wêreldbeskouing het nie, dan gaan jy noodwendig iemand anders se wêreldbeskouing erf. Gewoonlik gaan jy dan net saam met die stroom van heersende idees. Karl Marx het in sy magnum opus, Das Kapital, tereg gestel dat die heersende klas se idees die heersende idees word.

Om byvoorbeeld in Suid-Afrika geen uitgestipte wêreldbeskouing te hê nie, beteken dat jy outomaties inval by die heersende beskouing, dié van die ANC. As party glo die ANC dat die perfekte wêreld geskep kan word deur by die rykes te vat en aan die armes te gee – 'n stelsel wat polities bekendstaan as sosialisme. Hierdie stelsel behels onder alle omstandighede 'n baie sterk staat wat nie weerstand duld nie en 'n absolute sentralisering van mag.

Is ons bewus van die wêreldbeskouing van die party wat ons land regeer, of wat eintlik oor ons heers en die impak wat dit op ons land en gemeenskap het? Vra ons onsself nie dikwels af wat een politikus nou werklik anders maak as 'n ander een nie? Dit is nodig dat ons besef, en dit vinnig besef, dat die groep mense wat 'n land regeer se denke noodwendig en onder alle normale omstandighede die toekoms van daardie land voorspel, en dit geld vir sowel hoe dit gaan lyk as hoe om daarby uit te kom.

As ons sê dat die ANC 'n party is wat sentralisme as wêreldbeskouing het, wat beteken dit vir ons op 'n dag-tot-dag-basis?

Sentralisme kan dalk die beste verstaan word as ons eers verstaan wat dit nie is nie. Sentralisme staan teenoor federalisme. Anders gestel, beteken dit sterk regering teenoor swak regering. Federalisme kom van die Latynse woord foedus – wat “ooreenkoms” beteken. In federalisme gaan dit daaroor dat daar baie magsbasisse is; nie net een heerser nie. Dink in die verband aan die VSA waar elkeen van die 50 deelstate self kan besluit oor die ouderdom waarop tieners mag begin drank gebruik of oor die doodstraf of dagga of  regulering van wapens. Daar is meer as een basis van mag; meer as een groep denkers wat kan besluit oor die rigting wat ingeslaan word. Die hele idee daaragter is dat geen enkele persoon in enige gegewe stadium soveel mag het dat daardie persoon of party absoluut kan doen wat hy of sy wil ten koste van die res van die groep, samelewing, of bevolking nie. Federalisme is dus in sy wese gekant teen 'n outokratiese stelsel, of dit een party of een persoon is wat oor al die mag beskik. Die basis van federalisme is dat diegene wat die naaste aan 'n saak of aangeleentheid is, die besluite daaroor moet neem.

Die sentralisme waaraan Suid-Afrika onderwerp word, beteken in praktyk dat die ANC sy 60%-stem neem en 100% van die besluite neem wat ons land se dag-tot-dag-funksionering reguleer. Die ses mense in die ANC se topses het, vir alle praktiese doeleindes, die absolute mag oor die bestuur van hierdie land. So 'n stelsel wil alleen besluit oor die taal van onderriginstellings en die howe en wil alleen besluit oor regulasies wat vir besighede geld en waaraan hierdie besighede onderhewig is. So 'n stelsel wil selfs die nasionale sportspanne kies, of ten minste streng en ononderhandelbare voorskrifte op hierdie sportspanne van toepassing maak.

Ek vind dit interessant dat daar so baie mense is wat nie 'n probleem het daarmee dat een groep soveel mag het nie. Van die meer vredeliewendes onder ons, of die idealiste wat vashou aan 'n droom, glo dat hierdie klein groepie hul supermag op die ou end só sal aanwend dat almal eintlik bevoordeel word, en dat die beste uitkoms uiteindelik opgelewer sal word. Sulke idealiste sal kwaad raak as 'n mens teen die regering wil opstaan, selfs al sien hulle hoe onbillike diskriminasie plaasvind; al sien hulle hoe besluite nie almal nie, maar net sommiges bevoordeel. Hulle voel die sentrale magsbasis is 'n vredeliewende ouboet wat net omsien na ons beste belange, al verstaan ons dit nie altyd nie … Terwille van dié van u wat lag oor die verwysing na “ouboet” en die boek 1984 onthou, noem ek net dat ek die woord “ouboet” hier nie per ongeluk gebruik nie …

Daar is 'n bekende grappie onder regslui dat jy maklik drie standpunte tussen twee advokate kan kry, wat 'n humoristiese manier is om aan te toon dat mense van mekaar verskil: ons dink anders, ons stry en ons redeneer oor sake. Dit is gesond en van deurslaggewende belang vir 'n nasie of 'n gemeenskap se ontwikkeling dat verskillende idees getoets en uitgeruil kan word. As ons dan saamstem dat twee mense ten volle kan verskil oor 'n saak, hoe kan ons nie 'n wesenlike probleem daarmee hê dat die mening van ses mense aan al hoe meer dele van ons samelewing voorskryf nie?

Wat is jou eie wêreldbeskouing? Hoe voel jy oor die plek wat aan jou eie opinie gegee word?  Jou reg om te verskil, jou reg om nie saam te stem nie, jou reg om te sê dat jy nie saam stem nie? Ek voel dat die stem van elke klein groepie gehoor moet word. Ek is van mening dat 'n sentralistiese stelsel wat almal in 'n diverse gemeenskap oor dieselfde kam wil regeer gevaarlik is en die voorspoed van 'n land aktief demp. Ek voel dat gemeenskappe op die ou end die heel beste weet wat hulle vir hulself wil hê en daaroor moet kan besluit.

(Baie dankie aan die Solidariteit Navorsingsinstituut vir hulp met die tegniese aspekte.)

  •  
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close