Algemeen -

Kommentaar: OBK geoudit, maar hoekom nie Eskom?

Malusi Gigaba, minister van finansies, het opdrag gegee dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) forensies geoudit moet word. Die OBK se beleggings van die afgelope twee jaar sal nou bekyk word.

 

Gigaba het 'n lys van al die OBK se begunstigdes en beleggings aangevra en belowe om dit openbaar te maak. Hy wil ook nou die name van adviseurs en borge van die transaksies hê, aldus Netwerk24. Alle bemagtigingskonsortiums wat by die beleggings betrokke is, moet ook geïdentifiseer word. In die geval van regsentiteite moet die name van aandeelhouers en direkteurs ook bekend gemaak word.

 

Volgens Netwerk24 het Gigaba in 'n brief aan sy adjunk, Sfiso Buthelezi, versoek dat die oudit deur 'n “geloofwaardige, onafhanklike forensiese maatskappy” gedoen word. Buthelezi is die voorsitter van die OBK-direksie omdat hy adjunkminister van finansies is.

 

Die OBK was juis onlangs weer in die nuus oor versoeke wat Dudu Myeni, voorsitter van die SAL, vroeër vanjaar aan die OBK gerig het aangaande 'n reddingsboei vir die beleërde lugdiens. Dr. Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, het ook teenoor die Sunday Times gebieg dat hy deur polities invloedryke mense geteiken word omdat hulle hul hande op die miljarde rande se pensioene wat deur die OBK bestuur word, wil kry.

 

Twee dae nadat die storie gebreek het, het Gigaba met Matjila vergader en skielik het Matjila by 'n klaarblyklik ongemaklike mediakonferensie teruggekrabbel oor die storie. Die vreemde gemoedelikheid ten spyt moes daar verwag word dat dit nie naastenby die einde van hierdie sage sou wees nie.

 

Dit lyk bloot na 'n roetine-oudit, maar die tydsberekening en omvang daarvan is uiters verdag. Sover bekend is daar nie enige groot ongerymdhede by die OBK aan die gang nie – altans, nie wat deur die bestuur van die OBK veroorsaak is nie. Die enigste rede hoekom dit in die nuus is, is omdat die direksie Matjila klaarblyklik boelie en aankla (en later weer vryspreek soos onlangs gebeur het). Daar is nie andersins sprake dat die OBK die bates onder sy beheer wanbestuur of vermors nie – inteendeel.

 

Daar is dus groot rooi vlae oor hoekom die regering, wat 'n soort verdagte in hierdie sage is, nou skielik 'n groot oudit aanvra. Die enigste antwoord wat Gigaba hierop kon gee is dat dit ter wille van “deursigtigheid” en “openbare vertroue” gedoen moet word.

 

Dit is wel nie slegte redes nie, maar daar moet gevra word hoekom dit nou skielik 'n prioriteit gemaak word aangesien daar nie werklike redes is om die OBK te wantrou nie. Alle aanduidings is dat die OBK eintlik onder politieke beleg is en eerder vir sy onkreukbaarheid en weerstand teen wanbesteding geteiken word. En dit is darem drastiese en wydlopende stappe om te neem om skielik iets soos deursigtigheid, wat buitendien 'n deurlopende vereiste behoort te wees, te bewerkstellig. Is die ander kontroles dan nie goed en geloofwaardig genoeg nie?

 

Dit is geen roetine-ondersoek nie, maar een wat duidelik daarop gemik is om die OBK en Matjila te boelie en selfs klein foute uit verband te ruk en op te blaas om ingrepe deur die regering te regverdig.

 

Matjila se weergawe dat hy en die OBK teikens geword het (en wat hy later teruggetrek het na sy vergadering met Gigaba), is besig om onheilspellend waar te lyk. Ons kan net hoop dat wie ook al hierdie oudit gaan doen, nie in dieselfde strik as KPMG gaan trap nie.

 

Natuurlik moet daar ook gevra word hoekom net die OBK hiervoor uitgesonder word en nie 'n groter sondaar waaroor daar groot vraagtekens hang nie. Eskom is pal in die nuus vir die verkeerde redes en word as een van die grootste risiko’s vir die ekonomie geag. Sunday Times het juis die pas afgelope Sondag berig oor hoe 'n kontrak vir stoele met miljoene vermeerder is terwyl daar geen behoefte aan soveel stoele is nie. Ditto die SAL, wat miljarde aan banke skuld en immers die OBK vir geld gevra het. Hulle is die olifante in die vertrek wat dringende ondersoeke en oudits vereis.

 

Gigaba se oudit van die OBK is niks anders nie as 'n uiters verdagte en polities gemotiveerde manier om eerder die aandag van die werklike probleme in die land, en waarvoor hy medeverantwoordelik is, af te lei. Terselfdertyd soek hy ook maniere om ingrepe by die OBK te regverdig en sy hande op daardie pensioengeld te kry.

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close