Algemeen -

Kommentaar: Reusetaak vir teenrassisme-eenheid

AfriForum se nuut gestigte teenrassisme-eenheid is 'n uiters welkome stap om hierdie vloek wat op ons samelewing en op Afrikaners as groep rus, hok te slaan en ook om balans in hierdie stryd en debat te bring.

 

Geloofwaardige navorsing deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) toon onomwonde dat rassisme nie vir gewone Suid-Afrikaners van alle rasse 'n groot onopgeloste probleem is nie. Aspekte soos armoede, werkloosheid, misdaad, wanregering, die ekonomie en korrupsie is almal groter prioriteite vir mense van alle rasse. Hul navorsing toon ook dat rasseverhoudinge in die geheel goed is, hoewel nie sonder probleme nie.

 

Dit is egter juis waar die knoop lê – die belangriker voormelde prioriteite is iets wat binne die bevoegdhede van die regering val en waarvoor die regering trots verantwoordelikheid aanvaar, maar waarmee hulle klaaglik misluk. Daarom word enkele gevalle van wit rassisme en rassebeledigings deur ons magshebbers eensydig, bevooroordeeld en disproporsioneel tot die werklike impak daarvan uit verband geruk en aan die groot klok gehang sodat dit die aandag aftrek van die werklike probleme en behoeftes. Hulle is helaas nie alleen nie. Sekere media, meer spesifiek die Engelse media, doen lustig mee daaraan en dit onder die dekmantel van “openbare belang”. Die wit rassiste wat sulke wye mediadekking geniet het se sonde was om skeldterme soos “ape” te gebruik om na swart mense te verwys of om hulle die k-woord toe te snou en daarvoor is hul lewens vir alle praktiese doeleindes geruïneer.

 

Daarenteen word swart rassiste, waaronder heelwat prominente politici tel en wat veelal geweld jeens minderhede aanhits eerder as om net te beledig, met fluweelhandskoene deur die Mensregtekommissie (MRK), die owerhede, die media en groot dele van die publiek hanteer. Ernst Roets, die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gister by die bekendstelling van die eenheid juis daarna verwys: “Ons navorsing dui voortdurend daarop dat wit rassisme deurlopend aggressief veroordeel word, terwyl swart rassisme dikwels geïgnoreer, of in sekere gevalle selfs verdedig word. Om een vorm van rassisme te beveg en terselfdertyd 'n ander vorm van rassisme te aanvaar, verdedig of selfs te bevorder, is op sigself ook 'n vorm van rassisme.”

 

'n Empiriese en omvattende verslag oor rassisme deur Solidariteit vroeër vanjaar het hierdie tendens ook treffend toegelig. In die verslag is verskeie gevallestudies van voorvalle waarby hetsy wit of swart rassiste betrokke was, ontleed. Gaan lees dit gerus, maar ter illustrasie lig ek een of twee voorbeelde wat sprekend is van die eensydigheid en verwronge aard van die hantering van rassisme hier uit. Penny Sparrow was 'n onbekende eiendomsagent van KwaZulu-Natal totdat sy op 4 Januarie verlede jaar op haar Facebook-blad na swart mense op Durban se strand as ape verwys het. 'n Golf van verontwaardiging, veroordeling en kritiek het oor die land gespoel. Die MRK wou haar kruisig; die ANC – senuagtig oor die plaaslike verkiesing – het die aandag van sy eie wandade probeer aflei deur haar finansieel en in die howe te verwoes; Lindiwe Sisulu het selfs as minister van behuising by die kwessie ingegryp; en die media het vir dae aaneen derms daaroor uitgeryg. Die storie het bykans 30 000 Google-resultate opgelewer en 4 500 mediaberigte het in 2016 daaroor verskyn.

 

Kort daarna het Velaphi Khumalo, 'n regeringsamptenaar en verklaarde ANC-lid, ook in 'n Facebook-inskrywing gevra dat daar aan wit mense gedoen word wat Hitler aan die Jode gedoen het – wat dus neerkom op 'n regstreekse aanhitsing tot etniese suiwering. Hy het ook gevra dat wit mense tot bemestingstof gereduseer word. Hy is egter vandag steeds werksaam by die Gautengse departement van sport en ontspanning nadat hy skynbaar “sensitiwiteitsopleiding” ondergaan het en die ANC het geen word daaroor gerep nie. Die hele storie het slegs 5 000 Google-resultate en 'n skamele 137 mediaberigte opgelewer – en dit was een van die gevalle van swart rassisme waaroor taamlik prominent in 2016 berig is.

 

Dit blyk duidelik uit die bevindinge van hierdie verslag, asook uit die menings van kenners oor die aangeleentheid dat die regering en swart rassiste lief is daarvoor om nietige gevalle van wit rassisme te gebruik om hul eie rassisme en mislukkings te verbloem. Eerder as om oor die werklike probleme in die land te praat, praat ons liewer oor Sparrow se onbesonne mening en boonop nie oor Julius Malema en Khumalo wat vra dat wit mense uitgemoor moet word nie.

 

Dit is 'n voldonge feit dat die rassisme-debat in Suid-Afrika doelbewus skeefgetrek word en dit het die potensiaal om die land te destabiliseer. Hierdie wanbalans het ook 'n regstreekse uitwerking op die marginalisering, demoralisering en emigrasie van mense – soos Afrikaners – wat reeds tot 'n ongewilde minderheid behoort. 'n Organisasie soos AfriForum is perfek geposisioneer en is ook sterk genoeg om meer balans te bring. 'n Groot taak lê nou vir hulle voor.

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close