Algemeen -

Kommentaar: Zim-krisis goed vir ANC, sleg vir SA

Die krisis wat homself nou in Zimbabwe afspeel, is net soveel van 'n katarsis vir die regerende Zanu-PF as wat dit vir Zimbabwe as land is. Pres. Robert Mugabe het oor die laaste paar dekades die reputasie van die eertydse bevrydingsbeweging, sowel as die land, groot skade berokken. Dit beteken egter nie dat dié party irrelevant geword het of dat die opposisiepartye die bevolking se verbeelding aangegryp het nie. Ons moenie Mugabe se ongewildheid met afkeur in Zanu-PF as party verwar nie.

 

Dit is die eerste keer sedert die Suider-Afrikaanse lande swart meerderheidsregering verkry het, dat 'n bevrydingsleier op hierdie wyse uit sy amp gedwing word. Dit wys ook hoeveel eerbied en ontsag selfs die weermag, wat eintlik die septer swaai, vir hom koester. Die hoofde van die weermag wil hom nie bloot arresteer en laat aankla nie, en pleit as’t ware by hom om self die tuig neer te lê – wat hy natuurlik nou weier om te doen.

 

In Zimbabwe het verkiesings uiters bekookte affêres geword, maar Zanu-PF kan nie met geleidelik dalende openbare steun aanhou om te regeer nie. Hulle sal hul gewildheid wil behou en selfs uitbrei, en dit is hoekom hulle nou ultimatums aan Mugabe stel. Hulle kon die massabetogings in Harare se strate – asook in Suid-Afrikaanse stede – sien en het dienooreenkomstig – dog uiters reaktief – opgetree. Hulle het nie voorheen iets aan Mugabe se wanregering gedoen nie en het self voordeel daaruit getrek. Nou maak hulle hom die enigste sondebok sonder om hulself te hervorm.

 

Eerder as om groot beleidshervorming aan te kondig en die land in 'n totaal nuwe rigting te wil stuur, het hulle bloot kosmetiese veranderinge (soos die verwydering van die idee van een magsentrum in die grondwet) voorgestel en Mugabe se kop geëis. Terselfdertyd het hulle vir Emmerson Mnangagwa, die afgedankte Zimbabwiese adjunkpresident, as tussentydse – en ongetwyfeld ook uiteindelike – president voorgestel. Mnangagwa is egter geen demokraat nie en is die argitek van die skadelike verinheemsingsbeleid (“indigenisation”). Hy was ook saam met Mugabe verantwoordelik vir die Gukurahundi-slagting in die vroeë 80’s en praat gereeld die grondgrype in Zimbabwe goed. Met die weermag, Zanu-PF en die hele staat en regering nou lojaal teenoor hom, kan dit nie anders as om verdere diktatoriale pyn vir hierdie landomslote land in Suider-Afrika te beteken nie.

 

Zanu-PF het egter nou 'n gulde geleentheid om hulself ten minste as “nuut” aan te bied sonder om werklike hervorming in te stel.

 

Hierdie situasie kon ook nie op 'n beter tyd vir die ANC kom nie. Hulle is tewens 'n bevrydingsbeweging en hou in Desember 'n allerbelangrike leierskonferensie. Nieteenstaande sekere groot verskille tussen die twee lande is daar ook sekere politieke en ekonomiese ooreenkomste in hierdie tydsgewrig. Mugabe wou sy vrou, Grace, tot president laat bevorder en het vir Mnangagwa afgedank om hom as presidentskandidaat uit die weg te ruim. Pres. Jacob Zuma wil sy eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, opstel om hom as partyleier en later as president te vervang ten koste van adj.pres. Cyril Ramaphosa. Maar nes Mnangagwa, het Ramaphosa tans wye, dog opportunistiese en oppervlakkige, steun. Trouens, sy steun binne die party lyk tans oorweldigend meer as Dlamini-Zuma s'n – en boonop is sy laaste naam nie Zuma nie.

 

Mugabe het sy hand oorspeel om sy gewilde adjunkpresident af te dank en Zuma sal versigtig wees om nie dieselfde te doen nie (al wil hy blykbaar), of om Desember se konferensie te probeer kelder nie. Duidelike vuilspel deur die Zuma-kamp kan simpatie vir Ramaphosa wek, of 'n regverdige leierskonferensie kan hom buitendien as ANC-leier kroon. In albei gevalle verloor die Zuma-kamp, maar nie die ANC as party nie. Die weermag gaan waarskynlik nie ingryp soos in Zimbabwe nie, maar die publiek en burgerlike samelewing in Suid-Afrika raak klaarblyklik al hoe keelvoller vir die Zuma-regering se korrupsie en wanregering (en ook die heersende ekonomiese malaise), nes Zimbabwiërs is vir die despotiese Mugabe en die ekonomiese kreeftegang daar. Hierdie oënskynlike “Zimbabwiese lente” sal waarskynlik 'n tydige waarskuwing vir die ANC wees oor wat moontlik ook in Suid-Afrika kan gebeur, en kan derhalwe die Ramaphosa-kamp 'n verdere hupstoot gee.

 

Dit is stellig slegte nuus vir die Zuma-faksie en goeie nuus vir die ANC en Zanu-PF en dit gebeur op die regte tyd, maar dit is nie goed vir Zimbabwe en Suid-Afrika nie. Vir hierdie lande om te floreer, moet hulle nie meer deur hierdie bevrydingsbewegings regeer word nie. Die ANC, Zanu-PF, Mnangagwa en Ramaphosa se DNS is in wesenlike stryd met die hervormings wat nodig is om die ekonomie te laat groei, werkloosheid te laat daal, rassebetrekkinge te verbeter, korrupsie te bestry, eiendomsreg hoogty te laat vier en beleggers te lok. Met hierdie mans nuut aan die stuur van hul onderskeie lande en hul partye, op grond waarvan hulle hulself gevolglik as 'n “vernuwing” kan bemark, kan dit dalk soos 'n nuwe sonsopkoms voorkom, maar dit is eintlik net 'n valse een. Tog sal hulle nou weer nuwe, maar onverdiende, kanse gegun word en die werklike oorsake van die lande se probleme gaan onopgelos bly.

 

 

  • 86
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close