Algemeen -

Kommentaar: Kan Mugabe selfde pad as Mladic loop?

Kort op die hakke van die nuus dat Robert Mugabe ná 37 jaar as president van Zimbabwe bedank het, kom die nuus uit die ander kant van die wêreld dat Ratko Mladic lewenslange gevangenisstraf opgelê is. Mladic is weliswaar nie so bekend soos Mugabe nie, maar dié twee is beslis ewe berug.

 

Mladic staan bekend as die “Slagter van Bosnië” en sy straf hou verband met sy aandeel in die Bosniese burgeroorlog tussen 1992 en 1996. Hy was 'n Serwiese weermagbevelvoerder wat verantwoordelik was vir die drie jaar lange beleg van Sarajewo, wat 7 000 lewens geëis het, en ook die Srebrenica-slagting in 1995 toe meer as 7 000 Bosniese mans en seuns voor die voet vermoor en hul lyke in massagrafte gegooi is.

 

Hy is ná 'n betreklik lang verhoor deur die Verenigde Nasies se oorlogstribunaal vir die destydse Joego-Slawië in Den Haag gevonnis.

 

'n Vergelyking met Mugabe is instruktief. Ná 'n aanvanklike wittebrood-tydperk en 'n toenadering vis-à-vis die wit mense, het Mugabe se onverdraagsaamheid gou begin wys. Een van sy heel eerste teikens was sy swart opponente en meer spesifiek die Ndebele-minderheid. Dit het aanleiding gegee tot die Gukurahundi-veldtog (losweg vertaal as “die wegvee van die gemors”) in 1983 en 1984 in Matabeleland toe die Zimbabwiese weermag Ndebele-burgerlikes vermoor het. Die syfer waarop die dodetal geraam word, wissel maar word konserwatief op 8 000 bereken en die Internasionale Vereniging van Volksmoord-vakkundiges het dit in 2005 op 20 000 in 'n eenparig aanvaarde resolusie geraam.

 

Dit is afgesien van al die mense wat intussen gemartel is en gesterf het weens Mugabe en Zanu-PF se bewind. Hy het homself al trots met Adolf Hitler vergelyk: “If that is Hitler, then let me be a Hitler ten-fold. Ten times. That is what we stand for,” het hy eenkeer opgemerk.

 

Die omvang van die sterftes weens albei hierdie mans se optrede is buitensporig en toon ooreenkomste, maar daar is ook wesenlike verskille tussen die twee gevalle. Die Serwiese owerhede het Mladic in 2011 gevange geneem en uitgelewer om tereg te staan. Hy was vir 15 jaar ná die oorlog op vrye voet en daar is geglo die Serwiese owerhede het hom beskerm. Hoe dit ook al sy, die besluit om hom te vang en uit te lewer, is volgens alle aanduidings gemotiveer deur Serwië se gretigheid om by die Europese Unie (EU) aan te sluit. Serwië is egter steeds nie 'n EU-lidland nie – en dit is aanduidend van die hoë standaarde wat daar in Europa ten opsigte van goeie internasionale gedrag gestel word. Dit wys hulle is bereid om soveel moontlik te doen om te bewys dat hulle goeie norme en hoë standaarde nastreef en nie oorlogsmisdadigers en misdadigers in hul midde duld nie – al is Mladic eintlik steeds baie gewild onder die Serwiese publiek.

 

In Mugabe se geval het hy ten aanskoue van die hele wêreld immuniteit teen enige vervolging en amptelike beskerming in Zimbabwe ontvang as deel van 'n ooreenkoms om hom te laat bedank. Afrika-leiers is skynbaar baie meer oorbluf, ontstig, skaam-kwaad of neutraal oor sy verlore mag as wat hulle – soos die publiek in Zimbabwe – opgewonde is oor 'n nuwe era vir Zimbabwe ná sy katastrofale bewind. 'n Baie neutrale verklaring is ook deur die voorsitter van die Afrika-Unie, Moussa Faki Mahamat, oor die situasie in Zimbabwe uitgereik. Daarin word slegs gevra dat dit besleg word deur demokrasie en menseregte te bevorder en dat die Zimbabwiese grondwet en ander kontinentale regsinstrumente gehoorsaam word. Dit is basies die enigste verwysing na menseregte betreffende Zimbabwe wat al ooit vanaf die AU verkry is – en dit is boonop 'n hoogs teleurstellende een.

 

Daar is duidelik wesenlike verskille, selfs lynregte teenstrydighede, tussen hoe Afrika en Europa sake benader. Geregtigheid is beslis een daarvan. Terwyl die EU hoë eise betreffende lidmaatskap stel, is al 55 Afrikastate outomaties deel van die AU uit hoofde van hul gedekoloniseerde status en hulle hoef in praktyk nie aan enige norme en standaarde oor goeie regering en menseregte te voldoen nie (al word daar telkens lippediens daaraan bewys). Terwyl Afrikastaatshoofde saamtrek om bloot seremoniële pligte tydens AU-berade uit te voer en dit boonop op die Suid-Afrikaanse belastingbetaler se rekening te doen, ly hul bevolkings allerlei foltering sonder dat die AU ooit beslissend teen oortreders optree.

 

As Mugabe se uiters gevorderde ouderdom ook in ag geneem word, is die kanse buitendien skraal dat hy ooit à la Mladic verhoor en gevonnis sal word. Maar die les van Mugabe sal waarskynlik nie nou in Afrika geleer word soos in Europa ná dié se verwoestende oorloë in die 20ste eeu nie. En dit sal stukrag aan jonger Mugabe’s in Afrika gee om bloot sy voorbeeld na te boots. Die behandeling van Zimbabwe se nuwe president, Emmerson Mnangagwa, wat 'n sentrale rol in die Gukurahundi-veldtog en ander vergrype gespeel het, sal dit waarskynlik bewys.

 

  • 244
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close