Algemeen -

Kommentaar: Een staking gaan nie korrupsie stop

Cosatu vaar vandag die land se strate in om teen die “kanker van korrupsie” te staak. “Hierdie staking gaan daaroor om 'n boodskap uit te stuur na beide die regering en die private sektor dat ons moeg is vir korrupsie,” het Bheki Ntshalintshali, die vakverbond se hoofsekretaris, luidens Fin24 gesê. Ten minste 13 betogings gaan in die land se nege provinsies gehou word en betogers gaan hul stem dik maak teen korrupsie en selfs klagtes teen vermeende korrupte amptenare aanhangig maak. Cosatu geniet ook die steun van die SAKP, nog 'n alliansievennoot van die ANC, in vandag se protesaksie.

 

Die hele oefening is egter spesifiek gemik op pres. Jacob Zuma met die meer-as-implisiete boodskap dat Cosatu wil hê hy moet bedank. “Hy staan in die middel van hierdie korrupsie wat in die regering neerslag vind. Hy is die buffer, die vernaamste beskermer, die hoofverspreider en die persoon wat dit als moontlik maak,” aldus Solly Mapaila, die SAKP se adjunkhoofsekretaris. Mapaila se woorde is tekenend van hoe ver die intra-alliansie-eenheid sedert Zuma se verkiesing as ANC-president in 2007 afgeneem het. Die nimlike mense wat Zuma destyds so hartstogtelik en lojaal ondersteun het, hou nou optogte teen hom. Hulle is dus ook aandadig aan die gemors waarin die land hom nou bevind. Staatskaping en korrupsie het lank voor Zuma se ampstermyn wortelgeskiet, maar dit het nou net meer rugbaar geword en sekere belange begin bedreig – vandaar die skielike verontwaardiging in die drieparty-alliansie daaroor.

 

Daar moet ook in gedagte gehou word dat Cosatu besig is om lede te verloor en met 'n krimpende ledetal te kampe het. In 'n era van outomatisasie en die uitrangering van werk wat deur masjiene verrig kan word, raak Cosatu-lede se vaardighede uitgedien en werkers raak oorbodig. Meng die slakkepasgroei van die ekonomie, vakbonde en die drieparty-alliansie se swak beeld asook die onlangse resessie daarby in en jy het die perfekte resep vir die agteruitgang van 'n vakverbond soos Cosatu. Die swak ekonomie het baie van Cosatu se lede hul werk gekos en omdat indiensneming so traag is, staan dit in die pad van nuwe aansluitings. Polities het Cosatu al openlik hul steun aan adjunkpresident Cyril Ramaphosa toegesê om in Desember die volgende ANC-president te word en daarna ook dié van die land.

 

Die staking is dus enersyds waarskynlik 'n reklameveldtog om die sukkelende vakverbond aan die land en sy werkers te adverteer. Andersyds wil Cosatu wys hulle het steeds politieke gewig en hulle wil stukrag aan Ramaphosa se veldtog gee, terwyl hulle Zuma en sy voorkeuropvolger, dr. Nkosasana Dlamini-Zuma, op 'n skynbaar robuuste dog kortstondige manier wil ondermyn en hulself terselfdertyd as die voorste linie-kruisvaarders teen korrupsie wil uitbeeld.

 

Die staking op sigself is nie heeltemal 'n slegte idee nie en dit kom op 'n gepaste tyd. Die naweek se berigte wat dr. Dan Matjila, die uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), aanhaal oor sy teikening deur politieke hooggeplaastes omdat hy 'n SAL-versoek vir 'n lening afgekeur het, behoort almal in die land uiters onrustig te stem. Ons moet ons egter nie om die bos laat lei deur die gerusstelling wat hy en Malusi Gigaba, die minister van finansies, gister gegee het dat daar niks is om te vrees nie.

 

Matjila het die naweek se berig glo as “onsmaaklik en onakkuraat” bestempel. Hy het egter nie aangedui waarteen hy spesifiek in die Sunday Times-storie kapsie maak nie en het gesê hy sal vandag 'n verklaring uitreik. Of die koerant hom dus woordeliks verkeerd aangehaal het en die storie totaal verkeerd kon weergee en of Matjila onder politieke druk 'n ommekeer gemaak het, is iets wat dringend uitgeklaar moet word. Ons wag dus in spanning en hoop die waarheid sal uiteindelik seëvier. Maar Gigaba, die SAL en Matjila se teenstrydige praatjies en u-draaie hieroor kan logies nie saam sin maak nie. Al die gemoedelikheid en gerusstellings gister ten spyt, is hierdie beslis nie die laaste van hierdie sage nie.

 

Ewenwel, Cosatu en die SAKP het gerieflikheidshalwe op die teenkorrupsie-wa geklim met die Guptas en ook Zuma wat reeds op die agtervoet gedwing is deur druk van die publiek, opposisiepartye, die burgerlike samelewing en die media. Hulle ry dus 'n golf wat deur ander geskep is en nou wil hulle basies alleen 'n optog hou en ander tersaaklike rolspelers uitsluit. In April is daar ook landwyd protesoptogte gehou nadat Zuma sy kabinet die soveelste keer geskommel het en Pravin Gordhan met Gigaba vervang is. Dié protesaksie het nie veel van 'n impak gehad nie en was straks veel groter as wat Cosatu vir vandag beplan. Een dag van protes gaan bloot die ekonomie seermaak en is 'n goedkoop publisiteitsfoefie wat stellig Cosatu se onmag gaan blootlê.

 

Cosatu moet besef staatskaping, patronaatskap en korrupsie is veel groter as net Zuma en dat hulle nie die probleem gaan oplos deur voltyds met die ANC in vennootskap te wees en nou en dan 'n enkele simboliese optog teen korrupsie te hou nie. Hulle sal ook introspeksie moet hou en in eie geledere moet optree om op hierdie probleme in te gaan.

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close