Algemeen -

Kommentaar: Kernkrag? Wat van munisipale krisis!

Dit lyk al hoe meer waarskynlik dat pres. Jacob Zuma sy über-lojalis David Mahlobo as minister van energie aangestel het om die kernkragooreenkoms met Rusland te help te laat gebeur voordat Zuma die tuig uiteindelik en hopelik neerlê (waarna hy straks steeds 'n rol sal wil speel om die toutjies te trek). Zwelinzima Vavi, nog 'n slagoffer van Zuma se politieke skoonmaakproses in die drievoudige alliansie, en ander met intieme kennis van Zuma se modus operandi, het dadelik daarop gesinspeel nadat die president eergister die kabinet geskommel het.

 

Mahlobo het immers onlangs 'n reis na Rusland onderneem en dit was beslis nie om Russiese strande te besoek nie. Hy was ongetwyfeld daar om voorbrand te maak daarvoor dat die ooreenkoms gefinaliseer word en sy nuutste aanstelling is 'n klinkklare aanduiding daarvan. Volgens Liz McDaid van die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei) lei dit geen twyfel nie dat dit die rede agter die nuutste skuif is. “Hierdie aanstelling is nie onlangs uitgedink nie. Dit is 'n voor die hand liggende poging om hierdie kernkragooreenkoms in die toekoms te laat verwesenlik,” het sy aan News24 gesê.

 

Volgens News24 is die regering al sedert 2014 besig om die R74 miljard-ooreenkoms deurgevoer te kry nadat Zuma en pres. Wladimir Poetin daardie jaar beraadslaag het. Safcei en Earthlife het in April vanjaar die regering se kernkragplanne in die Wes-Kaapse hooggeregshof gestuit. Regter Lee Bozalek het die staat se ooreenkomste met verskafferlande – soos Rusland, Amerika en Suid-Korea – as “ongrondwetlik” en “onwettig” bestempel en dit tersyde gestel.

 

Selfs Eskom se voormalige groephoof, Brian Dames, het in sy getuienis gister voor die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, wat ondersoek doen na staatskaping by Eskom, Transnet en Denel, gesê Suid-Afrika benodig nie 'n kernkragbouprogram nie en kan dit bloot nie bekostig nie. Volgens hom was hy 'n dekade gelede persoonlik verantwoordelik vir kernkragverkryging vir die land en Eskom. “Nadat ons die krisis gesien het, het ons aanbeveel dat ons nie daarmee voortgaan nie,” het hy gemaan. Die kernkragtransaksie is ook met mening nagejaag nadat Dames by Eskom weg is en die stoere Zuma-lojalis, Brian Molefe, as groephoof oorgeneem het.

 

Mahlobo het aan Talk Radio 702 gesê hy het met Zuma vergader ná sy aanstelling en die president het sy mandaat baie duidelik aan hom gestel. “Een van die dinge wat ons moet doen, is om te verseker dat daar energie-sekuriteit in die land is en dat dit volhoubaar is,” het hy gesê. Alle kenners en vernaamlik die howe beskou die transaksie dus as verdag, onwettig, ongrondwetlik en onbekostigbaar – net nie die regering nie. Hulle wil daarmee voortgaan in weerwil daarvan dat veiliger, makliker en goedkoper energie-alternatiewe bestaan – soos om die vrye mark en private kragverskaffers toe laat om elektrisiteit aan die land te voorsien – maar dit is polities nie vir ons korrupte en magsbeluste potentate aanvaarbaar nie.

 

Eskom het hom goed van sy taak gekwyt om krag te voorsien in 'n tyd wat die ekonomiese groei baie traag is en die noodsaak vir beurtkrag het baie afgeneem. Die kragverskaffer is egter klaarblyklik weer in die knyp te oordeel aan die reuse-kragtariefverhogings wat Eskom vir volgende jaar wil deurdruk. Terwyl Zuma en kie dus wag om hul hande op die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se pensioengeld te kry om die SAL te red, oefen hulle groot druk uit om die kernkragooreenkoms te laat realiseer sodat Eskom gered kan word. Waar dit als gaan eindig, is té onrusbarend om oor na te dink.

 

Die ander probleem hiermee hou verband met die kwessie van prioriteite. Terwyl sulke hoëvlakooreenkomste beklink word en almal besorgd is oor die staatsbeheerde ondernemings en ministers wat rondgeskuif word, ondervind die meeste munisipaliteite in die land enorme probleme, om die minste te sê. Talle is heeltemal disfunksioneel. En dit is waar die burgers van die land woon en werk. Dit is die naaste koppelvlak tussen burgers en die staat en is stellig die grootste post-’94-tragedie en ramp. Dit is ook waar die skadelikste vorme van kaderontplooiing plaasvind en waar hulle groot korrupsie pleeg terwyl dorpe en stede vergaan en die ekonomie verder daardeur geknou word. Die Vrystaat – waar die Zuma-kornuit Ace Magashule as premier dien – se munisipaliteite is in 'n erbarmlike toestand en die Mangaung-metro (wat Bloemfontein insluit) kan weens 'n geldkrisis ineenstort. Magashule erken self dat baie van die munisipaliteite in die provinsie bloot nie meer ekonomies lewensvatbaar is nie. Dit is boonop vrot munisipaliteite wat nie vir Eskom betaal vir die krag wat hulle lewer nie en die kragvoorsiener dus verder knou.

 

Daar moet eintlik nie dan meer geld gee vir die kaders wat reeds so swak regeer op plaaslike vlak nie. Maar Zuma en die regering neem klaarblyklik nie plaaslike regering se probleme werklik ernstig op nie en duidelik kry ander korrupte hoëvlak-prioriteite baie meer aandag. Plaaslike regering behoort eintlik een van die regering se hoofprioriteite te wees, maar in hierdie stadium is nog 'n onbevoegde Zuma-kornuit en minister-van-finansies-vir-'n-naweek, Des van Rooyen, steeds die minister in beheer daarvan. En hy rig nie veel uit om munisipaliteite se probleme op te los nie – inteendeel.

 

Foto: Boksburg Advertiser

 

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close