Algemeen -

Kommentaar: Ons is ook nie mínder spesiaal, Max

Die pseudo-intellektueel Max du Preez steek 'n preek op Netwerk24 af oor Afrikaners wat nie spesiaal is nie. In breë trekke lui die preek so: dat ons nie net oor ons eie moorde moet protesteer en rou nie; dat Swart Maandag eerder nie moes gebeur het nie; en dat bevoorregte wit mense nie slagoffer moet speel nie.

 

Die probleem met Du Preez, en feitlik alle linkse intellektuele in die land, is dat hulle self nie gelyke skale gebruik nie en Afrikaners, en wit mense in die algemeen, van iets wil ontneem omdat ander mense dit nie doen nie. Hulle gaan ook nie in gelyke mate met swart mense en swart organisasies om as wat die geval met Afrikaners en wit mense is nie.

 

Volgens hulle is die Afrikaners en die minderheid by verstek verkeerd – ongeag wat ons doen. Ons moet bloot verskoning vra en ons plek ken. Ons is eintlik minder spesiaal as die res omdat ons numeries minder is. Hulle skep permanente sondebokke en engeltjies.

 

Hy begin sy rubriek soos volg: “Ek is 'n Afrikaner met my wortels op Vrystaatse plase, 'n nasaat van Voortrekkers en Boerekrygers. Elke keer as ek van 'n plaasaanval hoor, rebelleer my gene en voel ek kwaad en neerslagtig.” Hy voer dan aan dat hy in 2017 'n denkende mens is wat die geskiedenis en omgewing deur middel van feite kan ontleed en verstaan. Dis hoekom hy nie aan Swart Maandag deelgeneem het nie. Hy was bang dit ontaard in Wit Maandag.

 

Die feit van die saak is dat Du Preez nooit aan enige protes deelneem nie. En sy enigste plan is om halfgebakte, teoretiese idees in koerante weer te gee. Ook op Netwerk24 skryf hy byvoorbeeld op 10 Oktober 2017 aan die einde van 'n langerige bespreking van misdaadtendense die volgende: “Ons gewone burgers kan nie veel meer doen nie as om harder te agiteer vir 'n veiliger Suid-Afrika en sterker op plaaslike vlak te fokus.” [My beklemtoning in kursief] Hy moet besluit waar hy in hierdie geveg staan want hy kritiseer juis dan nou sulke pogings. Vroeër vanjaar kap hy AfriForum dat hulle eerder net moet uitreik as om “manne met gewere in te stuur” – en so verraai hy sy totale onkunde oor dit waarmee AfriForum als besig is. Toe Afrikaners op Swart Maandag juis gedoen het wat hy ons aanraai om te doen (te agiteer), kry ons nog 'n dwarsklap en afjak van hom. Het die feit hom ontgaan dat hy hierdie opdragte in die Afrikaanse media gegee het? Het dit hom ontgaan dat vreedsame protes die lewensbloed van 'n demokrasie en oop samelewing is? Klaarblyklik, of dalk verswyg hy dit net doelbewus.

 

Min redelike mense betwis die feit dat baie meer swart en bruin mense as wit mense (en veral boere) vermoor word. Maar terwyl tienduisende swart mense verlede jaar vermoor is, was die strate merkwaardig leeg toe dié aankondiging deur die polisie gemaak is. Du Preez het nie eens 'n woord daaroor in sy rubrieke gerep nie, laat staan nog die veiligheid van sy veilige plattelandse bestaan in die Wes-Kaap verlaat om daarteen te protesteer. Hy het bloot gereageer nadat 'n groep mense spontaan oor iets wat hulle na aan die hart lê, begin agiteer het. En eerder as om die regering aan te vat of die gebrek aan ander protesoptrede te kritiseer, roskam hy (weliswaar taamlik diplomaties) diegene wat iets gedoen het. Wat Du Preez in sy nuutste rubriek impliseer, is dat indien protesoptrede nie inklusief genoeg volgens sy eie maatstawwe is nie, dan is dit reg as niks eintlik gebeur nie.

 

Aan die sporadiese voorkoms van ou vlae kan maar min gedoen word omdat Swart Maandag spontaan en sonder sentrale koördinasie ontstaan het. Maar die vertoon daarvan maak hoegenaamd nie die skandvlek van plaasmoorde ongedaan nie. Die vlagstorie is 'n bysaak, maar dit is deur mense soos Du Preez, Fikile Mbalula en die Engelse media tot die hoofsaak bevorder.

 

Du Preez voer ook aan dat wit mense nie as bevoorregte minderheid arrogant en onsensitief moet voorkom nie. As jy met ander woorde wit en middelklas is, moet jy dus stilbly en nie kla nie want daar is armoede in die land. Die is 'n feit dat wit mense 'n groot deel van die land se belasting betaal en boonop klakkeloos as die sondaar vir als wat verkeerd is, uitgekryt word. Selfs die moorde op wit mense is buitensporig hoog. Ons is in wese uit die formele politiek en regeerwese uitgesluit en Afrikaanse skole is nie veilig nie. Ons moet onsself dus op ander maniere verweer en het 'n reg om vreedsaam te betoog, saam te bid en onsself te beveilig – selfs as ander mense dit nie doen nie.

 

Du Preez skryf ook dat alle Suid-Afrikaners slagoffers is van die roofdierregime. Die probleem is dat Afrikaners nie telkens hierdie regime by die stembus herverkies nie – inteendeel. Ons moet ander middele soek om die agteruitgang en vergrype te stop en vreedsame protes, asook organisering op plaaslike vlak, is maniere om dit te doen.

 

Du Preez rep ook nooit 'n woord oor die geweld wat met ander betogings gepaard gaan nie en kan nie vinnig genoeg blote vandalisme en diefstal met sogenaamde legitieme griewe regverdig en verwar nie. Hy skryf dat hy geen rede het om die opregtheid van sy vriende en kennisse wat in swart geprotesteer het, te bevraagteken nie, maar hy gaan dan voort om die leeueaandeel van sy rubriek juis aan sulke bevraagtekening te wy.

 

Hy sluit af met 'n vermaning om nie aggressief en dikbek te wees nie en met 'n vae oproep om 'n balans tussen selfgelding en uitreik te handhaaf. Dit is egter presies wat Afrikaners in die algemeen en in talle kontekste doen, terwyl die hand van vriendskap wat ons uitreik, weggeklap word deur onder meer die regering. Trouens, plaasmoorde word afgelag en selfs goedgepraat deur twee van die grootste politieke partye in die land.

 

Du Preez se weiering om hierdie feite te erken, maak al sy goeie en opregte bedoelinge en bekentenisse helaas ongedaan. As hy werklik so onthuts is oor plaasmoorde is soos hy in sy rubriek voorgee, het hy ‘n uiters vreemde manier om dit andersins te wys.

 

Afrikaners is nie spesiaal nie, Max. Maar ons is ook nie minder spesiaal nie.

 

 

Foto: eHowzit Hillcrest  

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close