Algemeen -

Kommentaar: Hlaudi vir president? Behoed ons!

Hlaudi Motsoeneng is een van die mees opspraakwekkende polemiste van ons tyd. Die opslae wat hy maak, sou ʼn mens gewoonlik van ʼn president of minister verwag, maar getrou aan die aard van ʼn korporatiewe diktator met grootheidswaan het hy dit reggekry om as (nou voormalige) bedryfshoof van die SAUK ongekende vrees in te boesem en meer gereeld as sy politieke meesters negatiewe opskrifte en berigte te haal.

 

Hy is vroeër vandeesmaand afgedank nadat hy tydens ʼn tugverhoor daaraan skuldig bevind is dat hy die SAUK se naam in oneer gebring het toe hy in April ʼn ongemagtigde mediakonferensie gehou het. Dié konferensie het ten doel gehad om sy beleid van “90% plaaslike inhoud” te verdedig, maar hy het nie oor die gesag beskik om só ʼn konferensie te hou nie, aldus die tussentydse raad. Die beleid het die openbare uitsaaier glo R200 miljoen aan advertensie-inkomste gekos.

 

Moet ook nie vergeet dat hy boonop oor sy matrieksertifikaat gelieg het nie. En so kan ʼn mens aangaan: dat hy joernaliste laat intimideer en agtervolg het toe hulle nie sy beleid wou toepas om nie gewelddadige betogings uit te saai nie; sy patologiese narcisme en gewoonte om na homself in die derde persoon te verwys nie; die feit dat hy “verheug” was dat die SAUK in die laaste finansiële jaar R411 miljoen verloor het – want die uitsaaier is mos nie veronderstel om wins te maak nie. Dit is R16 miljoen meer as in die vorige finansiële jaar. Hou ook in gedagte dat hy sy salaris eksponensieel en eensydig laat verhoog het terwyl die SAUK honderde miljoene rande se verliese gely het en dat hy R11 miljoen ontvang het as ʼn onregmatige bonus vir sy aandeel in ʼn ooreenkoms met MultiChoice. Daar is eerlikwaar net te veel onreëlmatighede om in die bestek van hierdie nuuskommentaar op te noem.

 

Volgens Khanyisile Kweyama, voorsitter van die SAUK se tussentydse raad, gaan Motsoeneng geen goue handdruk ontvang nie. Sy regsverteenwoordigers het reeds aangedui dat hy teen sy afdanking gaan appelleer, maar hulle het hom aangeraai om dit uit die openbare oog te hou. Dit gaan egter moeilik wees om te doen.

 

Eerstens hou die media sy doen en late met valkoë dop oor wie hy is en omdat Motsoeneng deel is van ʼn breë netwerk van staatskapingsagente in die staatsdiens.

 

Tweedens is dit moeilik vir Motsoeneng om oor enigiets stil te bly en ʼn geleentheid om sy beuel te blaas en sy ambisies luidkeels te verkondig by hom te laat verbygaan. Soos ander staatsamptenare en politici (waarvan Zuma as sy politieke meester geen uitsondering is nie), hou hy daarvan om sy goddelike reg tot mag en status oor en oor te herhaal.

 

Hy het gister by ʼn kerkdiens in Katlehong, oos van Johannesburg, gesê mense moet bid dat hy president van Suid-Afrika word. “Aan diegene wat bekommerd is oor Hlaudi, weet net dat my toekoms blink lyk. As julle bid, bid dat ek die land regeer. Julle moet bid dat ek die president van die land word, want dan gaan julle ʼn ander land sien,” het hy volgens IOL en Sunday Times gesê. “Baie mense sê dis die einde van Hlaudi. Dit is eintlik die begin van ʼn beter reis vir Hlaudi.”

 

En dan word die slagofferkaart met oorgawe en terselfdertyd ook met groot hubris gespeel: “Almal wat die land wil verander is onder beleg. Ek is een van hulle. Ek het in die straat grootgeword. Ek het honger gely, maar ek het geweet ek is anders omdat God by my is. Ek het vir reën gebid tydens die droogte en die volgende dag het dit gereën. Ek het gebid dat die tropiese sikloon Dineo nie skade sal aanrig nie en dit het gestop.”

 

Dit herinner mens aan Zuma se uitlatings dat die ANC sal regeer totdat Jesus terugkom, of dat God mense sal seën wat geldelik tot die ANC bydra. Daar is ʼn lang lys van sulke uitsprake. Die onrusbarende deel is dat indien Zuma, wat uit soortgelyke omstandighede as Motsoeneng president geword het, dit kon regkry om so ʼn amp te beklee, dit sekerlik ook binne Motsoeneng se bereik is. Hy is immers nie sleg geposisioneer om dit te doen nie. Maar dit sal waarskynlik nog ʼn groter ramp wees as Zuma se bewind. As die SAUK as verwysing moet dien, sal Motsoeneng as president die ANC en die staatsdiens van alle kritici suiwer en lojaliste oral aanstel. Hy sal die media en ander teenstanders intimideer en muilband. “Verinheemsing,” in die vorm van swart ekonomiese bemagtiging, sal tot die volgende rat oorgaan terwyl meriete totaal irrelevant sal word. Die land sal beslis bankort wees.

 

Kortom, ʼn pres. Hlaudi Motsoeneng is deel van ʼn politieke en staatsdienselite vir wie meriete niks tel nie en wat op eenvoudige mense met hul skynheiligheid en selfopgelegde vergoddeliking teer. Hulle beskou hulself as gode eerder as dienaars en verwoes in die proses als waaraan hulle raak. Hulle is ʼn vloek op hierdie land en daar moet eenvoudig van hulle ontslae geraak word.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close