Algemeen -

Kommentaar: Zim-herstel begín nou (of glad nie)

Die uitbundige feesviering in Zimbabwe is werklik iets om oor opgewonde te raak. Dit het lanklaas gebeur dat so 'n langstaande diktator bloedloos die tuig neergelê het. Robert Mugabe was ook die oudste staatshoof ter wêreld.

 

Die jeug se opwinding en euforie is veral aansteeklik. Enigiemand in Zimbabwe onder die ouderdom van 35 het nog nooit 'n ander president geken nie. Dié generasie het ook geen geheue van Ian Smith se bewind in die destydse Rhodesië, die vryheidsoorlog of kolonialisme nie. Baie van hulle het prontuit in onderhoude op internasionale TV-nuuskanale gesê hulle is bloot bly hy is weg en kan niks goeds oor hom sê nie.

 

Te midde van hierdie euforie (en nie om 'n demper daarop te plaas nie), moet daar egter ernstige vrae oor die pad vorentoe gevra word. Baie mense dink heel naïef dat dit nou outomaties vryheid, demokrasie en voorspoed gaan beteken, terwyl daar duidelike tekens is dat dit waarskynlik nié die geval gaan wees nie.

 

Die vreugdevure gaan gou in grootskaalse protes ontaard indien die ekonomie nie omgekeer word en groter vryheid nie toegelaat word nie. Deel van die ooreenkoms wat oor Mugabe se bedanking bereik is, sluit in immuniteit teen enige vervolging, die behoud van sy eiendomme in die land en beskerming vir hom en sy familie. Zanu-PF, wat gou die nasionale tydsgees gelees en Mugabe skielik vir die wolwe gegooi en hulself nou as die mede-verlossers probeer uitbeeld, is ook steeds aan bewind en volgens hul jongste uitlatings is grondgrype een van Mugabe se grootste prestasies en nalatenskappe en moet dit voortgesit word. Hulle is trouens net te bly dat 'n groot segment van die bevolking glo Emmerson Mnangagwa sal nou beter as Mugabe vaar en dat hulle hom as 'n nuwe soort verlosser kan voorhou terwyl hulle voortgaan om te plunder en te volhard met hul skadelike en skurkagtige ideologie en beleid sonder om ook uitgeskop te word.

 

Mugabe se val gaan onvermydelik tot 'n groter katarsis lei – veral as sake nie vinnig verbeter nie. Ofskoon daar taamlike vinnige vordering met ekonomiese herstel gemaak kan word – soos aangetoon deur die jare wat die regering van nasionale eenheid regeer het – gaan dit groot en straks onrealistiese veranderinge deur die regerende party verg en daar is enorme agterstande om in te haal. Die party sal als waaraan hulle nog ooit geglo het, moet aanpas. Hulle sal wit mense moet betrek by die landbousektor, vrye verkiesings toelaat en opposisiepartye toelaat om uiteindelik die land alleen te regeer. Hulle sal die Weste moet paai en hul selfverryking en korrupsie staak. Die kanse hierop lyk in hierdie stadium skraal eerder as wat dit waarskynlik is.

 

Die staatsmasjinerie is ook gelaai met Zanu-PF-lojaliste en 'n 93-jarige diktator kon nie op eie houtjie mense martel en vermoor nie. Sodra die euforie begin kwyn, sal daardie openbare mening verander van een van vreugde tot een van nugterheid en een wat vra om vergelding. Daar sal derhalwe aansienlike institusionele weerstand vanaf onder meer die howe en die polisie teen grootskaalse verandering en vervolging wees en dit sal weer 'n (straks gewelddadige) teenreaksie uitlok. Solank Mnangagwa nie die weermag se fondse sny nie en hul belange dien, gaan hy hul lojaliteit behou en sal hy ook beheer oor alle staatsorgane uitoefen. Dit is nie 'n goeie voorbode vir 'n land met Zimbabwe se geskiedenis nie.

 

Die hoop beskaam nie dat Zanu-PF skielik tot ander insigte gekom het en na die massas op die strate sal luister nie. Damaskus-oomblikke is egter baie seldsaam en gebeur eintlik meer geleidelik terwyl dit in meeste gevalle slegs tot gedeeltelike of kosmetiese veranderinge lei. Dit lyk ook nie of daar in hierdie geval skielike veranderinge kom nie en Zanu-PF gaan waarskynlik nou 'n agterhoede-aanslag met mening probeer loods. Mugabe se afsetting is 'n vreugdevolle oomblik, maar dit is helaas net die begin van 'n lang herstelproses – en een wat boonop in die kiem gesmoor kan word.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close