Algemeen -

Kommentaar: Staat té stil oor staatskaping

Die staatskapingsdebakel is nou besig om vinnig te ontrafel en talle groot internasionale maatskappye is besig om harde, selfs fatale, lesse hieruit te leer. Eers het die spindokters, Bell Pottinger, hul moses teëgekom toe hulle uit die vernaamste bedryfsliggaam vir openbareskakelingsfirmas in Groot-Brittanje geskop is en nou onder administrasie geplaas is. Dit het internasionale nuus geword.

 

Kort op hul hakke het die ouditfirma KPMG gevolg, die konsultasiemaatskappy McKinsey en die programmatuurreus SAP. Hulle word daarvan verdink dat hulle gehelp het met die berugte Gupta-familie se korrupte bedrywighede, of ten minste hulself blind gehou het daarvoor. Pres. Jacob Zuma en die Guptas, wat sentraal in die staatskapingskandaal staan, ontken enige onregmatighede.

 

Gee hierdie firmas ten minste 'n mate van krediet vir hul (weliswaar vertraagde en reaktiewe) hantering van die krisis. Agt grootkoppe by KPMG het reeds bedank en McKinsey en SAP het reeds mense afgedank en interne ondersoeke geloods.

 

Veral KPMG is diep in die sop. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se hoof, Tom Moyane, is op die oorlogspad teen hulle oor onetiese en onakkurate bevindinge in hul verslag oor die sogenaamde rogue (skelm-) eenheid wat onder Pravin Gordhan se leierskap by Jan Taks ontstaan het. Die parlement en opposisiepartye ruik ook bloed oor KPMG se gedrag. Talle van KPMG se kliënte is hoogs ontevrede of het hulle al as hul ouditeure in die pad gesteek. Gordhan wil hulle ook dagvaar.

 

Wat egter sterk opval, is die gebrek aan optrede en sterk kritiek deur die amptelike wetstoepassingsagentskappe oor hierdie maatskappye se dwalinge. Net soos in die geval van die ander ondersoeke na die Guptas, hooggeplaaste ampsdraers en ANC-politici oor staatskaping is die polisie, die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oënskynlik tjoepstil en ongestoord oor die nuutste verwikkelinge. Die media, burgerlike samelewing en opposisiepartye is verantwoordelik vir die meeste van die stof wat hieroor opgeskop word.

 

'n Paar ontleders het hul prognose hieroor gelewer. “While there is an elaborate regulatory framework and constitution in place to keep the state in check, in practice we have seen that circumvented and not responded to,” het Jay Kruuse, die direkteur van die Verantwoordbaarheidsmonitor vir die Openbare Diens by Rhodes-universiteit in Grahamstad, aan Fin24 gesê. “The checks and balances in the state have been progressively weakened. Investigations drag on and on. It’s a consequence of a failure in leadership across the board.”

 

Volgens Russel Lamberti van ETM Analytics gaan openbare en korporatiewe bestuur hand aan hand en hy voer voorts aan dat die bron van die kwaad in die staat gesetel is. “If we maintain a corrupt government, it’s not going to be very easy for corporate South Africa to stay clean. I don’t see signs of a systemic problem yet, but unless we clean up government then you can see how this starts to suck more people down with it.”

 

Dit is wel ironies en betekenisvol dat Moyane, wat KPMG gelas het om die ondersoek te doen, nou steeds vasklou aan die teorie dat die eenheid wel bestaan het ondanks KPMG se totale ommekeer daaroor. Hoekom wil hy hulle dan hof toe sleep as hy steeds bewyse soek dat dít wat hulle grootliks teruggetrek het, wel waar is? Dit is hoegenaamd nie onwaarskynlik nie dat Moyane KPMG aangesê het om 'n voorafbepaalde teorie met hul bevindinge te staaf. Hy is toe woedend dat KPMG hulself in die openbaar daarvan gedistansieer en erken het dit was verkeerd en Moyane se vete teen Gordhan nou in wese 'n uitklophou toegedien is.

 

Die Valke en NVG het egter nie gehuiwer om op Gordhan jag te maak nie (net om later als misterieus te laat vaar). Hulle lê opsluit nie dieselfde ywer nou aan die dag nie en Moyane is net kwaad omdat hy nie van KPMG se u-draai oor die verslag hou nie want dit laat hom en die SAID sleg lyk. Anders as by KPMG en McKinsey, wil niemand in die staat pa staan vir die staatskapingsfiasko en bedank nie. Ons het rede om sterk bedenkinge oor hul motiewe te hê en bekommerd te wees.

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close