Algemeen -

Kommentaar: SA is ANC-konferensie se verloorder

Daar is net sowat drie weke oor voordat die ANC 'n nuwe leier vir die party aanwys by hul nasionale leierskonferensie. Daardie persoon gaan ook mettertyd die president van die land word.

 

Pres. Jacob Zuma wil graag hê sy voormalige vrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, of die ANC se tesourier-generaal, Zweli Mkhize, moet wen. Die rede is dat hulle hom en sy faksie goedgesind is en hom persoonlik teen vervolging sal beskerm en sal seker maak hy lewe goed nadat hy as president uitgetree het.

 

Daarteenoor wil hy keer dat adj.pres. Cyril Ramaphosa president word omdat dié nie hy wat Zuma is se belange dien nie en hom dalk kan laat vervolg.

 

Daar is 'n klomp geraas oor wie nou eintlik waarskynlik gaan wen en die syfers verskil, maar daar is talle aanduidings dat Ramaphosa wel voor is. Volgens een stel betroubare syfers is die benoemings van sowat 3 500 takke (uit 3 902) en sowat 4 700 stemafgevaardigdes in die provinsies reeds gefinaliseer. Altesame 509 stemme van die provinsiale uitvoerende komitees (PUK’s), nasionale uitvoerende komitee (NUK), ANC-Jeugliga, ANC-Vroueliga en ANC-veteraneliga kom ook nog by.

 

Netwerk24 berig dat luidens dié syfers steun 2 059 provinsiale takke (sowat 56%) vir Ramaphosa en 1 401 vir Dlamini-Zuma. Sowat 2 650 van die takke se stemafgevaardigdes steun vir Ramaphosa en sowat 2 100 vir Dlamini-Zuma.

 

Wat die PUK’s betref, steun 135 vir Ramaphosa en 108 vir Dlamini-Zuma. Die ANC se jeugliga en vroueliga staan bankvas agter Dlamini-Zuma (nes in die geval van Jacob Zuma) terwyl Ramaphosa die septer swaai in die veteraneliga en NUK.

 

Wat die onderskeie provinsies betref, is daar reeds taamlike duidelikheid oor wie die gunstelinge is. Die meeste takke in die Oos-Kaap, Gauteng, Limpopo, die Noord-Kaap, Noordwes en Wes-Kaap steun vir Ramaphosa. Kwazulu-Natal en die Vrystaat skaar hulle agter Dlamini-Zuma en in Mpumalanga, 'n belangrike provinsie, is dit nog nie duidelik wie die gunsteling is nie.

 

Kenners waarsku dat hierdie gegewens nie as die uitslag aanvaar moet word nie, want die finale stemming kan anders uitdraai en deur ander faktore beïnvloed word. Die Zuma-faksie is nou nog in beheer van die ANC en die staat en hulle is nie juis bekend daarvoor dat hulle billik en regverdig optree nie – soos die smeerveldtog teen Ramaphosa en ander van getuig.

 

Wat wel duidelik is, is dat dit nou basies net 'n wedloop tussen Ramaphosa en Dlamini-Zuma is nadat ander kandidate (wat bande met hierdie twee kandidate het) ook hul name in die hoed gegooi het.

 

Hierdie tweestryd is egter nie die enigste sekerheid waarop ons kan reken nie. As die onlangse gebeure in Zimbabwe ons enigiets leer, is dit dat vryheidsbewegings in Afrika selde grootskaalse positiewe veranderinge teweegbring en doen wat (minstens vanuit 'n Westerse oogpunt) logies lyk. Eerder as om te boet vir al sy wandade, gaan Robert Mugabe sterf nes hy regeer het: in weelde en gemak. Hy is basies deur die weermag in watte toegedraai tydens die staatsgreep en is immuniteit teen vervolging beloof. Hy is daarbenewens 'n eenmalige uitbetaling van $10 miljoen Amerikaanse dollar (sowat R140 miljoen), 'n groot maandelikse salaris en mediese sorg aangebied om uit te tree. Hy kan ook sy eiendomme behou.

 

Zanu-PF is per slot van sake nog gelukkig in beheer en gaan nie hul prominentste figuur nou skielik aan die skandpaal hang nie, want sy sondes kan immers teruggelei word na hulle toe. Hulle sal wil hê als moet nou vergeet word sodat hulle lustig kan voortplunder.

 

Behalwe vir Ramaphosa se halfhartige en onduidelike aandrang dat diegene wat met staatskaping besig is, vervolg moet word, is daar geen klinkklare tekens dat hy Zuma sal laat vervolg nie. Dit sal ook sekerlik die ANC skade berokken en dit verdeel (en selfs laat skeur) terwyl dit Ramaphosa uiters ongewild sal maak – selfs onder sy eie ondersteuners. Voorts borduur hy uitsluitlik voort – nes Dlamini-Zuma – oor die noodsaak daarvan om grond by boere te konfiskeer en dit aan mense te gee wat nie kan boer nie. Hy praat ook van die noodsaaklikheid van radikale ekonomiese transformasie en dat die nasionale demokratiese rewolusie stukrag moet kry. Hy het juis aan die begin van November aangevoer dat hy die grond aan die “regmatige eienaars” gaan teruggee as hy eers aan bewind is. Voorts doen hy min konkrete voorstelle aan die hand oor hoe hy kwansuis beleggersvertroue wil herstel.

 

Hy wyk geensins af van die mislukte ANC-beleide wat hierdie land al soveel skade berokken het nie en het laas jaar vir die Kubaanse diktator Fidel Castro geloof (sonder om hom te kritiseer) ná die se dood. Sy taak is eintlik ook om sy party en die drieparty-alliansie te hervorm deur (stellig ongewilde) besluite in te voer, maar klaarblyklik het hy nie die moed of lus om dit te doen nie.

 

Dlamini-Zuma is kennelik selfs erger.

 

Terwyl daar hot en bles gesweet word om te bepaal wie uiteindelik hierdie wedloop gaan wen, is dit 'n uitgemaakte saak dat hoewel Ramaphosa dalk die ANC 'n tydelike tweede asem kan gee indien hy wen, selfs hý nie op die langer termyn nuwe asem in die land en ekonomie gaan inblaas of korrupsie gaan hokslaan nie. Hy bly verknog aan die ANC en solank dit die geval is, sal slegs die land die uiteindelike verloorder wees van die ANC se leierskonferensie.

 

 

  • 260
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close