Algemeen -

Kommentaar: Tyd is ryp vir Nel om Zuma te gryp

Vrydag se verwerping van pres. Jacob Zuma en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se appèl teen die aanklagte van bedrog teen die president deur die appèlhof was uiters betekenisvol, al hou dit nie enige onmiddellike politieke en regsimplikasies vir die president in nie. Dié hof het beslis die uitspraak deur die hooggeregshof – waarteen geappelleer is – bly staan en is onberispelik.

 

Die uiteinde hiervan is dat Zuma nou op 18 aanklagte tereg moet staan wat onder meer gaan oor die 783 betalings wat aan Zuma gedoen is en wat deel uitmaak van sy voormalige raadgewer en veroordeelde bedrieër, Schabir Shaik, se verhoor en skuldigbevinding. Die klagte is in 2009 – toe Zuma ongekende gewildheid beleef het – deur die Nasionale Vervolgingsgesag laat vaar. Zuma se regsman, Kemp J. Kemp, het self onlangs erken dit was irrasioneel om die aanklagte terug te trek.

 

Zuma kan uiteraard nou teen die appèlhof se uitspraak appelleer deur hom tot die konstitusionele hof te wend, maar daar moet gronde daarvoor wees. Anders moet hy aangekla word. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan omdat die NVG – soos blyk uit hierdie saak – hard saam met Zuma baklei sodat hy nié aangekla moet word nie. Die NVG veg dus teen sy eie bestaansrede, maar in Suid-Afrika is feit baie keer vreemder as fiksie. En die NVG is duidelik ook bevooroordeeld en selektief met hul vervolging. Die NVG wil nou met mening nog vervolgings instel oor sake wat met apartheidsmoorde verband hou, soos dié van Ahmed Timol, maar het klaarblyklik geen aptyt vir Zuma se saak nie.

 

Die DA het druk op adv. Shaun Abrahams toegepas en hom tien dae gegee om te besluit of hy Zuma gaan vervolg of nie. Sy reaksie is dat hy die uitspraak nog bestudeer, berig Netwerk24. Dit is amper ʼn uitgemaakte saak dat Abrahams, wat deur Zuma as nasionale direkteur van openbare vervolging aangestel is, sal sloer om tyd te wen deur die saak met allerlei kullery nog verder uit te rek. Zuma wil glo nou nuwe voorleggings aan Abrahams doen oor hoekom hy nie vervolg behoort te word nie – ʼn goedkoop set om nog tyd te wen en iets wat hy al lankal kon gedoen het. Op 75-jarige ouderdom kan Zuma oor vyf of tien jaar dalk te oud of dalk al oorlede wees om sy dag in die hof te kry as die proses net aan die NV oorgelaat word.

 

Die konteks van hierdie gebeure is ook baie interessant en betekenisvol. Veral die ANC se reaksie. Eerstens het hulle gevra dat daar tussen die president en die party onderskei word. Volgens hulle is die president dus in hierdie konteks die hoof van die regering en probeer hulle afstand skep tussen hom as staatshoof en die ANC as regerende party (waarvan hy toevallig ook nog leier is). Wat dus sleg is vir die president, hoef dus nie sleg te wees vir die party nie. Dit gaan helaas nie heeltemal so maklik werk nie en sy wandade is in die verlede telkens al hartstogtelik deur hulle verdedig, goedgepraat of geïgnoreer. Laasgenoemde is toe presies wat hulle ook “amptelik” gedoen het deur nie ʼn verklaring oor hierdie baie belangrike aangeleentheid uit te reik nie. Daar is niks op die ANC se webwerf hieroor nie. Een ding wat hulle wel nié gedoen het nie, is om hom te verdedig. Hulle weet dit sal politieke selfmoord wees in ʼn tyd wat ANC-steun weens Zuma bloei terwyl ʼn nasionale verkiesing naderkom. En met ʼn groot deel van die ANC en hooggeplaastes soos Gwede Mantashe wat teen Zuma gedraai het, wóú hulle hom stellig ook nie verdedig nie.

 

Terselfdertyd bepleit die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) ook nou ʼn soort Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) oor staatskaping, waarin Zuma natuurlik die hoofrol speel. Blykbaar is sommige politieke partye ook te vinde daarvoor. Die skuldiges kan dan vervolging vryspring deur oop kaarte oor als te speel. Dit is effens problematies en ook ondoeltreffend, maar dit wys ten minste hul tasbare afkeur.

 

Selfs die regering en die ANC se alliansievennote doen hul bes om vyandig jeens en bekommerd oor staatskaping voor te kom. Solly Mapaila, eerste adjunk-hoofsekretaris van die SAKP, het erken die vervolgingsliggame kyk anderpad vir die kanker van staatskaping en korrupsie, of is self daarin vasgevang, aldus Netwerk24. Volgens Mapaila is alle regeringsvlakke bevlek met staatskaping en korrupsie.

 

Selfs Malusi Gigaba, ʼn Zuma-kornuit en minister van finansies, het aan CNN gesê dit is redelik kommerwekkend vir die Suid-Afrikaanse ekonomie dat aanklagte weer teen Zuma ingestel is. Hy het die onafhanklikheid van die howe geloof en sy steun vir ʼn geregtelike kommissie van ondersoek na korrupsie uitgespreek. Hy het dus net gesê wat CNN en die wêreld wou hoor en nie gesê hy steun enige vervolging teen Zuma nie. Die herinstel van aanklagte teen Zuma is boonop eerder goed as sleg vir die ekonomie. En só ʼn kommissie sal niks anders as ʼn soort “whitewash”-meganisme deur die ANC wees om als amptelik te laat toesmeer nie. Maar ten minste probeer hy geensins om die president se klaarblyklike sondes, waaraan hy lustig meedoen, te verdedig nie.

 

Wat staan ons dan te doen indien die NVG nie wil vervolg nie en die regering nie vir Zuma en die staatskapers behoorlik tot verantwoording wil roep nie? Vandag kan ʼn aanduiding gee. Die hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum se private vervolgingseenheid, adv. Gerrie Nel, gaan juis vanoggend ʼn groot aankondiging oor ʼn vervolging maak. Ons weet nog nie wie by die vervolging betrokke is nie, maar dit is te betwyfel of dit sommer net ʼn korrupte munisipale amptenaar gaan wees. Ons sal moet wag en sien wie dit is, maar in die lig van bogenoemde inligting en konteks is die tyd ryp en die omstandighede reg vir ʼn vervolging van Zuma. Hy is ongewild – selfs in die ANC – en die howe het hom klaar afgeransel. Hy is ook ‘n lekker groot teiken wat ‘n presedent vir latere vervolging kan skep. Dit sal ook druk op die NVG plaas om iets te doen (of hulle in die verleentheid stel) en verseker dat die werklike probleme soos korrupsie en staatskaping op die nasionale agenda bly en nie nietige weerligafleiers soos om die Openbare Beleggingskorporasie te laat oudit nie.

 

Foto: Maroela Media

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close