Algemeen -

Kommentaar: Trots nie genoeg vir aanhou wen

Die land kan beslis trots wees op die Springbokke. Hulle het Saterdag uitgehaal en gewys teen die wêreldkampioene. Baie spelers het hul gehalte ten toon gestel en veral die voorspelers het die grondslag vir hierdie enorme poging gelê. Malcolm Marx, sy skewe ingooie in die Albany-slagting ten spyt, is waarskynlik Suid-Afrika se speler van die reeks.

 

Die media het ook die heuningkwas mildelik ingespan – en met goeie reg. Craig Ray skryf in die Sunday Times dat 'n verloorspan nog nooit só verdien het om te wen nie. Rapport het prontuit op die voorblad verklaar: “Die trots is terug!” Talle plaaslike en internasionale media het oor die Bokke se “herwonne trots” geskryf en die oud-Bokkaptein Corné Krige het ook gesê ons wou net sien hoe die spelers met trots speel. Die Bokke is beslis beter as 0-57.

 

Nie om enigsins afbreuk aan die Bokke se monumentale poging te doen nie, moet daar egter 'n paar voorbehoude ook genoem word. Dit is eerstens goed opgesom deur die oud-Boksenter Hennie le Roux in sy kommentaar aan Rapport: “Hoekom ons eers 'n klap moet kry voordat ons só kan speel, weet ek nie.” Trouens, niemand weet hoekom nie. Hierdie wedstryd was eintlik net 'n “victory lap” vir die All Blacks gewees nadat hulle reeds die vorige week die Rugbykampioenskapstitel teen die Poemas in Argentinië gemaklik verdedig het.

 

Hulle het wel amper verloor, maar 'n mens kan hulle vergewe vir 'n flouer ingesteldheid en uitgedunde range. Brodie Retallick is tans die beste slot ter wêreld en hy het hierdie toets misgeloop omdat sy vrou 'n miskraam gehad het. Etlike topspelers – waaronder Sam Whitelock, Ryan Crotty en Sam Cane – het drie weke tevore laas teen die Bokke in Albany gespeel omdat Steve Hansen, die All Blacks se breier, hulle 'n blaaskans wou gee voor die November-toer na Europa. Hansen het ná die stryd erken dit was 'n groot waagstuk wat amper in hul gesigte ontplof het. Hulle het inderdaad verroes gelyk en dit was veral in die Bokke se oorheersing voorlangs opmerklik.

 

Daarenteen het die Bokke na die historiese Albany-nederlaag soveel druk gekry dat hul trots en motivering hemelhoog was. En nogtans het hulle verloor deur simpel foute te maak en strafdoele en gulde geleenthede te verbrou. Die All Blacks gryp juis daardie gulde geleenthede aan as hulle op die agtervoet is en vind maniere om te wen – nes in Saterdag se toets. Trots is iets wat enige internasionale rugbyspeler altyd moet hê en motivering is iets wat in die Bok-konteks baie wispelturig voorkom. Die All Blacks is altyd trots om vir daardie trui te speel, want hulle weet slegs die bestes dra dit. Hul motivering is altyd hoog genoeg om mededingend te wees en die meeste van die tyd te wen – ongeag waar hulle speel en hoe ver hulle moet reis. Die Japanse en Italiaanse spelers het ook nog altyd groot trots en passie gehad, maar hulle het nie die Springbokke slegs daarmee geklop nie. Hul vaardighede het baie verbeter en hulle het nie daardie groot oomblikke deur hul vingers laat glip nie. Trots is uiteraard belangrik, maar dis ‘n gegewe vir elite-rugbyspelers. Vaardighede, die uitskakeling van duur foute en oortredings, die regte strategie vir jou sterkpunte, konsekwente motivering en die slim uitbuit van ander se foute is wat ook die knoop deurhak. En daarmee het die Bokke Saterdag weer nie enduit die pyp gerook nie.

 

Allister Coetzee het ná die Nuweland-stryd verklaar dat hy tevrede is met hoe die Rugbykampioenskap verloop het. Die feit is die Springbokke het slegs twee van hul Rugbykampioenskap-wedstryde gewen – dieselfde as in die mistroostige 2016 en op 33% is dit dieselfde wenkoers as wat die Springbokke deur die hele 2016 gehandhaaf het. Hulle het vanjaar 'n groter pakslae teen die All Blacks in Albany gekry as wat hulle verlede jaar in Durban gekry het. Hulle kon Australië nie eens in Suid-Afrika klop soos in 2016 nie en kon slegs vir Argentinië, wat klaarblyklik tans ook met hul vorm sukkel, twee keer troef. Suid-Afrika het per slot van rekening in slegs die derde plek (oftewel tweede laaste) in vanjaar se Rugbykampioenskap geëindig. Voorts het hulle in Junie 'n verswakte, middelmatige en moeë Frankryk geklop.

 

Dit gaan baie meer as net moed en trots verg om voortdurend te wen, want Australië is klaarblyklik nie swakkelinge nie, die All Blacks gaan net van krag tot krag, en die Britse en Ierse Leeus het vanjaar gewys sy saamgestelde spanne is almal uiters mededingend. Daar wag dus nog strawwe toetse op die Springbokke in November in die vorm van 'n opgekikkerde Frankryk, Ierland, Wallis en Italië op swaar Europese velde. Hulle kan straks teen Frankryk, Ierland en Wallis vasval en dan is hul wenpersentasie vir 2017 steeds 'n “druippunt” van 46% – beter as in 2016, maar nie iets waarmee een van die top-rugbynasies tevrede kan wees nie.

 

Dis goed en wel om aan te voer dat daar tans eerder op prosesse as uitslae gefokus moet word. Maar vorige afrigters en Bokspanne het baie van dieselfde probleme as Coetzee en vandag se Bokke gehad en steeds 'n skaflike wenrekord gehandhaaf. Die Bokke het die wêreld ongelukkig nog nie oortuig dat hulle die grotes konsekwent kan tem nie, al is daar talle ligpunte. November is dus hul kans om hierdie persepsies effens te wysig – of te versterk.

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close