Algemeen -

Kommentaar: AgriSA hoort by plaasmoord-optog

Die landbou-organisasie AgriSA se besluit om nie aan eerskomende Saterdag se optog oor plaasmoorde deel te neem nie, is vreemd.

 

Netwerk24 berig breedvoerig oor die redes wat AgriSA aanvoer oor hoekom hulle nie aan die optog gaan deelneem nie. Volgens die grootste landbou-organisasie in die land, wat nagenoeg 30 000 boere-lede verteenwoordig en die belange van honderde duisende plaaswerkers op die hart dra, gaan sy lede nie daaraan deelneem nie omdat die inklusiewe karakter van die onlangse Swart Maandag-protesoptogte nou verpolitiseer kan word en “politieke ondertone ons nie nader aan 'n oplossing bring nie.”

 

Na oorlegpleging met sy lede is daar skynbaar besluit om nie aan die optog deel te neem nie. “Sonder uitsondering het verteenwoordigers op 'n vergadering besluit dat dit nie nou die regte tyd is om by verdere protesoptredes betrokke te raak nie omdat Swart Maandag die boodskap reeds baie duidelik aan die regering oorgedra het dat sy burgers nou genoeg gehad het van misdaad,” het Dan Kriek, president van Agri SA, gesê.

 

Hy voer voorts aan dat misdaadbekamping inklusief moet wees omdat dit almal in die land raak. Daarbenewens veroordeel hy plaasmoorde ten sterkste en maak ook melding van AgriSA se samewerking met die polisie om oplossings vir die probleem te vind.

 

In dieselfde berig word vermeld dat daar vanjaar reeds 80 plaasmoorde was. Dis reeds meer as die getal plaasmoorde verlede jaar wat die bloedigste jaar tot dusver op plase was.

 

Dit is elke indiwidu of organisasie se goeie reg om aan iets deel te neem, al dan nie. Maar daar moet ook vrae oor AgriSA se afwesigheid by die protesoptrede, en ook oor sy totale gebrek aan steun daarvoor en die redes vir sy besluite, gevra word.

 

'n Hele aantal organisasies en opposisiepartye steun die optog en het vandag 'n gesamentlike mediakonferensie daaroor gehou. Dié organisasies sluit in AfriForum, Solidariteit, TLU SA, VF+, Cope en die DA. Die optrede geniet dus wesenlike steun van belangrike rolspelers wat ook taamlik uiteenlopend is maar wel oorvleuelende belange koester. Daar is geen kriteria gestel oor wie die optog mag bywoon nie en enigiemand is welkom. Waarom sou AgriSA dus meen dit is nie inklusief nie? Wat is hul maatstaf vir inklusiwiteit? Sou hulle eers die ANC en EFF se bevestiging van deelname wou kry voordat hulle ook sou deelneem? Dan gaan hulle lank wag.

 

AgriSA het verlede maand hul steun aan Swart Maandag toegesê omdat plaasmoorde almal se probleem is, maar met dien verstande dat dit nie deur een organisasie gekaap word nie. Die probleem is dat optogte nie altyd spontaan gaan gebeur nie (in elk geval nie konsekwent nie) en dat iets op die nasionale agenda gehou moet word sodat die polisie en regering enigsins daarop ag slaan. Dit moet in die meeste gevalle gereël en georganiseer word. Saterdag se optog is dalk deur AfriForum gereël, maar dit geniet breë steun en die AgriSA-base mag dalk net verbaas wees om heelwat plaaswerkers en talle van hul indiwiduele boere-lede (wat straks ook AfriForum-lede is) daar te sien. Hoekom maak AgriSA dit nie deur hul amptelike deelname nog meer inklusief nie?

 

Hul opmerkings oor die verpolitisering van moorde en hul groot afhanklikheid van die polisie en regering vir oplossings val ook vreemd op. Plaasmoorde is reeds verpolitiseer – deur die polisie, regering en EFF. In die nadraai van Swart Maandag het die adjunkminister van polisie 'n striemende verklaring uitgereik waarin niks gesê word oor plaasmoorde nie, maar waarin AfriForum klakkeloos aangeval word en dit weer eens (maar vergeefs) bloot verklaar word dat die polisie almal in die land beskerm. Die kabinet het Swart Maandag afgelag en meer gefokus op die sporadiese en kleinskaalse gebruik van die ou vlag en dit veroordeel eerder as wat hulle iets oor plaasmoorde gesê het. Sommige mense wat gebedsgroepe gelei het, is selfs met inhegtenisname en vervolging gedreig. Die EFF maak strykdeur van boere ‘n sondebok en gebruik grondgrype as ‘n mobiliseringsinstrument. Sover bekend, het AgriSA nie 'n woord oor hierdie skandalige optrede gerep nie.

 

Een van die kabinet-voorbokke was ons minister van polisie, Fikile Mbalula. AgriSA het juis in September met hom oor plaasmoorde vergader en toe was Mbalula weer vol bravade oor die beskerming van boere. 'n Strategiese plan vir plattelandse beveiliging is toe aangekondig en daar was groot hoop. Maar die einste minister het toe later aangekondig dat spesiale maatreëls nie vir plaasaanvalle ingestel gaan word nie, maar dat hierdie maatreëls bloot deel sal uitmaak van die polisie se gewone operasionele planne om plattelandse polisiestasies te verbeter. Intussen is tientalle boere en plaaswerkers vermoor. Daar is ongetwyfeld nie veel verwagting onder die boere oor hierdie planne nie en AgriSA moet eintlik ook nie veel verwagtings koester nie.

 

AgriSA bly egter glo dat die hantering van misdaad op plase nie die boere se verantwoordelikheid is nie, maar die polisie s'n, luidens 'n verklaring wat op 2 Oktober vanjaar deur Johannes Möller, AgriSA se gewese president, uitgereik is. Die werklikheid druis egter skreiend hierteen in. Dit mag dalk teoreties die regering se plig wees om plaasmoorde hok te slaan, maar dit is nie wat gebeur nie. Nie net bestaan die wil om dit te doen nie werklik nie, maar baie polisiestasies op die platteland is uiters broos, onderbeman en swak toegerus. As plaasmoorde ernstig opgeneem is, sou die polisie lankal reeds nuwe planne geboetseer het om dit te bekamp. Nou moet boere en hul organisasies grootliks self planne maak om veilig te kan boer, terwyl die polisie die een belofte na die ander verbreek.

 

Net soos in die geval van grondhervorming, is AgriSA nie bereid om saam met ander organisasies en partye met soortgelyke belange op te staan vir hul lede se belange nie uit vrees vir kritiek uit regeringskringe. Optogte is dalk nie die enigste manier om die aandag op plaasmoorde te vestig of dit op te los nie, maar dit is beter as om slegs dan en wan gemoedelik met die minister van polisie of 'n ander regeringshooggeplaaste te gesels net sodat die status quo weer daarna ongestoord kan voortgaan. Swart Maandag het gewys hulle sit regop as grootskaalse en duidelike druk toegepas word – en daarom moet dit voortgesit en verskerp word. Plaasmoorde is nie 'n kwessie wat met nuanses, mooipraat, 'n paaibeleid en mediaverklarings opgelos gaan word nie.

 

 

Foto: Mosiuoa Lekota (geneem deur Reint Dykema)

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close