Algemeen -

Kommentaar: OBK-pensioene, Matjila in gevaar

Gerugte dat pres. Jacob Zuma en sy kliek van staatskapers in die regering hul visier op die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ingestel het, begin al meer vleis om die lyf kry. Dr. Dan Matjila, die uitvoerende hoof van die OBK, het die afgelope naweek in Sunday Times se sakeafdeling, Business Times, nie geskroom om oop kaarte oor sy eie posisie en dié van die OBK te speel nie.

 

Volgens hom teiken mense met politieke bande hom omdat hy die spreekwoordelike sleutels vir die OBK-kluis – waar R1,9 triljoen se bates gehou en R1 900 miljard se pensioengeld bestuur word – het en hulle daardie sleutels wil hê. Hy het blykbaar vir Dudu Myeni, die Zuma-gesinde voorsitter van die sukkelende SAL, die deur gewys toe sy by hom kom aanklop het om nog 'n reddingsboei van R6 miljard vir die lugredery te bekom. Sy was blykbaar woedend daaroor. Daarna het skielike aantygings teen Matjla die ronde begin doen en sekere Zuma-lojaliste in die OBK-direksie, soos die adjunkminister van finansies, Sfiso Buthelezi, het daarop aangedring dat hy nou deur middel van 'n oudit oor beweerde finansiële ongerymdhede ondersoek word nadat hy reeds gebiedende bewyse van sy onskuld gelewer het. Daar is reeds in September spesiale OBK-raadsvergaderings hieroor gehou en op 15 September het die direksie hulself weerspreek deur hul volle vertroue in Matjila uit te spreek, maar terselfdertyd die ondersoek aan te kondig.

 

Volgens Matjila is hy nie veilig in sy pos nie. Daar is ook nou sprake dat Matjila deur Brian Molefe, nog 'n Zuma-akoliet wat 'n groot herrie by Eskom veroorsaak het, vervang gaan word. Molefe is immers onlangs as ANC-LP vervang en indien die kolletjies verbind word, maak dit net sin dat indien hy, weens die omstredenheid wat dit sou veroorsaak, nie weer by Eskom aangestel kon word of die minister van finansies kon word nie, hy dan na die OBK ontplooi word sodat dit makliker is om die pensioengeld te plunder.

 

Voorts maak dit ook net sin in die lig daarvan dat veral die SAL, maar ook ander staatsbeheerde ondernemings soos die SAUK, groot reddingsboeie benodig. Die SAL moet binnekort miljarde aan sy krediteure betaal en het in die laaste drie boekjare verliese van meer as R10 miljard gely. Die banke soek hul geld en wil nie verdere lenings aan die lugdiens, wat deesdae talle roetes moet afskaf en sukkel met sy vliegtuie se vluggereedheid, toestaan nie. Daar is duidelik groot probleme by die SAL en Myeni se volgehoue betrokkenheid as voorsitter is nog 'n omstrede kwessie omdat sy as’t ware nie langer daar mag aanbly nie. Matjila het aangedui dat dit verregaande van hom sou wees om namens die OBK se beleggers in entiteite soos die SAL en Eskom te belê omdat die korporatiewe bestuur van die instellings glad nie op peil is nie en dit klaarblyklik nie beleggingswaarde bied nie.

 

Die reaksie op hierdie uiters kommerwekkende en gebiedende feite is tekenend van hoe groot die teenstand oor die hele ideologiese spektrum heen teen inmenging by die OBK is. Die ANC se alliansievennote, die SAKP en Cosatu, gaan môre landwye optogte oor onder meer die aangeleentheid hou. Die Cosatu-geaffilieerde Communication Workers Union (CWU) verwerp planne om Molefe by die OBK te ontplooi openlik. Alex Mashilo, die SAKP se woordvoerder, het dit ruiterlik aan Beeld gestel dat indien die OBK gekaap word, dit onomwonde sal bewys dat die land deur staatskapers geregeer word. “Dit kan nie toegelaat word nie. Dié mense moet saam met dié met wie hulle saamwerk, uitgedryf word,” het hy aangevoer. Aubrey Tshabalala, die CWU se hoofsekretaris, sê die OBK-affêre kom neer op “radikale ekonomiese plundering” van werkers se pensioenfondse. Alf Lees van die DA het gesê dit is oneties om werknemers se swaarverdiende pensioengeld te gebruik om die mislukte SAL weer te red.

 

Hierdie teenstand is bemoedigend, maar die ANC en die tesourie se woord en dade in die verband is nie. Te midde van al hierdie blyke van afkeur is dié van die ANC merkbaar afwesig. Dit kon dalk wees dat die media nie die ANC om kommentaar genader het nie, maar dat nie eens een prominente publikasie die ANC as 'n prominente rolspeler in die saak wou nader nie – veral gesien in die lig van die woede onder die party se alliansievennote – is haas ondenkbaar. Daar is boonop ook niks op die party se webwerf te bespeur oor hierdie uiters nuuswaardige aangeleentheid nie.

 

Wat die regering betref, het die tesourie 'n lakoniese verklaring uitgereik waarin ontken word dat die tesourie die OBK formeel of informeel vir geld genader het. “Die minister wil dit duidelik maak dat hierdie berigte onwaar is . . . Hierdie berigte is kwaadwillig en nie konstruktief nie,” lui die verklaring. Malusi Gigaba, die minister van finansies, gaan glo vandag met die OBK vergader om hieroor te praat.

 

Tog berig Business Day dat die SAL-woordvoerder, Tlali Tlali, vandag in 'n SMS te kenne gegee het dat die lugdiens wel die OBK vroeër vanjaar as 'n moontlike lener genader het. Blykbaar het amptenare van die OBK die SAL selfs besoek, maar die SAL het sedertdien niks weer van hulle gehoor nie. Gigaba kan dalk tegnies reg wees dat die tesourie nie die OBK genader het nie, maar die SAL het die OBK klaarblyklik wel regstreeks genader – en dit is hoogs problematies. Gigaba is ook eers vanaf April die minister van finansies en hy kan daarom nie namens sy voorganger, Pravin Gordhan, sulke ongekwalifiseerde uitlatings oor sulke aangeleenthede maak nie. Volgens Business Day se ander bronne het die SAL juis die versoek voor Gigaba se aanstelling aan die OBK gerig. In Gigaba se uitasem-ontkenning van enige onbehoorlikheid, is hierdie stukke konteks en feite gerieflik afwesig. Gigaba het immers self onlangs by 'n Cosatu-saamtrek gesê hy kan nie belowe dat OBK-fondse nie gebruik sal word om staatsbeheerde ondernemings te red nie. In dieselfde week het hy uitgevaar oor die vermorsing by en op staatsbeheerde ondernemings. Sy inkonsekwentheid hieroor hys helderrooi vlae.

 

Soos ons nou al met soveel ander swak regeringsbesluite en onheilspellende gerugte wat ontken word, gewoond geraak het, is dat die staatskapers net op 'n punt kan jok en ontken. Dan gaan hulle wel oor na die daad wat gevrees word en dit bewys diegene wat daarteen gewaarsku het, uiteindelik reg. Ons sal gou uitvind wie draai die land 'n rat voor die oë en wie praat die waarheid, maar op die oomblik wek Gigaba, die tesourie en die ANC se reaksies hieroor reuse kommer. Die eerste tekens sal wees hoe vandag se vergadering verloop en of Matjila ná vandag (of weldra) steeds sy pos beklee.

 

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close