Algemeen -

Kommentaar: Hoër misdaad teken van groter verval

Deesdae moet die polisie se statistieke met groot argwaan bejeën word.

 

Die uittredende statistikus-generaal, Pali Lehohla, het reeds aan die begin van die jaar gewaarsku dat die polisie se syfers geensins vertrou kan word nie en dat dit nie naastenby die volle omvang van die probleem skets nie. Statistieke en data kan immers vir politieke doeleindes gemanipuleer word en dit is iets waaroor Lehohla sy groot kommer die afgelope week uitgespreek het. Die polisie se syfers is ook al redelik verouderd teen die tyd wat dit uitgereik word en dit belemmer doeltreffende optrede.

 

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en ander organisasies het ook al hul bedenkings hieroor uitgespreek en daarom is goeie, onafhanklike misdaadstatistieke van enorme belang in die Suid-Afrika van vandag.

 

Afgesien daarvan dat die polisie nie die statistieke ordentlik kan en wil byhou nie, weerspieël die uiteindelike misdaadsyfers in feitlik alle kategorieë nie alle gepleegde misdade nie omdat baie misdade bloot nie aangemeld word nie. Die rede hiervoor is dat die publiek basies vertroue in die polisie verloor het. Dan is dit ook so dat baie van die misdade deur polisielede self gepleeg word en in sulke gevalle is die slagoffers bang vir vergelding.

 

Ewenwel, selfs met hierdie voorbehoude in gedagte, is die nuutste misdaadsyfers onrusbarend. Bykans 20 000 mense is in die laaste boekjaar (2016-’17) vermoor en daar was 'n 1,8%-styging (oftewel 1 000 moorde) teenoor die vorige boekjaar. Suid-Afrikaners het nou 'n 13% groter kans om vermoor te word as vyf jaar gelede.

 

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het in reaksie op die nuutste syfers daarop gewys dat die moordkoers per 100 000 mense tussen 1996 en 2012 van 68 na 31 afgeneem het. Daarna het dit toegeneem tot die nuutste syfer van 34 per 100 000. Dit het dus effens gestyg en het dus op 'n hoë vlak gestabiliseer. Dit is egter nie die hoogste ter wêreld nie. Venezuela se moordkoers is sowat 58 per 100 000 en in Honduras is dit 63, maar in Afrika staan Suid-Afrika se syfer opvallend uit. Selfs Suid-Soedan, wat al vir vier jaar onder 'n burgeroorlog gebuk gaan en waar twee miljoen mense ontwortel is, se moordkoers is 13, luidens die VN se dwelm- en misdaadkantoor (UNODC). Die wêreldgemiddelde is 6 per 100 000.

 

Ander statistieke wat bekendgemaak is, sluit in dié vir roof met verswarende omstandighede wat met 6% gestyg het; voertuigkapings en huis- en sakerooftogte wat 'n gesamentlike kategorie met 8,4% gestyg het; en transitorooftogte wat met 10,9% gestyg het. Gauteng loop besonder erg deur. Daar was 8 610 meer voertuigkapings, 8 731 meer huisrooftogte en 7 187 meer sakerooftogte in 2016-’17 as in die vorige boekjaar in dié provinsie.

 

Plaasmoorde blyk ook 'n groot probleem te wees en is 'n misdaad waaroor die polisie nie ordentlik wil verslag doen nie en waaraan hulle nie veel wil doen nie. Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, beloop plaasaanvalle en -moorde vanjaar aansienlik meer as verlede jaar (inligting wat voorlopig deur TLU SA bevestig is). Op die huidige trajek geneem, gaan hierdie soort aanvalle en moorde in 2017 dié van 'n bloedige 2016 maklik oortref. Tussen 2012 en 2016 was daar 'n 112%-toename in aanvalle en 'n 33%-toename in moorde op plase.

 

Natuurlik was daar wel 'n afname in sekere misdade (soos aanranding en seksuele misdrywe), maar die belangrikste gevolgtrekking wat uit die nuutste statistieke gemaak kan word, is dat selfs die polisie se onbetroubare gegewens daarop dui dat sekere belangrike misdade op die kort en langer termyn wel aan die toeneem is. In sommige gevalle is die stygings betreklik groot en die kommerwekkende feit is dat dit nie afneem nie.

 

Wat selfs meer kwellend as die statistieke self is, is die redes vir hierdie verslegtende situasie. Dit is kompleks, maar 'n paar prominente faktore kan wel uitgelig word. Eerstens is daar 'n leierskapsvakuum in die regering en die voorbeeld wat deur ons hoogste potentate gestel word, dra – om die minste te sê – 'n houding van ongeërgdheid oor wetteloosheid oor.

 

Indien die president ooglopend korrup en bandeloos optree, hoekom sal die mense in die land dan enigsins voel dat hulle eerlik, reg en moreel moet optree? Indien miljoene rande by staatsondernemings, munisipaliteite en provinsiale regerings gesteel word, hoekom sal rowers dan voel hulle mag nie 'n winkel of transitovoertuig beroof nie? In hul oë (en ook objektief gesproke) is daar immers nie 'n verskil nie.

 

Daar is ook 'n waarskynlike verband tussen die ekonomiese malaise in Venezuela en hul moordkoers.

 

Tweedens word die land en die ekonomie ook swak bestuur. Die ekonomie groei teen 'n sleurgang wat 'n voor die hand liggende uitwerking op werkskepping het. Indien die armes en misdadigers sien dat slegs die politici werk het terwyl hulle moet sukkel en honger ly, is misdaad 'n logiese volgende stap vir hulle.

 

Dit verklaar egter nie die toename in geweldsmisdaad ten volle nie. Natuurlik sal sommige slagoffers hulle tydens 'n inbraak teësit en dit kan tot geweld lei wat andersins nie sou gebeur nie, maar dit bied ook net 'n gedeeltelike verklaring hiervoor. Die toename in geweldsmisdaad getuig eerder van 'n moedeloosheid en wanhoop onder die bevolking en kan ook toegeskryf word aan rassehaat wat deur veral politici aangeblaas word. Wanhoop stomp mense se emosies af en maak dat hulle hul pyn ekstern in die vorm van geweld projekteer. Dit is 'n voldonge feit dat die meeste moorde in gebiede waar slegte sosio-ekonomiese omstandighede heers, gepleeg word en daarom is die meeste moord- en aanrandingslagoffers swart of bruin. Slagoffers ken dan ook waarskynlik die oortreder – dit is 'n baie ontstellende verskynsel, maar een wat die “wanhoop”-teorie onteenseglik bewys.

 

Laastens verkeer die polisie al vir 'n geruime tyd in 'n warboel. Fikile Mbalula was nog nooit 'n tegnokraat nie en is 'n ontplooide Zuma-kornuit wat hopeloos te min van sy huidige portefeulje weet. Die land strompel voort van die een waarnemende nasionale polisiekommissaris na die volgende. Behoudens die polisie se lae moraal en swak kapasiteit, is die organisasie deurtrek van korrupsie en vol met polisielid-misdadigers. Misdadigers het eenvoudig geen rede om so 'n organisasie te vrees nie.

 

Nes die Springbokke se spelpeil 'n aanduiding is van groter probleme in die land, so is misdaadsyfers ook.

 

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close