Algemeen -

Kommentaar: Leiers moet verby apartheid kyk

Die politikus en akademikus, dr. Mamphela Ramphele, het 'n paar vreemde dinge – maar ook 'n paar waarhede – tydens 'n gespreksreeks in Kaapstad oor erfenis en multikulturalisme raakgeboor. Die geleentheid waar sy opgetree het, vorm deel van 'n reeks gesprekke rondom Erfenisdag wat eerskomende Sondag gevier word.

 

'n Mens kan nie altyd net op mediaberigte staatmaak om by die volle omvang van 'n persoon se stellings en toesprake uit te kom nie, maar uit dít wat Netwerk24 en News24 daaroor berig het en wat bekend is oor Ramphele se politieke sieninge, kan sekere betroubare afleidings oor haar uitlatings en bedoelings darem gemaak word.

 

Dit is nodig om 'n paar van haar stellings krities onder die loep te neem, want sy was baie krities oor die huidige klomp potentate asook oor die verlede in haar toespraak. Al die stories daaroor het eerstens gehandel oor haar stelling dat die hoop om die land se brutale geskiedenis te herstel, nie op die ANC se leierskonferensie in Desember gestel moet word nie. Dit is wel waar en terselfdertyd ook 'n openlike aanval op kolonialisme en apartheid. Dit is verstaanbaar, maar daar is tog 'n paar opmerkings om hieroor te maak.

 

Eerstens is dit net logies dat wie ook al in Desember die leierskapstryd wen, nie eensklaps die land se probleme gaan oplos nie. Enigiemand wat meen dit gaan wel gebeur, gaan wreed ontnugter word – as die afgelope 23 en 'n half jaar van ANC-bewind dit nog nie gedoen het nie. Die ANC is juis meer as ooit besig om die land te verdeel as weerligafleier vir hul swak regering en prestasie. Dit gaan nie onder iemand soos Cyril Ramaphosa verander nie. Hy is immers iemand wat by elke geleentheid bly hamer op apartheid, die “gloriedae” van die ANC in die struggle, die kommunistiese Vryheidsmanifes en die Nasionale Demokratiese Rewolusie. Hy is iemand wat in wese meer in die verlede as in die hede leef en wat boonop holluidende en verderflike leuses klakkeloos herhaal.

 

Ons het mense nodig wat nie die verlede vergeet nie, maar wat die hede en veral die toekoms meer op prys stel as wat in 1976 of in 1960 gebeur het. Ons het leiers nodig wat ons erfenis erken, maar wat iets anders as net apartheid daaruit kan haal; wat ons ware diversiteit en vele tradisies erken en akkommodeer; wat ons gemeenskaplikhede kan belig; en wat ons ook kan verenig. Sulke leiers moet al die groepe en indiwidue in die land as bates erken en aanwend en wit mense nie slegs as 'n erfenis van kolonialisme en apartheid beskou nie. Kortom, hulle moet meer vorentoe as agtertoe kyk en die verlede onthou, maar daadwerklik wil werk vir 'n beter toekoms.

 

Ramphele of Ramaphosa, wie se lewens in totaliteit deur apartheid en die struggle gevorm is, is duidelik nie daardie leiers nie. Ramphele se draai in die partypolitiek het immers slegs op 'n jammerlike misoes uitgeloop en haar rassisme is mettertyd sleg ontbloot. Dit is veral nie Jacob Zuma, Nkosasana Dlamini-Zuma en die ANC as party nie. Daar moet selfs bedenkinge wees oor iemand soos Mmusi Maimane. Hulle is almal mense wat in 'n meerdere of mindere mate glo wit mense dra alleen die skuld vir swart mense se ellendes en daarom kan daar net van 'n grondslag van boetedoening gewerk word. Vir hulle is apartheid ons enigste of grotendeelse erfenis, terwyl daar soveel meer is om te vier en om op te bou.

 

Nog 'n betwisbare punt is of dit net die verlede is wat so brutaal en korrup was soos wat Ramphele dit voorhou. Die hede is net so wreed en korrup, indien nie wreder en korrupter as die verlede nie. Ramphele het darem in haar opmerkings meer as net 'n beleefde buiging in die rigting van pres. Jacob Zuma se diefstal gemaak. Maar 'n mens kry die indruk uit hierdie opmerkings, asook uit haar deurlopende kommentaar, dat sy dink die wreedheid het in 1994 grootliks tot 'n einde gekom toe apartheid amptelik beëindig is.

 

Die land se misdaadsyfers bewys onomwonde die teendeel. Ons het een van die hoogste moord- en verkragtingsyfers ter wêreld. Polisie-brutaliteit is hoog, terwyl die polisie self erken dat hulle nie oor genoeg fondse beskik om padblokkades te bedryf en ons te beskerm nie. Hoë- en laevlakkorrupsie vier hoogty. Babas sterf op strepe in swak bestuurde staatshospitale. Dit als is ook wreedheid. In die ou bedeling moes die polisiediens baie maal keer dat swart mense mekaar nie uitmoor nie. Nou gee die polisie net nie meer om nie, of hulle trek net hul skouers op oor 'n gebrek aan kapasiteit om iets omtrent misdaad te doen.

 

Hoewel apartheid 'n aandeel in van hierdie euwels het, kan die rol van die ANC se sogenaamde “People’s war” in die 1980’s en ’90’s, en ook in die huidige regering se doen en late, geensins misken word nie. Talle van hierdie probleme kan ten minste verlig word deur die regte keuses nou te maak, maar dit word bloot nie gedoen nie. Dit is 'n feit wat grootliks afwesig was in Ramphele se opmerkings, wat hoofsaaklik op die verlede gefokus het. Daar word vandag heeltemal te min oor die probleme van die hede gepraat as wat daar oor die toenemend ver-verwyderde verlede gepraat word. En mense wat geen aandeel in apartheid het nie, kry konstant die skuld vir dinge wat vorige geslagte gedoen het, terwyl daar te min blaam aan die huidige sondaars toegedig word. Toekomstige geslagte gaan opsluit met die voordeel van nabetraging en sterk afkeur oor hedendaagse gebeure praat en vra hoekom dít die erfenis is wat vandag se generasie vir hulle agtergelaat het.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close