Algemeen -

Kommentaar: Bokke se probleme is self geskep

Die Bokke se grootste nederlaag teen Ierland nog ooit – 38-3 die pas afgelope naweek in Dublin – kom teen die agtergrond van nog 'n treurige jaar vir Bok-rugby. Hulle het vanjaar ook die grootste nederlaag teen die All Blacks gely toe hulle 57-0 in Albany verloor het. Dit is nie 'n verbreking van 'n ou rekord nie, want in 2016 – wyd en syd as die Springbokke se grootste annus horribilis geag – is hulle 57-15 deur die Nieu-Seelanders afgeslag in Durban.

 

Hulle het wel in Junie vanjaar een meer toets gewen as verlede jaar en die reeks teen die Franse 3-0 gewen, maar dit moet ook in konteks gestel word. Dit was teen 'n afgewaterde Frankryk wat teen die einde van hul seisoen moeg gelyk het. Hulle het daarna vir Argentinië twee keer geklop, maar die Suid-Amerikaners se huidige spelpeil en posisie op gesaghebbende ranglyste toon ook dat hulle self tans diep in die knyp is. Eben Etzebeth het reeds voor hierdie Europese toer verklap dat daar probleme van die veld af is, en dit sou altyd onafwendbaar wees dat dit op die veld wys.

 

Ofskoon daar vanjaar enkele ligpunte was, dui die Bokke se 50%-wenrekord (5 uit 10 seges) daarop dat als ver van pluis is. Die oorblywende wedstryde op die November-toer – Frankryk, Italië en Wallis – kan maklik ook almal verloor word sodat Suid-Afrika met 'n wenpersentasievan benede 50% sit. Dit lyk deesdae of die Bokke net kan wen indien hulle die vorige wedstryd ver verloor het.

 

Die Springbokke se rigtinglose geploeter teen Ierland (en in soveel ander wedstryde vanjaar) het ook nie vanself gebeur nie. Dit is deur onkunde, onvermoë en straks selfs doelbewus geskep. Allister Coetzee is eers in April verlede jaar aangestel as hoofafrigter en dus kon hy in 'n mate verskoon word vir verlede jaar se gemors. Onbeholpe en onervare hulpafrigters is boonop op hom afgedwing.

 

Vanjaar is anders en hy het goeie hulp gekry en genoeg tyd gehad om voor te berei. Daar was verbetering, maar dit is steeds 'n reusegeploeter – soos die afgelope Saterdag duidelik aangetoon het. Die Bokke lyk rigtingloos en die ergste van hul groot nederlae is dat hulle geen drieë kon druk nie. Ierland was nie eens op hul beste nie en die Springbokke kon nie veel doen om hul verdediging te uitoorlê nie. Die hele agterlyn is gepak met onervare spelers wat nie eens hul basiese take oortuigend kan verrig nie, en ook diegene wat glad nie op vorm is nie. Selfs spelers wat in Superrugby op vorm was, lyk nou treurig.

 

Coetzee kan eenvoudig net nie langer as hoofafrigter oorleef nie. Indien hy sy termyn sterk begin het, kon hy miskien nog verskoon word, maar tot dusver is sy rekord power. Hy het blykbaar geensins vir Rassie Erasmus as die nuwe direkteur van Bok-rugby – en iemand wat op die koop toe onlangs baie suksesvol in Ierland afgerig het – geraadpleeg voor hierdie toer nie. Brendan Venter is ook nou meer by Italië as by die Bokke betrokke en dit kan duidelik in die Bokke verdediging gesien word.

 

Dit het Saterdag gelyk asof daar bloot geen huiswerk oor Ierland gedoen is nie en die Bokke kon ook nie op enige behoorlike wyse reageer op wat Ierland gedoen het nie (wat self ook nie skouspelagtig was nie). Die Bokke het net niks om te bied nie – selfs nie eens ten opsigte van hul tradisionele sterkpunte soos rolmaalbewegings en goeie vaste fasette nie. Dit kan vierkantig voor Coetzee se deur gelê word. Die land is moeg om te hoor hoe daar uit vernederende loesings geleer word en dat daar net vorentoe gekyk moet word. Die toekoms lyk net so bleek soos die hede en verlede.

 

Coetzee kan uiteraard nie langer as Bok-breier oorleef nie, maar daar is ook ander faktore wat 'n rol speel en wat sal veroorsaak dat die treurmare nogtans sal voortduur as hy weg is. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het die Bok-span in ekonomiese klas Europa toe laat vlieg om geld te bespaar. Dit het onvermydelik tot spierstyfheid en ander pyne bygedra en Coenie Oosthuizen se vroeë besering is net een gevolg daarvan.

 

Saru en die Suid-Afrikaanse regering se beheptheid met rasgedrewe transformasie het ook tot gevolg gehad dat 'n middelmatige afrigter soos Coetzee die Bok-afrigter geword het. Dit het ook daartoe gelei dat baie spelers bloot op grond van ras die span haal en ondanks uiters middelmatige spel steeds gekies word. Feitlik al die spelers lyk egter swak afgerig en gedemoraliseerd en dit spreek boekdele oor die invloed van die afrigter.

 

'n Hoofafrigter is van groot belang, want Australiese rugby is dalk in 'n dieper krisis as Suid-Afrika en hulle lewer ook nie veel goeie nuwe spelers op nie en verloor ook 'n klomp goeies. Michael Cheika het egter met sy geennonsens-benadering toegesien dat die Wallabies vanjaar een van die top-rugbyspanne is. Ierland het heelwat minder talent en gehaltespelers as Suid-Afrika, maar hulle het 'n uitgeslape afrigter in Joe Schmidt.

 

Daarbenewens mag spelers wat oorsee speel en minder as 30 toetse gespeel het, voortaan, ingevolge Saru se reëls, nie vir die Bokke speel nie. Dit is om die uittog van spelers na Europa en Japan te keer, maar jong spelers sien dit nie as 'n aansporing om te bly nie, want dit raak al hoe minder van 'n eer om vir die Bokke te speel en baie spelers weet dat hulle weens rassevereistes buitendien nie 'n kans gegun gaan word nie. Dit is hoekom Suid-Afrikaanse (en veral Afrikaanse) spelers toenemend begin opduik en uitblink in oorsese spanne. CJ Stander was Saterdag immers weer 'n doring in die Bokke se vlees.

 

Voorts het die wanbestuur van die Suid-Afrikaanse ekonomie tot gevolg gehad dat sowat 350 Springbokke en potensiële Springbokke oorsee speel. Hulle gaan nie maklik terugkeer nie, tensy die ekonomie en rand as geldeenheid aansienlik verbeter – en selfs dit lyk tans onwaarskynlik.

 

Die Springbokke, nes die ekonomie, se probleme is grootliks self geskep deur swak besluite. Coetzee en Malusi Gigaba, minister van finansies, is op soek na resultate wat hulle nie kan bereik nie, want hulle is op die totaal verkeerde spoor. Dinge sal grondliggend moet verander vir verbetering om te geskied, maar die vraag is of die wíl daarvoor bestaan. Kom ons hoop so.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close