Algemeen -

Kommentaar: Feilbare Grondwet kan Zuma nie keer

Pres. Jacob Zuma se soveelste kabinetskommeling sedert hy in 2009 die tuig opgeneem het, behoort ons eintlik nie meer te verbaas nie.

 

Ons moet eintlik verbaas wees dat mense nog hoegenaamd verbaas is oor Zuma se besluite. Hy het deur die jare al duidelik gewys dat hy sy opponente en vyande sal uitwerk en soms selfs nader sal hark terwyl hy weer lojaliste beloon indien sy politieke behoeftes dit noodsaak. Hy word deur staatskaping gelei en deur sy eie politieke oorlewing gedryf; dis so eenvoudig soos dit. Hoekom anders sou hy dan vir David Mhlobo en Ayanda Dlodlo weer skuif nadat hy hulle relatief onlangs in nuwe portefeuljes aangestel het? Of vir Blade Nzimande, wat vir ʼn kommunis ʼn taamlik billike stem in ʼn baie moeilike portefeulje was, afdank? Of ʼn groentjie soos Bongani Bongo aanstel?

 

ʼn Mens moet ook nie verbaas wees dat hy die kabinet juis nou weer geskommel het nie. En kort voor die ANC se leierskonferensie in Desember kan daar straks nog ʼn groter skommeling plaasvind om van sekere mense ontslae te raak en ander in te sluit. Maar meer as ʼn magsvertoon teenoor die mense in sy kabinet en ook die hele regering, wil hy sy swaard laat kletter jeens sy vyande in die topstrukture van die ANC. Hy wou nou vir sy ANC wys hy kan maak nes hy wil met die regering, want hy is die staatshoof en boonop ook partyleier. Die staat is immers waar politieke partye tot hul reg kom en hy het gewys hy is in beheer van beide party en staat.

 

Die markte het al gewoond geraak aan ʼn destruktiewe president en regering. Nogtans is daar ontleders, organisasies en meningsvormers wat pleit dat hierdie korrupte en desperate president (en terselfdertyd ook meesterstrateeg en -taktikus) tog net nie die regering moet destabiliseer nie en net reg moet optree. Hulle is uiters verontwaardig daaroor en ons moet dit sekerlik ook wees, want hy wil duidelik die kernkragtransaksie met die Russe deurvoer. Diegene wat egter gedink het die staatskapers is nou op die agtervoet moet helaas weer dink. Dit is beslis nie die eerste staatskapers wat hy aanstel nie. Die hele kabinet is deurtrek van hulle. Soos Beeld vandag op die voorblad uitbasuin: “Staatskaping leef!”

 

Een so ʼn voorbeeld is die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR), ʼn afdeling van die F.W. de Klerk Stigting, wat wel houe na Zuma uitdeel, maar spesifiek rasionele optrede deur die president bepleit. Daar moet in gedagte gehou word dat dit ʼn dinkskrum is wat bykans uitsluitlik daarop ingestel is om die Grondwet se deugde te besing en dit as onkreukbaar, die allerskans teen vergrype en waarlik oppermagtig voor te hou. Sulke idealisme is deugsaam, maar die feit is dat magspolitiek die septer swaai en dat die Grondwet aan Zuma die mag gee om hierdie soort skuiwe te maak.

 

Die sentrum is wel taamlik ewewigtig in hul reaksie deur te erken dat die president inderdaad breë magte het om besluite te neem, maar dan voer hulle aan dat dit wel “rasioneel” móét wees. Dit beteken volgens hulle – en volgens regspraak hieroor – nie dat ʼn besluit irrasioneel is bloot omdat daar ʼn ander manier is om iets te doen nie. Daar moet glo bloot ʼn logiese verband tussen die rede vir die besluit en die uitkoms of doel wees. Zuma se kabinetskommeling druis ook glo in teen sy grondwetlike mandaat om juiste regeringsbeginsels (wat dit ook al mag beteken) te eerbiedig.

 

Daar is egter niks in hul reaksie wat aandui dat die Grondwet Zuma uitdruklik verbied om te doen wat hy doen nie. En hoe bewys mens juridies dat daar nie ʼn rasionale verband tussen Zuma se jongste besluite en hul uitkomste is nie? Zuma kan bloot aanvoer dat mense wat geskuif is, nie die mas opgekom het in hul portefeuljes nie of beter iewers anders aangewend kan word. Trouens, die Grondwet gee hom die volste reg om die kabinet te skommel en nie redes daarvoor te gee nie. Die probleem lê duidelik eerstens by die Grondwet en niemand het Zuma se kabinetskuiwe nog ooit suksesvol in ʼn hof betwis nie – al die verontwaardiging ten spyt. Ons grondwetlike instellings waaroor daar so gereeld liries geraak word, is ook dermate gekompromitteer of wanfunksioneel (of albei) dat hulle nie die uitvoerende gesag behoorlik tot verantwoording kan roep nie. Hulle kry ook immers hul geld van die regering en uiteindelik die president af. Dit is iets wat treffend uitgelaat word in die SGR se reaksie.

 

Die SGR sluit sy kommentaar soos volg af: “It is vital that the nation’s best interests are placed ahead of narrow party-political interests.” Dit is ʼn edele versugting, maar een wat eerder hoop uitspreek as hoop skep. Insgelyks sal die aartsoptimis Max du Preez vanuit sy veilige vesting (en sy leunstoel) op die rustige Wes-Kaapse platteland waarskynlik weldra skryf dat adv. Shaun Abrahams nou moet opskud met Zuma se vervolging want die land kan hom net nie meer bekostig nie. Met ander woorde, die staat moet net hul werk begin doen en dan is ons gered. Nog ʼn vriend van die F.W. de Klerk Stigting en joernalis, Ferial Haffajee, skryf gister in Huffpost SA dat “Zuma has now gone rogue” en dat sy nuutste skuiwe nie logies of rasioneel is nie. Dit het al in der waarheid al lankal gebeur en dis verstommend dat sy dit nou eers sien en erken.

 

Wat Zuma egter verstaan (en Du Preez, Haffajee en kie klaarblyklik nié), is dat dit mag is wat tel en dat slegs ʼn gelykmatige magsteenreaksie dit sal stop – nie ʼn naïewe aandrang op verantwoordbare optrede deur Zuma, sy kornuite, die ANC of die staat nie. Dis hoekom die burgerlike samelewing ʼn onmisbare en onafhanklike skans is teen absolute dwingelandy.

 

Foto: SowetanLive

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close