Algemeen -

Kommentaar: Swart Maandag en 'n burgery wat omgee

Die jaar 2017 was al 'n jaar van groot optogte. Dit is 'n onteenseglike aanduiding van die vlak van desperaatheid (eenvoudig gestel: gatvolheid) wat onder die publiek en veral die Afrikaanse gemeenskap posgevat het oor 'n wye reeks probleme in die land.

 

In April het groot groepe mense tydens twee agtereenvolgende weke in verskeie stede regoor die land saamgetrek om teen pres. Jacob Zuma se besluite te betoog. Tekenend van 'n man wat geen verweer meer oor het nie, het hy die veelrassige groep optoggangers van rassisme beskuldig sonder om eers enigsins selfs net sydelings te erken dat sy optrede tot hul ontevredenheid kon bygedra het.

 

Vandag is Swart Maandag en duisende mense regoor die land trek spontaan saam oor plaasmoorde. In Kaapstad, Pretoria, Bloemfontein, Stellenbosch, Humansdorp en baie ander plekke. En ons het baie goeie redes om kwaad te wees. Terwyl die moordkoers vir die hele Suid-Afrika 34 per 100 000 is, is dit 156 per 100 000 boere.

 

Plaasmoorde het volgens die polisie se misdaadstatistieke met 27,5% in 2016/’17 gestyg en plaasaanvalle met 22,9% terwyl gewone moorde met 1,8% gestyg het. Volgens AfriForum was daar reeds sedert die begin van die jaar minstens 341 plaasaanvalle waartydens 70 mense vermoor is. Daar is dus vanjaar reeds soveel moorde op plase gepleeg as tydens die hele bloedige 2016. Die syfers vir aanvalle en moorde het oor die laaste ses jaar skrikwekkend gestyg: van 96 aanvalle en 48 moorde in 2011 tot onderskeidelik 357 en 70 verlede jaar. Volgens AfriForum is hierdie syfers konserwatief aangesien slegs verifieerbare syfers aangeteken is.

 

Dit is dus geen gewone probleem nie; trouens, dit is eintlik 'n unieke probleem wat die platteland betref, waar misdaad veel laer as in die stede is. En nie net wit boere ly hieronder nie. Plaaswerkers en swart boere word ook vermoor. Boerdery speel boonop 'n uiters belangrike rol in die ekonomie en voedselproduksie. 'n Mens kan sover gaan om te sê dat die boer se lotgevalle die lotgevalle van die hele land bepaal.

 

Dis egter nie net onpersoonlike statistieke wat saak maak nie – inteendeel. Baie van ons ken iemand wat al deur 'n plaasmoord of -aanval geraak is. Mense soos Joubert Conradie, Kyle Stols, Bob Gawler, Pat Peterson, Herman Botha asook Gert, Paulina, Louis en Belinda Smuts is slegs sommige van die mense wat vanjaar tydens plaasaanvalle vermoor is. Hulle het gesinne en geliefdes nagelaat. Hulle was mense wat met harde werk 'n noodsaaklike bydrae tot die land en sy mense se welsyn gelewer het. Louis en Belinda Smuts se kinders het eensklaps hul ouers en grootouers verloor. Waarvoor??

 

Maar dit is nie al nie. Hierdie probleem word aangeblaas deur onkunde, ongeërgdheid, moedswilligheid en selfs aanhitsing. Die ANC en die EFF het plaasmoorde vroeër vanjaar tydens 'n afgewaterde parlementêre debat afgelag en selfs regverdig. Dit is ook húlle wat boere deurentyd verdag maak en hul lewens en prestasies goedkoop maak.

 

Die minister van polisie tree tewens ten beste reaktief op. Nadat vier mense in Augustus in een naweek op plase vermoor is en Mbalula ongeërg was daaroor, wou 'n verslaggewer van 'n Afrikaanse koerant hom pols oor wat daaraan gedoen gaan word. Sy woordvoerder het selfversekerd verklaar dat daar wel planne op die tafel is. Hy sou egter niks gesê het indien hy nie daaroor uitgevra is nie. Weke later het Mbalula tydens 'n kongres van Agri SA baie kragdadig (hoe anders?) plaasmoorde veroordeel asook boere geloof en heuning om die mond gesmeer. “Plaasmoorde sal nie geduld word nie!” het hy uitgevaar.

 

Dit is presies wat hy verlede week oor alle geweldsmisdaad gesê het en die plaasmoordplan (nes sy plan om die weermag in misdaadgeteisterde gebiede in die stede te ontplooi) is nou nog niks nader aan verwesenliking nie. Plaasmoorde is immers reeds in 2016 as 'n prioriteitsmisdaad verklaar en die probleem word net al groter.

 

Ons moet ook nie in die waan verkeer dat die minister of enige ander regeringsamptenaar vandag se optogte ernstig gaan opneem nie. Hulle sal dit waarskynlik net ignoreer of selfs as rassisties afmaak.

 

Dit moet ons egter nie afskrik nie. Dit is ten minste 'n daad van roubeklag en meelewing met ons boere. Dit wys dat te midde van verval in regeringskringe en die res van die land, daar steeds mense is wat omgee; in plaas van gaan lê wil hulle iets DOEN. Dan is daar altyd hoop.

 

Versoekskrifte moet dus met oorgawe geskryf en ondersteun word, meer optogte en saamtrekke moet gehou word, en veldtogte en veiligheidsprojekte moet geloods en aktief gesteun en onderhou word. Organisasies wat hierdie probleem beveg, verdien ons hulp. Ons woede en optrede moet dus sigbaar, tasbaar en betekenisvol bly. Ons moet ons laat geld – nie net vandag nie maar elke Maandag en die res van elke week, maand en jaar.

 

Foto: Reint Dykema

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close