Algemeen -

Kommentaar: Fikile gaan nie nou Valke kan omkeer

Hoewel Berning Ntlemeza se uittrede as hoof van die Valke verwelkom behoort te word, is sy vertrek eintlik net 'n sywaartse stap om hierdie organisasie reg te ruk. Nes etlike ander nasionale polisiekommissarisse en ook as’t ware ministers van polisie, was sy aanvanklike aanstelling in sonde gebore en polities van aard. Vervolgens eindig sulke aanstellings sonder uitsondering in skande en omstredenheid en iemand wat afgedank word – wat weer deur ewe omstrede en waarskynlik tydelike aanstellings gevolg word.

 

Maar Ntlemeza was boonop die hoof van 'n organisasie wat ook in politieke sonde gebore is. Huidige “ANC-afvalliges” soos Derek Hanekom het sowat tien jaar gelede juis saam met Zuma-gesindes gestem dat die Skerpioene met die Valke vervang moet word sodat daar met minder politieke vooroordeel jeens pres. Jacob Zuma opgetree kon word. Die heersende dogma binne die breë ANC destyds was dat die Skerpioene oudpres. Thabo Mbeki se vuilwerk gedoen het en dus vervang moes word. Maar anders as die Skerpioene is die Valke helaas onder die beheer van die polisie gebring en het daarmee feitlik alle onafhanklikheid ingeboet. Die harde syfers het daarna getoon hoe veral korrupsie-ondersoeke, wat een van die hoofpilare van hul mandaat is, skerp gedaal het.

 

Dit het als net die persepsie versterk dat die Valke geskep is om die nuwe heersende faksie in die ANC teen enige vervolging te beskerm. Mettertyd het dit ook duidelik geword dat die Valke, tesame met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), hul voete sleep met belangrike ondersoeke en vervolging ten aansien van staatskaping en die Gupta-familie terwyl hulle Zuma-opponente soos Pravin Gordhan met oorgawe ondersoek het.

 

Nadat Ntlemeza, wat volgens vele aanduidings 'n goeie vriend van die berugte Richard Mdluli is, in September 2015 as hoof van die Valke aangestel is deur middel van 'n baie twyfelagtige en ondeursigtige proses, het hy begin om allerlei polities gedienstige provinsiale hoofde aan te stel.

 

Ntlemeza is ook in 2014 as tydelike hoof van die Valke aangestel ná die dramatiese en omstrede afdanking van sy voorganger, Anwa Dramat. Die gewese minister van polisie, Nathi Nhleko (wat intussen in 'n kabinetskommeling in Maart vanjaar met Fikile Mbalula vervang is), het Dramat geskors oor sy beweerde aandeel in die uitlewering van Zimbabwiese vlugtelinge. Dramat het egter in hofstukke aangedui hy is geskors oor sekere hoëvlak-ondersoeke wat hy gelei het. Ntlemeza se aanstelling kon daarom, ten regte of onregte, slegs met geweldige argwaan bejeën word. Regter Elias Matojane het hom ook verlede jaar in die Pretoriase hooggeregshof as oneerlik, bevooroordeeld en eerloos bestempel en ook aangevoer dat hy valse stellings onder eed gemaak het. Nou is sy aanstelling die finale nekslag in die hof toegedien en Mbalula wil skielik met ‘n regruk-aksie begin.

 

Die Valke het nou weer 'n waarnemende hoof, lt.genl. Yolisa Matakata, terwyl die polisie sy hoeveelste waarnemende nasionale polisiekommissaris het. Daar is deur sommige die hoop uitgespreek dat die Valke hulself nou sal regruk indien die regte persoon aangestel word, maar met alle respek, dit is wensdenkery. Die Valke bly 'n Zuma-skepping met politieke doelwitte wat nie eerbaar is nie.

 

Dr. Johan Burger, polisiekenner, het juis aan Beeld gesê Ntlemeza se verwydering sal nie die diep verrotting in die polisie stopsit nie. Hy sê die minister sal diep moet sny om van Ntlemeza se onbekwame lojaliste ontslae te raak. Maar die vraag is met wie Mbalula hulle mee gaan vervang. Is die polisie nie al ver genoeg uitgehol dat meriete-aanstellings nie meer moontlik is nie? Sal die Zuma-regime werklik toelaat dat mense met genoeg onafhanklikheid om hulle te ondersoek, die huidige korps vervang? Mbalula is immers in Maart deur Zuma aangestel om 'n stokkie voor sulke gebeurlikhede te steek en die president staan tereg op honderde aanklagte van korrupsie.

 

In die hoogs onwaarskynlike scenario dat die Valke werklik hul verwagte rol begin vervul en polities onafhanklik optree, bestaan die dilemma steeds dat die NVG die mense moet vervolg wat deur die Valke ondersoek word. Die NVG is egter onder ferm politieke beheer van Jacob Zuma – nes die polisie. Dit gaan daarom nie help om te dink dat 'n Zuma-minister die Valke of polisie nou gaan red deur huis skoon te maak nie. Inteendeel, die plaasvervangers gaan bloot dieselfde probleme oplewer as die huidige korps omdat die politieke doelwitte en magsverhoudinge dieselfde bly.

 

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close