Algemeen -

Kommentaar: Steun stryd oor Afrikaans in howe

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) se optrede om hoofregter Mogoeng Mogoeng se polities-gemotiveerde besluit te stuit om slegs Engels in die hoër howe toe te laat, behoort die verbeelding en belangstelling van almal vir wie Afrikaans na aan die hart lê, aan te gryp.

 

Al het Afrikaans ook as hoftaal oor die afgelope 20 jaar gekwyn, is dit ʼn skending van Afrikaanssprekendes se taalregte en ʼn ondermyning van meertaligheid om slegs Engels, wat die meeste van die land se mense maar swak magtig is, in ʼn belangrike forum soos die howe toe te laat. Dit is ook een wat in wese ʼn breër anti-Afrikaanse golf, veral by die universiteite, weerspieël en ry.

 

Getuies en regslui sal natuurlik steeds toegelaat word om Afrikaans in die laer howe te besig, maar dit is nogtans ʼn harde simboliese hou vir die taal as dit in die hoër howe verbied word. Hierdie stap kan ook ʼn sogenaamde “gladde afdraande” word omdat ʼn verbod op Afrikaans in die hoër howe dan later maklik na die hele hofstelsel uitgebrei kan word sodat Afrikaans as hoftaal en later ook as regstaal vir alle praktiese doeleindes ʼn nekslag toegedien word.

 

Volgens die VRA is dit boonop ongrondwetlik. “Mogoeng en sy kollegas misken die fundamentele beginsels van die skeiding van magte. Hulle het vir hulself onregmatig wetgewende magte, wat slegs deur die nasionale wetgewer uitgeoefen mag word, aangematig,” lui ʼn verklaring deur dié organisasie op die nuuswebwerf Netwerk24. Die VRA kap ook vir Mogoeng omdat hy as hoofregter juis die letter en gees van die Grondwet nougeset moet uitleef, maar dit misken met hierdie besluit en nie wyd genoeg daaroor gekonsulteer het nie. Hulle beskou hierdie besluit as ultra vires (buite sy magte), ongrondwetlik en prosedureel onbillik.

 

Die VRA bied ook ʼn alternatiewe oplossing: “Wat die hoofregter uit die staanspoor moes doen, was om ʼn doeltreffende stelsel te skep waardeur die onderskeie amptelike tale so gebruik kon word dat die beste belang van die publiek daardeur gedien word.” Ingevolge art. 8 van die Wet op Hoër Howe, rus daar ʼn verpligting op Mogoeng om dit te skep. “Dit is duidelik dat die hoofregter nagelaat het om daardie verpligting na te kom.” Die VRA het ʼn litigasiekomitee aangestel om die grondwetlike gevolge van die besluit te ondersoek en alle opsies te oorweeg.

 

“Die VRA is bereid om op ʼn konstruktiewe wyse mee te werk aan die daarstelling van ʼn werkbare en funksionele taalbestuursplan en om sy kundigheid aan die hoofregter se kantoor beskikbaar te stel om so ʼn plan te ontwikkel sodat die howe effektief kan funksioneer en terselfdertyd taalregte kan akkommodeer,” het Dawie Beyers, die voorsitter van die VRA, gesê. Hy het ook die organisasie se steun vir ʼn ope brief van professore Russell Kaschula, Monwabisi Ralarala en andere, soos gepubliseer in City Press van 17 September 2017, uitgespreek. Die VRA wil met ander belanghebbende organisasies en indiwidue wat hulle ook vir taaldiversiteit beywer, saamwerk. Harde en sagte weerstand word dus gekombineer.

 

Die inisiatief van die VRA verdien die steun van die Afrikaanse publiek en van alle enersdenkendes. In die verband het AfriForum reeds sy steun daarvoor uitgespreek.

 

Hierdie besluit, en soortgelykes wat in ʼn later stadium kan volg, kan die einde van Afrikaans as regs-, notulerings- en hoftaal beteken. By baie voormalig Afrikaanse universiteite is die regsdepartemente darem nog sterk handhawers van Afrikaans te midde van ʼn universitêre omgewing wat snel verengels. Prof. Koos Malan, hoogleraar in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, voer aan dat die afskaling en uiteindelike beëindiging van Afrikaans as notuleringstaal – die taal waarin hofverrigtinge opgeteken en uitspraak gelewer word – verskeie nadelige gevolge vir die taal sal hê. Afrikaans sal byvoorbeeld beperk word tot die taal waarin getuienis afgelê word en dit sal ʼn wesenlike en besliste impak op regstudies in Afrikaans en ook op publikasies en regsmateriaal in Afrikaans hê. Dit sal volgens hom ook net Afrikaans uitsonder vir benadeling as regstaal omdat dit nie die ander tale – wat nie regstale is nie – raak nie. Mens hoef nie lank en hard te wonder oor hoe lank dit sal neem voordat Afrikaanse getuies gedwing gaan word om eerder maar net (baie keer swak) in Engels te getuig nie, of vir die hoofregter om net weer ander verkeerde besluite per dekreet te neem as hy met die huidige een kon wegkom nie.

 

Afrikaans is met groot moeite in die 20ste eeu tot regstaal verhef deur die eerste Afrikaanse uitspraak wat in 1933 gelewer is en deur stelselmatig meer regshandboeke in Afrikaans uit te gee en meer Afrikaanse regslui wat die beroep betree het. Al hierdie harde werk, wat nou verband hou met Afrikaners se politieke en ekonomiese lot, sal ongedaan gemaak word deur ʼn politieke maar rigtinggewende besluit wat wyer kan uitkring. En soos vroeër beskryf, sal dit wyer implikasies vir die hele Afrikaanse regswese en regstaal, sowel as vir regspleging inhou indien dit nie beveg word nie. Dit sal Afrikaans ook verder op die glybaan na ʼn kombuistaal plaas.

 

Daarmee saam moet Afrikaanse studente steeds aangemoedig word om hul studies in Afrikaans te voltooi want indien die aanvraag vir die taal bly voortbestaan en groei, het die taal ʼn oorlewings- en groeikans in die regswese. Anders gaan die taalkundiges, Ellen Lombard en Terrence Carney, se verdoemende woorde profeties raak: “Die uiteinde van die saak is dat Regsafrikaans stelselmatig (maar aansienlik vinniger as wat meeste mense vermoed) afstuur op taal(self)moord.”

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close