Algemeen -

Kommentaar: Rupert reg oor radikale transformasie

Die sakemagnaat, Johann Rupert, en die ANC is nou een maal nie goeie vriende nie. Die ANC het al male sonder tal na hom verwys in die konteks van die totaal gediskrediteerde term “witmonopoliekapitaal” en hy het ook telkens teruggevuur met retoriese kartetse van sy eie. Sy nuutste een, naamlik dat radikale ekonomiese transformasie net 'n kodewoord vir diefstal is, is nie net waar nie, maar dit moet ook verwelkom word dat nóg 'n bekende persoon geen doekies daaroor omdraai nie.

 

Die regerende party en sy handlangers gaan uiteraard nie daaroor stilbly nie, maar Rupert sou heelwat kritiek daarop verwag het. Die gebruiklike skeldname en beledigings is na hom geslinger: Hy is 'n arrogante, wit begunstigde van apartheid wat slegs ekonomiese geleenthede vir wit mense geskep het. Die ANC het by monde van Zizi Kodwa, die party se woordvoerder, Rupert se uitlatings as opportunisties en oneerlik bestempel. Rupert is glo aandadig aan meerderwaardigheid jeens die meerderheid Suid-Afrikaners wat 'n wesenlike belang by radikale ekonomiese transformasie het, aldus Netwerk24.

 

Die ANC se vroueliga het ook hul rasbehepte stuiwer in die armbeurs gegooi. “Dit is in die DNS van talle begunstigdes van apartheid om enigiets wat die swart ANC-beheerde regering doen, as minderwaardig, onbevoeg, korrup, of as diefstal te bestempel,” het hulle luidens Netwerk24 aangevoer.

 

Dit was egter nog heel getemper vergeleke met wat die radikale, anti-wit Black First Land First hieroor kwytgeraak het: “Black First Land First (BLF) wants to categorically state that the settler coloniser and land thief, Johan (sic) Rupert, who is in possession of the land stolen from the black majority has no grounds to talk about theft.

 

“Johan Rupert is a thief! He remains the neocolonial master who thought he could simplistically replace the then Minister of Finance Des Van Royen (sic) with his puppet, Pravin Gordhan, so that he can continue to pull the strings of the [sic] South Africa’s economy.

 

“Rupert has been complicit in apartheid era corruption and other economic crimes and to this end has evidently acted with impunity.”

 

Hulle sluit dan die omslagtige, spelfout-besmeerde en skreiende verklaring soos volg af: “Black people must unite and take back the land! BLF will continue to take back the land until all the stolen land is in black hands. We will shutdown Remgro! We will lay charges of economic sabotage against Rupert! Land or Death!”

 

Natuurlik is Rupert nie die enigste persoon onder almal van watter ras ook al wat al standpunt teen radikale ekonomiese transformasie ingeneem het nie. Die politieke ontleder, Prince Mashele, het vroeër vanjaar aangevoer dat dit eintlik net 'n “plundermeganisme” is en dat daar groot vraagtekens hang oor die implementering daarvan. “Jacob Zuma het twee jaar as president van Suid-Afrika oor en wat gaan hy in daardie jare doen? Beslis nie radikale ekonomiese transformasie in werking stel nie,” het hy by die Nampo-landbouskou gesê. “Hierdie ding genaamd radikale ekonomiese transformasie is 'n plundermeganisme. Punt.” Hy het in wese presies gesê wat Rupert gesê het, sonder die gepaardgaande skel kritiek deur die ANC en hul meelopers. Dit is 'n bietjie moeiliker om 'n swart persoon van apartheidbegunstiging te beskuldig as wat dit is om 'n wit Afrikaner daarvan te beskuldig.

 

Selfs prof. Steven Friedman van die Universiteit van Johannesburg, wat bykans sonder uitsondering die ANC oor alle kwessies napraat, het vroeër vanjaar op News24 sy bedenkinge hieroor uitgespreek. “As many commentators have pointed out, this is not about building an economy which includes more people but about justifying why some connected people should get their hands on the public purse . . . ‘Radical economic transformation’ will remain the stuff of policy documents rather than concrete action.”

 

Boonop is Friedman iemand wat die ANC uiters goedgesind is en selfs met die skadelike dele van hul beleidsrigtings saamstem. Dit is nie eens nodig om die felste kritici van hierdie beleid, wat akademici en ook ontleders by die Solidariteit Beweging insluit, se mildelike kommentaar hieroor volledig onder die loep te neem nie.

 

Ongeag wie in hierdie debat reg of verkeerd is, die uitkomste en vrugte van radikale ekonomiese transformasie sal egter bepaal of dit werk of nie werk nie. En dit is waar die voorstanders daarvan gaan kleitrap om dit te verdedig. Die ekonomie groei teen 'n slakkepas. Danksy 'n beter tweede kwartaal in 2017 is die resessie vir eers verby, maar die Suid-Afrikaanse ekonomie is een van die swakste presteerders wêreldwyd. Twee kredietgraderingsagentskappe het Suid-Afrika vanjaar na rommelstatus afgegradeer. Die werkloosheidskoers vat-vat aan die 30% en dit bly styg. Swart staatskole is in 'n erbarmlike toestand en daar is geen vooruitsig op verbetering nie. Plaaslike en buitelandse beleggers het vertroue in die bestuur van die ekonomie verloor. Korrupsie vier kennelik hoogty en miljoene word deur regeringsamptenare gesteel. Mense verloor hul werk op strepe. En dit word als in die naam van radikale ekonomiese transformasie voltrek.

 

Radikale transformasie is klaarblyklik juis besig om die teenoorgestelde uit te rig as waarop die ANC en pres. Jacob Zuma gehoop het. Die harde feite skets 'n duidelike prentjie, maar al wat die land se mense by die ANC kry, is 'n wollerige term waarvan die voordele onduidelik is – veral vir die geteikende begunstigdes, naamlik swart mense. Soos Fitch Ratings in Julie in 'n nota oor die Suid-Afrikaanse ekonomie geskryf het: “Most initiatives focus on state-owned enterprises governance, containing pressure on public finances, and boosting black economic empowerment and addressing inequality, which would only have an indirect impact on growth prospects.”

 

Rupert is reg oor hierdie beleid. Radikale transformasie hou slegs nadele in en dit, nes die gepaardgaande beleide en ideologieë soos Marxisme en die ANC se eie Nasionale Demokratiese Rewolusie, hoort in die asblik van die geskiedenis. Dis nou net so gediskrediteerd en uitgedien soos “witmonopoliekapitaal”.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close