Algemeen -

Kommentaar: Mbalula en Gigaba is totaal planloos

Dit was 'n opspraakwekkende nuusweek met die jongste misdaadstatistiek wat uitgereik is en die mediumtermynbegroting wat deur Malusi Gigaba, minister van finansies, gelewer is.

 

Toegegee, Gigaba en sy ampsgenoot by polisie, Fikile Mbalula, het albei die probleme in hul onderskeie (belangrike) portefeuljes treffend uitgelig. Mbalula het beklemtoon dat hy en die land se mense nie juis die algehele 1,8%-afname in misdaad “voel nie”. “Mense moet die afname in misdaad voel waar hulle woon,” het hy luidens News24 gesê. Hy het ook bygevoeg dat daar 'n aansienlike toename in geweldsmisdaad is en daarom moet dit nie weggesteek word nie.

 

Maar Mbalula was steeds nie klaar nie. Hy het polisielede as “lui” geroskam omdat die misdade wat aanwysers is van die polisie se doeltreffendheid, van 'n 0,3%- afname tot 'n bykans 10%-toename gestyg het. “This increase is too small and indicative of the lazy efforts by the police to detect such crime, in order to make South Africa a safer place to live in. Police, in this instance, are letting our people down and I am here to stop it,” het Mbalula luidens News24 gesê.

 

Hy het ook ruiterlik erken dat die konstante vervanging van nasionale polisiekommissarisse die fokus van die polisie negatief geraak het.

 

Desgelyks het Gigaba in sy toespraak ook vroeg reeds die enorme uitdagings in die Suid-Afrikaanse ekonomie uitgelig, maar was weliswaar nie spesifieke genoeg daaroor nie. “It is not in the public interest, nor is it in the interest of government, to sugar-coat the state of our economy and the challenges we are facing. It is only when we understand these challenges fully and candidly that we will know what to do and can decide what course we must take in addressing them, as well as what trade-offs we must make in the national interest. The fiscal framework we present to you recognizes this and does exactly this. The period ahead is not going to be an easy one,” het hy aangevoer.

 

Hy het vanjaar se ekonomiese groei afwaarts na 0,7% vanaf 1,3% aangepas. Hy erken ook dat die wêreldekonomie teen 'n gemiddelde van 3,6% sal groei. Sub-Sahara Afrika sal vanjaar teen 2,6% groei. Suid-Afrika se groei gaan vanjaar waarskynlik nie eens 0,7% haal nie nadat daar aanvanklik gedink is dit sou moontlik wees op grond van faktore soos die vraag na kommoditeite wat versterk en die droogte wat die wyk neem. En natuurlik is Gigaba se aanstelling nog 'n rede vir die lae groeikoers.

 

Sulke eerlikheid in die ANC en die regering is ten minste verfrissend, maar nie meer verbasend nie want dit is al so oorbekend dat dit futiel sou wees om dit nie te erken nie. Sulke eerlikheid skep helaas ook onverdiende begrip by die publiek en koop vir onbevoegde organisasies en ministers nog tyd wat hulle nie verdien nie. Hoekom verdien hulle dit nie? Omdat hulle self vandeesweek aangedui het dat hulle basies gaan voortploeter met beleide en optrede wat duidelik klaaglik misluk het en ons tot dusver juis in hierdie posisie geplaas het. Voorts is daar ook 'n gebrek aan werklik vrypostige en doelgerigte optrede oor hervormings wat 'n verskil sal maak, maar nie ideologies of polities aanvaarbaar vir die ANC is nie. In wese sal Gigaba en Mbalula moet erken hulle en hul party is totaal verkeerd oor 'n wye reeks aangeleenthede, en dit is hulle nie bereid om te doen nie.

 

Eerder as wat ons tasbare planne of koersveranderinge hoor, hoor ons eerder nog gemeenplase, bravade, oëverblindery en kwaksalwery. Ons hoor ook hoe werkende mense en veral die beleërde middelklas nog onnodige opofferinge vir nie-werkendes, korrupsie en disfunksionele staatsbeheerde ondernemings moet maak. Gigaba het voortborduur oor die apokriewe Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en aangevoer dat dit die mense se aspirasies moet verwesenlik. Die huidige situasie in die land maak juis van die meerderheid van die land se burgers se aspirasies niks meer as 'n illusie nie. Die goeie dele van die NOP (wat buitendien 'n chimera is en ook heelwat slegte idees bevat) word juis deur korrupsie en staatsinmenging in die wiele gery en verreweg die meeste van sy doelwitte gaan net dít bly. Gigaba bewys lippediens aan korrupsie en vra vir nog belasting terwyl hy nog geld vir die erg sukkelende staatsbeheerde ondernemings wil bewillig. Hy rammel in die toespraak die een holle frase na die ander af oor sosio-ekonomiese transformasie en inklusiewe groei sonder om te veel detail daaroor te gee of terselfdertyd werklikwaar iets bekend te maak wat sulke groei moontlik sal maak. Ons het dit als voorheen gehoor en die verrotting sal bloot voortduur en ons skuldlas sal verder verhoog.

 

Insgelyks het Mbalula uitgevaar en basies weer gesê: “Ek sal dit nie toelaat nie!” Met die agbare minister het ons nou al gewoond geraak aan bravade wat nie op veel uitloop nie. “Ons moet misdaad op 'n radikale en energieke manier bestry,” het hy plegtig vandeesweek belowe. “Vandag sê ek aan misdaadbendes: ‘Ek kom vir julle, genoeg is genoeg’,” het hy voorts verklaar sonder om enigiets tasbaars bekend te maak. Hy het wel onlangs belowe om die weermag in misdaadgeteisterde gebiede in te stuur. Dis egter geen omvattende en langtermyn oplossing nie en moet immers nog gebeur. Dit val ook nie binne sy magte om dit te doen nie. Hy het ook aan AgriSA en boere 'n ruk gelede belowe dat genoeg nou genoeg is en dat die polisie hulle sal beskerm. Die nuutste wending is dat plaasaanvalle nie geprioritiseer sal word nie, maar bloot deel is van 'n vergesogte langtermyn plan om meer kapasiteit by landelike polisiestasies te skep. Hy bring wel sy radikalisme en energie na hierdie stryd, maar nie enige planne wat werk nie.

 

Hierdie here mag dalk teen volgende jaar hierdie tyd nie eens meer in hul huidige portefeuljes dien nie. Wie weet wat in Desember by die regerende party se leierskonferensie gaan gebeur – indien die konferensie wel gáán gebeur. Hul opvolgers sal dan net weer kan sê hulle is nuut in hul portefeuljes terwyl hulle die probleme erken maar min oplossings bied. En dit help ook nie dat die einste regering en ministers wat getaak is om probleme op te los, deel daarvan is nie.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close