Algemeen -

Kommentaar: Sassa wil wéér 'n krisis skep

Dit wil sterk voorkom of die gebeure van 2016, wat die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) in 'n krisis gedompel het, hulself nou herhaal.

 

Bathabile Dlamini, die minister van maatskaplike ontwikkeling, het haarself as uiters onbevoeg vir haar amp bewys toe sy laat in 2016 aangevoer het dat sy eers in November uitgevind het dat Sassa nie gereed is om self die uitbetaling van maatskaplike toelae aan 17 miljoen begunstigdes te behartig nie. Sy is al in April verlede jaar daarvan in kennis gestel. Of sy nou daarvan ingelig is of nie, is dit moeilik om te aanvaar dat 'n minister wat amper uitsluitlik op Sassa behoort te fokus, vir sowat sewe maande nie bewus kon wees van 'n broeiende, massiewe krisis nie. Eerder as wat dit uit totale onkunde gebeur het, was dit klaarblyklik eerder 'n korrupte konkelary om 'n krisis af te dwing sodat Cash Paymaster Services (CPS) kan voortgaan om die toelae uit te betaal.

 

Die konstitusionele hof het vroeër vanjaar beslis dat die CPS-kontrak onwettig is en dat 'n ander manier voor 1 Maart 2018 gevind moet word om die toelae uit te betaal voordat die CPS-kontrak verstryk. Dit wil lyk asof 'n soortgelyke krisis nou, in November 2017, weer aan die broei is.

 

Hierdie keer blyk dit duidelik te wees dat Sassa die plig om toelae te betaal nie aan die Poskantoor wil oorgee nie – al kan en moet hulle eintlik. Eerder as wat hulle eenvoudig voortgaan om al vier die dienste wat gelewer moet word, aan die Poskantoor te oorhandig, is hulle besig om kat en muis te speel. Dit is 'n gevaarlike speletjie om met miljoene mense se enigste inkomste en die land se sosiopolitieke bestendigheid te speel.

 

As die Poskantoor dan aangedui het dat hulle, afgesien van die skep van 'n inligtingstegnologiestelsel, wel die ander drie dienste wat vereis word (vervaardiging van Sassa-kaarte, die skep van bankdienste vir die uitbetaal van toelae en die verskaffing van betalingspunte) kan en wil lewer, hoekom sal die Poskantoor met betreklik min tyd tot sy beskikking dan op nog 'n krisis wil afstuur? Die eenvoudige antwoord is dat 'n krisis hul agenda pas omdat hulle hoop dat die kontrak maar ter wille van stabiliteit weer aan die korrupte CPS toegeken word. Mark Barnes, uitvoerende hoof van die Poskantoor, is iemand wat die Poskantoor kan en wil regruk en daarom nie korrupsie gaan duld nie. Hy en sy instelling staan dus in die pad van die korruptes in die staat om op groot skaal te skep, terwyl CPS oënskynlik besig is om gunslone en omkoopgeld aan belangrike mense te betaal.

 

Vandeesweek se gebeure getuig van 'n voeteslepery, moedswilligheid en politieke agendas. Die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling en die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het Sassa en die Poskantoor gedwing om Dinsdag te vergader om hul geskille by te lê. Hooggeplaastes soos Dlamini, dr. Siyabonga Cwele (minister van posdienste en telekommuniskasie), Barnes en Pearl Bhengu (uitvoerende hoof van Sassa) het toe vergader, maar dit was bloot 'n samekoms van rolspelers en die probleme is allesbehalwe opgelos.

 

Aldus Netwerk24 het dit by die vergadering na vore gekom dat die twee instellings se tegniese spanne nog nooit eers ontmoet het nie. Dit is selfs meer onrusbarend in die lig daarvan dat Sassa se probleme met die CPS-kontrak en om self die uitbetalings te doen, al minstens twee jaar lank bekend is. Hulle moes dus lankal ondersoek ingestel het na die Poskantoor se gereedheid, want laasgenoemde is die logiese keuse om die dienste te lewer. Die direkteur-generaal van die tesourie, Dondo Mogajane, wat die proses fasiliteer, het ná afloop van die vergadering aan Netwerk24 gesê die hele proses ly onder 'n gebrek aan politieke leiding van die interministeriële komitee (IMK) wat dit moet oorsien. Niemand anders nie as pres. Jacob Zuma is die voorsitter van dié komitee.

 

Die Poskantoor het reeds telkens aangedui dat hy al die dienste kan lewer en hy kan dit heel waarskynlik doen, maar Sassa se sinistere motiewe blyk duidelik daaruit dat hulle nog geen redes verskaf het hoekom die Poskantoor nie die ander dienste ook kan verskaf nie. Sassa het nou eers die tesourie gevra om te bepaal of die Poskantoor wel die dienste kan verskaf – maande ná die uitspraak deur die konstitusionele hof en met jare se kennis van die probleme wat met toelae en die dringendheid daarvan ondervind word.

 

Berei maar voor vir nog hofstryde en krisisse oor toelae in die komende vier maande. Die hartseer deel is dat dit als voorkom kon word, maar dan weer is 'n ANC-leierskonferensie op hande in Desember en daarna kan die ANC selfs nog meer verdeeld wees.

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close