Algemeen -

Kommentaar: Verbied eerder moorde as ou vlag

'n Week ná Swart Maandag woed die debat steeds sterk oor of die ou vlag verbied moet word al dan nie – te midde van talle plaasmoorde oor die laaste sewe dae.

 

Baie van die kritici van die protes sien bloot die gebruik van die ou vlag raak (wat deur 'n weglaatbare klein minderheid vertoon is) en sien nie die moorde nie. Die regering en baie van die hoofstroommedia kan by dié groep ingesluit word. Ander onderspeel weer die plaasmoorde en fokus grootliks op die gebruik van die ou vlag. Hulle het ook nie veel simpatie of 'n werkbare plan vir al die moorde in die land nie.

 

Hiermee verhef hulle almal 'n taamlik nietige kwessie bo 'n baie ernstige een en is hulle tot 'n mate aandadig aan hierdie vloek op die land. Die misdadigers en moordenaars lag kliphard vir hul ongeërgdheid en gebrek aan fokus.

 

Dit is een ding om jouself van die vlag en die konnotasies wat daaraan verbonde is, te distansieer en kritiseer – dit is elkeen se reg om dit te doen – maar dit is heeltemal iets anders om ander se gebruik daarvan te sensor – 'n reg wat tans nie eens bestaan nie.

 

Die nuutste organisasie om die kwessie van 'n verbod op die ou vlag te berde te bring, is nogal die Nelson Mandela Stigting. “Is dit tyd om die gebruik van die vlag te kriminaliseer?” vra die stigting retories in die laaste paragraaf van ’n persverklaring wat hy hieroor uitgereik het. Dié vraag word deur nog vrae gevolg sonder dat enige antwoorde op hierdie vrae gebied word. Sonder om “ja” te antwoord op die vraag oor die verbod op die ou vlag, stem die stigting bloot saam met AgriSA dat hulle hulself van die gebruik van die ou vlag distansieer. Vroeër in die persverklaring word voortgeborduur op hoe witheid oor inherente mag beskik en hoe die meeste moordslagoffers swart is. Maar daar is absoluut niks in hul argiewe waarin kritiek op die regering en polisie uitgeoefen word of waarin 'n vorige verdoeming van geweldsmisdaad voorkom nie – nie eens toe die nuutste, skokkende misdaadstatistieke onlangs uitgereik is nie. Dit laat 'n mens wonder: Waar lê hul prioriteite en wat is hul agenda?

 

Daar het desgelyks ook 'n herrie hieroor in die DA losgebars (net soos wat dit soveel kere vantevore oor soortgelyke kwessies die geval was). Rapport het gister berig oor hoe Mmusi Maimane, die leier van die party, 'n veldtog van stapel wou stuur om die ou vlag te verbied. John Steenhuizen, die party se sweep, en Gavin Davies, wat onlangs as beleidshoof van die DA bedank het, is albei gekant teen so 'n verbod. Davis meen dit druis in teen die party se liberale waardes en skep 'n glibberige glybaan deurdat die Afrikaanse deel van die volkslied die volgende slagoffer kan word. Terwyl ander LP’s ontevrede is met die vlag, het hulle en Maimane afgesien van die idee om 'n veldtog oor 'n verbod daaroor te loods.

 

Maimane het ook iets tersaakliks en gewigtig kwytgeraak: “Vryheid van spraak word deur ons Grondwet beskerm en is absoluut sentraal om onderdrukking in die toekoms te voorkom. Ek stem saam dat dit 'n klein minderheid is wat nog die vlag gebruik.”

 

'n Mens wil dan onwillekeurig vra: Hoekom dan die vrees en bohaai oor 'n vlag en die minderheid wat dit swaai? As hulle dan so onbenullig is, hoekom dan die week lange uitryg van derms deur Huffpost SA en die regering daaroor? Het hulle geen skaamte om so iets bo moorde te verhef nie? Hoe sien die mense wat die verbod steun, die reg op vryheid van spraak? As die ou vlag verbied kan word, wat kan nog als verbied word net omdat dit aanstoot gee?

 

Die regering het baie om weg te steek en het na iets gesoek om Swart Maandag mee te diskrediteer. Sommige media het politieke korrektheid en sensasie slaafs nagejaag, selfs fopnuus gepubliseer en in die proses 'n bespotting van die dooies gemaak en ‘n veel groter krisis toegesmeer.

 

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging, beaam hierdie tendense en illustreer dit in meer besonderhede: “Diegene wat ou vlae by die byeenkomste vertoon het, het slegs 1% se randfigure uitgemaak, terwyl die ander 99% van die deelnemendes die ware simbole van die geleentheid, swart klere en wit kruise, vertoon het. Opportunistiese joernaliste het egter meegedoen aan die verspreiding van stokou foto’s om die geloofwaardigheid van die geleentheid te probeer krenk, maar in die proses het hulle hul eie geloofwaardigheid ondermyn.”

 

Buys het verduidelik dat 'n verbod op die ou vlag die teenoorgestelde, en 'n ongewensde, uitwerking tot gevolg sal hê. “Lojaliteit sal slegs bewerkstellig word as die staat vertroue inboesem eerder as om 'n verbod op 'n vlag wat tot die verlede behoort, te plaas.” Dit was iets wat Nelson Mandela maar alte goed verstaan het en sy volgelinge moet moeite doen om sy hele wêreldbeskouing te begryp, eerder as om slegs op dié dele daarvan te fokus wat hulle pas of om sy sienings blatant vir eie gewin te verdraai.

 

Die ou vlag, nes baie ander dinge, maak gevoelens seer. Geweldsmisdaad maak daarenteen mense dóód. Dit behoort logies te wees watter een eerder verbied moet word.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close