Algemeen -

Kommentaar: Indeks duidelik oor SA se kreeftegang

Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se Globale Mededingendheidsindeks 2017-’18 skets op 'n strak en datasentriese manier hoe ver Suid-Afrika oor die laaste jaar geval het en hoe diep verrotting, in veral die land se politiek, strek. Kortom, die indeks meet oorhoofs, lande se vermoë om hoë vlakke van voorspoed, oftewel welvaart, aan hul burgers te lewer.

 

Daar moet in gedagte gehou word dat die indeks grootliks saamgestel word uit 'n peiling onder sakeleiers in die onderskeie lande. Maar, rofweg 'n derde van die inligting word vanaf ander gesaghebbende bronne, soos Transparency International en die Verenigde Nasies, verkry. Dié meningspeiling word dus gekontroleer vir 'n oorreaksie en uitermatige pessimisme of optimisme onder sakeleiers. Dit is egter ook belangrik om te weet wat die sakesektor, wat basies een van die hoofpilare van ekonomiese aktiwiteite in 'n land is, dink oor talle faktore wat in hul lande vaardig is. Hulle moet immers daar sake doen, handel dryf, uitbrei of afskaal, risiko’s waag en werk skep. Hulle is in die algemeen ook beter ingelig oor saketoestande in die land as Jan Publiek en hul aksies volg gewoonlik hul menings – en hul menings en optrede weeg wel swaar. Verder is dit uit ander plaaslike peilings duidelik dat sakevertroue beslis laag is en baie van hierdie indeks se bevindinge strook met ander internasionale indekse se bevindinge oor Suid-Afrika.

 

Eerstens moet daar genoem word dat Suid-Afrika 'n allemintige 14 plekke (vanaf 47ste na 61ste uit 137 lande) op die ranglys sedert verlede jaar geval het. Ons is darem steeds in die “beter helfte” van die indeks, maar ons is besig om vinnig te val en nie meer in die top-50 nie. Ons het darem beter as Botswana in Afrika gevaar, maar Rwanda is byvoorbeeld 58ste.

 

Die verslag se opsomming oor Suid-Afrika skets 'n uiters sombere prentjie van agteruitgang, maar gelukkig nie een van totale verval en rampspoed nie. Dit bly een van die mees innoverende lande in Afrika, maar dis een van die min goed waaroor die verslag werklik positief is. Dit bekla die feit dat die ekonomie feitlik stagnant is en die werkloosheidskoers so hoog en steeds stygend is.

 

Die opsomming sluit ook met hierdie kerngedagte af: “Political uncertainty in 2017 has decreased the confidence of South African business leaders: although still relatively good in the African context, the country’s institutional environment (76th), financial markets (44th), and goods market efficiency (54th) are all rated as weaker than last year.” Dus, die aspekte waarmee ons nog altyd betreklik goed gevaar het en waarvoor Suid-Afrika so hoog internasionaal aangeslaan word (soos die finansiële sektor en handelsomgewing), toon ook nou tekens van groot verval. Terwyl ons in verlede jaar se indeks eerste plek behaal het met betrekking tot oudit- en verslagdoeningstandaarde, is ons nou in die 30ste plek. Vir die doeltreffendheid van korporatiewe bestuur, het ons in 'n jaar van die 3de tot 34ste plek geval. In terme van firmas se vlak van etiese standaarde, het ons van 36ste tot 72ste geval. Suid-Afrika het ook in terme van finansiëlemark-ontwikkeling (wat byvoorbeeld die juistheid van banke en die wetlike raamwerk wat op die finansiële sektor van toepassing is, meet), van 11de tot die 44ste plek gedaal.

 

Mens hoef seker nie verder as die hele debakel rondom KPMG se geheul met die Guptas en hul onetiese optrede met oudits, asook die regering en ANC se boelie van banke deur middel van knellende wetgewing, te kyk om hierdie kreeftegang te verklaar nie.

 

Tewens, wat die toereikendheid van allerlei infrastruktuur (byvoorbeeld vervoer en elektries) betref, het ons wel van 64ste tot 61ste verbeter – wat bemoedigend is. Die land het ook verbeter wat gesondheid en primêre onderrig betref, maar ons bly droewig laag in die 121ste plek. Suid-Afrika se posisie wat arbeidsmark-doeltreffendheid betref, het tussen verlede jaar en vanjaar onveranderd op 97ste gebly – wat ook uiters swak is en dit sal moet verbeter vir indiensneming om vordering te maak.

 

'n Skans teen oordrewe swartgalligheid – en 'n klinkklare teken van die realisme van die indeks – is Suid-Afrika se algehele 39ste plek wat innovasie betref en sy 37ste posisie ten aansien van besigheidsofistikasie. Op albei het die land effens tussen laas jaar en nou geval, maar dit bly goed. Die land het ook 'n paar plekke ten opsigte van tegnologiese gereedheid geval, maar bly darem in die skaflike 54ste posisie.

 

Die mees problematiese faktor om sake in die land te doen, is korrupsie. Tweedens is dit misdaad en diefstal, dan regeringsonbestendigheid, gevolg deur die swaar belastingkoers en ondoeltreffende regeringsburokrasie. Daar is nog 'n rits ander faktore, maar die voorstes dui reeds op die staat en regerende party wat regstreeks tot die belemmering van besigheid bydra (deur byvoorbeeld te hoë belastings te hef en kabinette wat gereeld en roekeloos geskommel word), of deur blote pligsversuim (deur byvoorbeeld nie misdaad doeltreffend hok te slaan nie en nie onbevoegde en korrupte amptenare af te dank nie). Wat korrupsie betref, het Suid-Afrika ook 'n stewige nege plekke vanaf 'n reeds betreurenswaardige 96ste plek tot 109de gedaal ten opsigte van die wegkering van openbare fondse vanaf hul bestemde doel. Die openbare vertroue in politici het ook in 'n jaar se tyd met vyf plekke van die 109de tot 114de plek geval. Daarbenewens het die land van die 53ste plek tot 91ste geval wat die betaling van onreëlmatige betalings en omkoopgeld betref.

 

Hierdie indeks dui aan dat hoewel sekere aspekte van die land, veral innovasie en die stand van tegnologiese gereedheid in die private sektor, darem nog stand hou, toon dit algaande effense agteruitgang. Selfs fasette soos die finansiële sektor, wat as 'n pilaar van trots beskou kan word, toon egter 'n onthutsende agteruitgang, terwyl probleme in die arbeidsmark en “bekende” uitdagings soos korrupsie, swak skole en 'n ondoeltreffende staat geen verbetering toon nie en ook versleg. Die staat en politici het 'n regstreekse of indirekte aandeel in al hierdie treurmares en kreeftegang. Dit is hoekom dit belangrik is dat daar met oorgawe aan allerlei burgerlike oplossings gewerk moet word, want die regering is eenvoudig nie in staat of gewillig om dit te doen nie.

 

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close