Algemeen -

Kommentaar: Bokke, Allister hard terug aarde toe

In Junie vanjaar het die hoop opgevlam dat die Springbokke die spook van 2016 verdryf het.

 

Verlede jaar was natuurlik die jaar waarin die Bokke slegs vier uit hul 12 toetse kon wen – die swakste jaar sedert die begin van die professionele era. Hulle het in Junie 2016 deurgeskraap om die toetsreeks teen die Iere met 2-1 te wen en daarna het geskiedkundige nederlae teen Argentinië, Nieu-Seeland en Italië gevolg.

 

Vanjaar het hulle weggespring deur skoonskip te maak in die toetsreeks teen Frankryk en het Argentinië in die eerste twee toetse van die Rugbykampioenskap gemaklik geklop. Daar was ook 'n verwagting dat die Bokke maklik met 'n weliswaar powere Australiese span in Perth sou afreken en dalk stewige mededinging teen die All Blacks in Albany sou bied.

 

Saterdag se nederlaag van 57-0 teen die wêreldkampioene dwing ons nou om met nugterheid introspeksie oor die Bokke van 2017 te doen. Die All Blacks het inderdaad vanjaar effe tam gelyk. Hulle het teen alle verwagtinge in gelykop gespeel in die reeks teen die Britse en Ierse Leeus, en Australië sowel as Argentinië het hulle ook onlangs opdraande gegee. Die Bokke daag toe met 'n ingesteldheid op dat die All Blacks kwesbaar is en geklop kan word. Hulle het toe hul grootste nederlaag ooit gely. Verlede jaar kon die Bokke darem nog 15 punte aanteken toe hulle in Durban 57 punte teen die All Blacks afgestaan het. Nou kon hulle nie eens 'n enkele punt aanteken nie.

 

Die Bokke het ook maar geploeter teen die Wallabies en kon nie eens hul vaste vyf – wat nie bekend is vir hul robuustheid nie – baasraak nie. Hulle moes toe met 'n gelykopuitslag tevrede wees. Die Bokke se vaste fasette was in 'n totale warboel teen die All Blacks en hulle het agt drieë afgestaan en nie eens een gedruk nie. Die Wallabies het Argentinië Saterdag 'n groot pakslae toegedien en Argentinië – wat nou op die rand huiwer om uit die top-10-toetsnasies te val – beleef kennelik 'n swak jaar. Frankryk is maar 'n bra gemiddelde toetsnasie en het in Junie hier opgedaag met 'n tweedekeuse-span wat boonop aan die einde van hul internasionale seisoen moeg was.

 

Tog het die Bokbreier Allister Coetzee van oor tot oor geglimlag en volgehou alle probleme is nou uitgestryk. Die spankultuur is beter gevestig en gesond. Kombinasies is gesmee en die spelers is op vorm. Kundige konsultante het begin help en dit word gesien in beter verdediging. Die media en baie mense het hierdie sprokie geredelik geglo omdat die Springbokke weer begin wen het.

 

Die Bokke se toer na Australasië het die Bokke en Coetzee hard aarde toe gebring, of so kon ten minste gehoop word. Hulle het 32 duikslae teen die All Blacks verbrou waarvan nege deur een speler, Raymond Rhule, verbrou is. Dit is totaal onaanvaarbaar vir 'n vleuel op hierdie vlak en hy is beslis nie besig om in hierdie area te verbeter nie. Twee van die Wallabies se drieë in Perth het direk of onregstreeks gekom van Courtnall Skosan se onvermoë om balle in die lug te bemeester. Die Bokke het drie uit hul ses skrums Saterdag verloor en vyf uit hul nege lynstane. Die lostrio was erg uit hul diepte.

 

Die All Blacks het in Saterdag se toets allerlei rekords laat spat: Grootste wenmarge ooit teen die Bokke en die grootste rustydvoorsprong ooit teen Suid-Afrika. Dis ook die tweede meeste drieë ooit teen die Bokke – die meeste was tydens laas jaar se Durban-toets.

 

Al het hulle straks 'n besondere slegte dag beleef, is hierdie problem nietemin nie klein probleempies wat klein verstellings verg nie. Uitnemendheid is ook nie iets wat in 'n paar maande met die hulp van een of twee nuwe hulpafrigters en konsultante gevestig kan word nie. Dit neem tyd en kennelik is die Bokke nog nie eens naastenby so goed soos as wat hulle en Coetzee gedink het hulle is nie. Hulle het vanjaar nog nie eens teen spanne soos Wallis, Engeland en Ierland gespeel nie.

 

Die Springbokke het nog twee wedstryde op tuisbodem oor om ten minste hul trots te herwin, maar 'n sege teen die All Blacks is nou omtrent so waarskynlik soos 5% ekonomiese groei vir Suid-Afrika in 2017. Die Bok-legende Joel Stransky het tereg aangedui dat die All Blacks die Bokke “enige dag van die week” sal klop. Die gewese All Black-skrumskakel Justin Marshall het vanjaar al sterk voorbehoude oor die Springbokke se vordering uitgespreek. Perspektief moet dus behou word oor die Bokke se spelpeil en oor hoeveel werk nog voorlê voordat hulle wêreldtemmers kan word.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close