Algemeen -

Kommentaar: Jacaranda moet oor Tumi-rassisme sê

Dit blyk nou dat Jacaranda 94.2 in dieselfde jaar in dieselfde strik as Spur gaan trap eerder as om uit Spur se foute en uiteindelike pyn te leer.

 

Dit gaan nie hier daaroor dat Tumi Morake nie gekwalifiseerd is vir die werk as omroeper nie. Luidens haar webwerf het sy al 'n string toekennings vir haar werk as komediant verwerf en het sy ruim ervaring in die mediawêreld, maar niemand lag oor haar nydige en rassistiese aanmerkings oor wit mense op Jacaranda FM nie. Die meeste mense luister na die stasie vir die lekker musiek wat dit bied en om op die hoogte van die nuus te bly en nie om voor gepreek te word oor apartheid of om politieke kommentaar aan te hoor nie. Dit is immers 'n “ligte” stasie wat mense van hul sorge moet laat vergeet en is dus een wat liewer van ernstige onderwerpe moet wegbly.

 

Om 'n komediant met min grondige politieke kennis behalwe die struggle-byltjie wat sy wil kap, te laat uitvaar oor 'n sensitiewe onderwerp en boonop 'n rasseherrie daardeur te ontketen, moet uiteindelik voor die stasie se deur gelê word. Sulke amateuragtige joernalistiek is onverskoonbaar. Punt.

 

Sy weet klaarblyklik nie eens wie na Jacaranda luister nie of gee bloot nie om nie. Sy het eenvoudig voortgegaan asof sy haar geselsprogramme op die ewe rasbehepte en anti-wit SAUK uitsaai. Wit mense is met reg verontwaardig en iewers by Jacaranda ontbreek 'n aanvoeling vir wat die luisteraars wil hê.

 

Daar is niks mee verkeerd om pro-swart te wees nie. Baie mense en organisasies in die land is pro-wit, pro-bruin, pro-Indiër of pro-Chinees sonder om mense van ander rasse in die beskuldigdebank te plaas en af te kraak. Morake het egter gekies om rasse teen mekaar op te stel en om haar pro-swart seepkis by Jacaranda daarvoor te misbruik. Om kollektiewe skuld aan 'n groep op te lê is een van die mees weersinwekkende tendense ter wêreld. Dit bring mee dat 'n 14-jarige skoolkind vandag die blaam moet dra en straf moet uitdien vir wat sy of haar grootouers dalk 60 jaar gelede gedoen het – en húlle was waarskynlik nie eens regstreeks by apartheid betrokke nie.

 

Sowel Jacaranda as Morake sal haar anti-wit rassisme moet verduidelik en op die oomblik is hulle besig om net 'n dieper gat vir hulself te grawe. Dit is nie dat omstredenheid verbode is op Jacaranda nie – Rian van Heerden het Christene dikwels die harnas ingejaag en die ooms en tannies aan hul oggendkoffie laat verstik, maar dit was tong-in-kies gedoen en sonder kwaadwilligheid. By Morake is daar 'n nydigheid en rassisme te bespeur. As komediant moet sy die draak probeer steek met almal in die land, of dit nou wit mense of Julius Malema is, om só Suid-Afrikaners vir hulself te laat lag. Toe val sy egter net wit mense aan en ignoreer die haatspraak deur swart rassiste heeltemal, wat eintlik ook net haar eie rassisme blootlê. Selfs Malema was meer goedgunstig en versoenend toe die nimlike Van Heerden hom 'n ruk gelede as 'n gas op die program gehad het.

 

Morake kan dalk nog tot 'n mate verskoon word omdat dit is wie sy is en sy net die platform wat tot haar beskikking was, misbruik het, maar Jacaranda sal haar rassisme moet verduidelik omdat hulle swak oordeel aan die dag gelê het om haar aan te stel en deur nie haar rassisme te verdoem nie. Nadat Jacaranda aanvanklik nie die gewraakte opname wou beskikbaar stel of weer wou uitsaai nie, het hulle dit vanoggend toe wel weer gespeel en op hul Facebook-blad geplaas. Netwerk24 berig egter die stasie wou steeds nie die opname aan hulle beskikbaar stel nie en dat Morake nie kommentaar gaan lewer nie. Hoekom wil sy dan nie nou haar sienings verder verduidelik nie? Is sy en die stasie bang joernaliste gaan haar 'n paar strikvrae vra?

 

Toe reik Jacaranda ook nog hierdie dwalende, niksseggende, teenstrydige en boonop Spur-agtige verklaring uit wat nie eens werklik Morake se spesifieke wandade onder die loep neem nie: “Ons saai inhoud uit om belangrike en betekenisvolle gesprek aan te moedig ter wille van nasiebou. Ons glo dat hierdie noodsaaklike gesprekke 'n belangrike rol in die samelewing speel.” Weet Jacaranda ooit wat nasiebou regtig beteken en behels, of praat hulle net die regering in die verband na? Het haar opmerkings nasiebou bevorder? Het Jacaranda werklik genoeg balans by sulke omstrede gesprekke ingebring? Bied die sogenaamde belangrikheid van sulke gesprekke 'n verskoning vir haar rassisme? Het Jacaranda haar blatante rassisme enigsins probeer veroordeel?

 

Dit is belangrike vrae waarop daar nie bemoedigende antwoorde in hierdie verklaring te bespeur is nie. Die omstrede mediapersoonlikheid, Gareth Cliff, is by M-Net afgedank vir 'n veel geringer aangeleentheid. Einste Jacaranda het Darren Scott se bedanking wat hy na aanleiding van sy rassisme aangebied het, aanvaar en het hulself daarvan gedistansieer. Niks minder nie as Tumi Morake se afdanking, of die aanvaarding van haar bedanking, asook 'n onomwonde veroordeling van haar optrede sal nou deug. Die bal is in húl hande.

 

Foto: TimesLive

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close