Algemeen -

Kommentaar: Zimbabwe-debakel is Afrika se skuld

Die huidige gebeure in Zimbabwe is waarlik 'n seminale oomblik in die geskiedenis van die land, maar dit moes ook tot 'n mate verwag word. Dit was net 'n kwessie van tyd voordat 'n 93-jarige korrupte tiran se knoetserige, bewerige hande uiteindelik die ystergreep moet laat vaar. Niemand leef en regeer vir ewig nie.

 

Die sentrale vrae wat nou gestel word, is hoekom dit so lank gevat het en wat nou vorentoe gaan gebeur. Die een is terugskouend en die ander een is bespiegelend, maar albei is belangrik om te bepeins. Die een het ook 'n groot invloed op die ander.

 

Dit is eerstens onwaarskynlik dat Zimbabwe as land en die gewone burgers 'n beter en stabieler toekoms tegemoet gaan. Indien Emmerson Mnangagwa nou wel president word, gaan hy ook min aansporing hê om die land in 'n oop, mededingende samelewing te omskep. Hy is immers geen demokraat nie en sal, tesame met die weermag, ook ander veiligheidsinstellings en die hele staat onder sy beheer hê. Zanu-PF regeer steeds en dit stel bloot die volgende diktatuur in Zimbabwe op.

 

Zimbabwe se probleme, nes ander outokratiese bestelle op die vasteland, is ook 'n kollektiewe klad op Afrika as vasteland se reputasie. Afrika-leiers en die Afrika-unie (AU) as die enigste kontinentale multilaterale liggaam het Robert Mugabe in staat gestel om sy land tot in die grond in te bestuur, verkiesings te bekook, die opposisie en andersdenkendes te marginaliseer en te onderdruk, die media te muilband en so lank vas te klou aan mag. Ditto ander lewende diktators op die kontinent soos Omar al-Basjir en Joseph Kabila, sowel as 'n hele klomp gewese en oorlede regeerders.

 

Na die proses van dekolonisering aan die einde van die jare 50 begin het, het Afrika, en trouens ook die wêreld, die mantra begin aanhang dat Afrika-probleme deur middel van Afrika-oplossings besleg moet word. Dus, los ons uit, want ons sal self ons probleme oplos. Die AU se voorganger, die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE), is juis in 1963 gestig as fisiese vergestalting van hierdie mantra. Terselfdertyd het die koloniale grense grootliks behoue gebly en die OAE en latere AU het die soewereiniteit van state, en by uitstek ook die leiers van die onderskeie state, carte blanche en voorrang bo alles anders – veral goeie regering en die bevordering van mense- en minderheidsregte – gegee. Diktators het dit as 'n blanko tjek beskou om te plunder, te moor en te steel. Mugabe was selfs al as voorsitter van die OAE en meer onlangs ook die AU aangewys, en geen Afrikaland behalwe Botswana het sy regime se vergrype veroordeel nie. Suid-Afrika was veral skuldig aan die vertroeteling van die Mugabe-regime deur middel van die beleid van stille diplomasie.

 

Of jy nou saamstem met wat nou in Zimbabwe gebeur of nie – en daar is genoeg rede om die weermag se optrede en motiewe te wantrou – is dit 'n voldonge feit dat daar 'n aanloop tot hierdie staatsgreep was en dat heelwat gewone Zimbabwiërs die weermag steun in waarmee hulle besig is. Zimbabwe se ekonomie is weer op sy knieë en pryse het die hoogte ingeskiet terwyl mense in die regering in luuksheid lewe en nie die pyn voel nie. Verkiesings in Zimbabwe het niks meer as ritualistiese en bewimpelde rubberstempels op Zanu-PF se mag geword nie, nes dit vanjaar niks anders nie as 'n roetine-bevestiging van Paul Kagame en Uhuru Kenyatta se ystergrepe in onderskeidelik Rwanda en Kenia was. Ander middele vir groter politieke deelname is in menigte plekke in Afrika, en veral in Zimbabwe, verbode vir gewone burgers.

 

Die AU veroordeel nou die staatsgreep in Zimbabwe – iets wat weliswaar uitdruklik in sy Akte van Oprigting verbied word – maar die feit is dat hulle geen ag slaan op die lyding van gewone Afrikane nie en niks doen aan die situasie in Zimbabwe nie, en dus – ofskoon regstreeks – daartoe aanleiding gegee het. Nou word daar naarstiglik geskarrel om skadebeheer toe te pas. Daar is 'n rede hoekom sulke gebeure soos nou in Zimbabwe gesien, nie in Europese Unie-lidlande afspeel nie. Mnangagwa gaan ook dieselfde immuniteit as Mugabe, Al-Basjir en Kabila geniet indien hy president word.

 

Dit is dalk valse hoop dat 'n beter bestel sal in Zimbabwe sal volg, maar dit is nietemin hoop vir heelwat mense wat die nuwe verwikkelinge verwelkom. Hopelik kan Afrika hieruit leer, maar dit lyk asof die verlede homself maar net weer in die toekoms gaan herhaal op talle plekke in Afrika.

 

  • 195
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close