Algemeen -

Kommentaar: Swart Maandag was 'n sukses

Swart Maandag sou nooit volmaak gewees het nie. Dit was iets wat in 'n kort tydjie spontaan ontstaan het en dit was ook 'n soort katarsis. Niemand het ooit voorgegee dat dit perfek sou wees nie. Maar dit was nodig en op die keper beskou is daar nooit regtig 'n volmaakte tyd om so iets te laat gebeur nie. As daar vir so 'n tyd gewag word, sal daar nooit enigiets gebeur nie.

 

Duisende mense – meestal wit maar ook heelwat mense van alle rasse – het landwyd vreedsaam saamgetrek om teen 'n enorme vloek op ons land en samelewing op te staan. Van die noorde van Pretoria tot onder in die Kaap het duisende mense ten minste vir een dag op verskeie plekke saamgetrek en gebid vir iets wat hierdie land groot skade berokken. Anders as vele ander optogte in Suid-Afrika was dit wettig, vreedsaam en in die algemeen nie ontwrigtend nie.

 

Dit was wat die hele land moes doen nadat daar verlede week bekend gemaak is dat bykans 20 000 mense verlede jaar vermoor is. Maar helaas het dit nie gebeur nie.

 

So ‘n protesdag oor plaasmoorde sou ook nooit oral gewild wees nie en diegene wie se politieke agenda nie deur die plaasmoorde en die teenwoordigheid van wit boere gedien word nie, sou altyd wou fout soek. Hul agendas en hul eie rassisme, vooroordeel, ongevoeligheid en skynheiligheid is egter net in die soeklig geplaas. Die ANC as regerende party het verlede week absoluut niks te sê gehad oor al die geweldsmisdaad in die land nie, laat staan nog plaasmoorde. Hul swak rekord in regering en misdaadbekamping is die primêre rede hoekom misdaad buite beheer is. Hulle het hulself egter gister die reg aangematig om 'n steek in te kry oor mense wat die ou vlag geswaai en gedra het. In die verklaring kap hulle ook na sekere wit boere wat hul werkers mishandel. Die laaste paragraaf handel uitsluitlik oor hoe die “demokratiese regering” nog van plan is om misdaad te bekamp.

 

Hulle is dus tjoepstil oor die moorde van boere en ander mense, sukkel om te spog oor hoe hulle enige misdade bekamp het in die verlede en lyk planloos vir die toekoms, maar kry byna 'n oorval omdat mense die ou vlag dra. Hierdie verklaring, een van min ooit deur die ANC oor iets wat met misdaad verband hou, is net uitgereik om 'n grootliks wit optog te kap wat 'n ongemaklike waarheid uitlig. Die ANC hou mos eintlik van 'n mak burgery wat nie vrae oor korrupsie en misdaad vra nie. Hierdie stuk skynheiligheid kan dus as nog 'n sukses van Swart Maandag afgemerk word want dit bevestig weer eens hoe uit voeling die regerende party is. Geen wonder geweldsmisdaad is buite beheer en die ekonomie is in die waaksaal nie.

 

Voorts het die internasionale media soos SkyNews daaroor berig en dit heel ewewigtig gedoen. Die plaaslike Engelse hoofstroommedia wou dit in die algemeen weer als oor rassisme en die ou vlag maak – en nie oor plaasmoorde nie – en dit moes verwag word. Hul agendas is dus net weer bevestig, maar hulle kon nie hierdie golf van protes ignoreer nie. Op die sosiale media het baie mense van alle rasse dwardeur hul agendas gesien.

 

Ook die minister van polisie en ywerige twieter, Fikile Mbalula, het uitgevaar teen die gebruik van die ou vlag. “Wat is hierdie arrogante vertoning van onsensitiwiteit en miskenning van ons verlede?” het hy op Twitter gebulder. Dit is uiters ironies dat iemand wat sy plig versaak om Suid-Afrikaners veilig te hou, kies om niks oor die moorde op só 'n dag te sê nie en eerder net ander te kritiseer. Die minister het ook die DA gekap oor hul steun daarvoor. Die DA het die gebruik van die ou vlag veroordeel, maar die realiteit van 52 moorde per dag beklemtoon.

 

Diegene wat onsensitief is oor moord en veral plaasmoorde se bona fides en agendas is weer eens skouspelagtig deur Swart Maandag beklemtoon. Hulle het probleme gaan soek en slegs kleintjies gekry wat hulle oorbeklemtoon het ten koste van die moored en die groter saak. Laat dit dan só opgeteken staan.

 

Diegene wat gedink het Afrikaners kan en mag nie alleen opstaan teen plaasmoorde nie, is ook verkeerd bewys. Die moed en selfvertroue van diegene wat ten spyte van als opgedaag het vir die protesaksies, het te oordeel aan die reaksie op sosiale media heelwat respek by 'n diverse klomp mense ingeboesem. Die kritici en foutsoekers sal altyd daar wees en hulle moet bloot geïgnoreer word. Die protesgangers het gister 'n kleim afgesteek en vir ander mense gewys wat moontlik is. Dit was 'n sukses en nou moet dit net volgehou en uitgebrei word.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close