Algemeen -

Kommissie vir Diensbillikheid reik nuwe dwaalverslag uit

Die jaarlikse verslag deur die Kommissie vir Diensbillikheid (“Commission for Employment Equity” – CEE) is aan die einde van verlede maand uitgereik, waarna daar wyd berig is dat wit mans steeds oorverteenwoordig is in senior bestuursposte, terwyl swart mense aan die kortste ent trek. Die verslag maak dan 'n paar streng aanbevelings om hierdie “onreg” reg te stel. Maar is dit 'n onreg? En is die verslag geloofwaardig?

Die probleem met staande kommissies is natuurlik dat hul bestaan gegrond is op die sake wat hulle ondersoek. As die saak reggestel word, verloor hulle bestaansreg en moet die lede van die kommissie ander werk soek. Dit is dus lynreg teen hul eie belang om te bevind dat die “probleme” met gelykheid en transformasie opgelos is. Daarom martel die kommissie jaarliks die syfers tot dit sê wat hulle wil hoor. In hierdie geval doen hulle dit grotendeels deur data te versamel vanuit 'n groep wat nie aan hul wense voldoen nie.

In die 21ste Jaarverslag van die Kommissie vir Diensbillikheid, onder leiding van kommissaris Tabea Kabinde, is bevind dat wit mans steeds bestuursposte oorheers, terwyl swart en bruin mans oorverteenwoordig word in ongeskoolde arbeid. Hulle beveel aan dat strenger teikens daargestel word vir alle ondernemings, en dat strawwe opgelê moet word as die teikens nie gehaal word nie.

Hierdie aanbeveling word ook in die nuwe voorgestelde Diensbillikheidswet vervat waarvolgens boetes selfs opgelê kan word as transformasie nie volgens die staat se wense geskied nie. Hier moet gevaarligte flikker. Kan die staat regtig vir jou onderneming voorskryf wie om aan te stel? En jou boonop selfs dwing om 'n deel van jou onderneming aan iemand uit die “aangewese groepe” te verkoop? Dit is tog verregaande.

Nog erger is die “studie” se metode van data-insameling. Dit is gegrond op gekose ondernemings wat diensbillikheidsverslae aan die Departement van Arbeid moes verskaf. Daar is 26 635 sulke verslae ontleed. 'n 2016-studie deur die Kleinsake Instituut het die aantal klein besighede in Suid-Afrika op 2,2 miljoen geskat. Indien 'n mens groter en middelslagondernemings hierby sou tel, dek die studie nie eens 1% van ondernemings nie. Die verslag meld dat omtrent 7 miljoen werknemers deur die studie gedek word. Weereens is dit nie eens 'n kwart van die potensiële Suid-Afrikaanse werksmag nie. Omdat die studie gedoen word onder besighede wat verslae moet verskaf, dus besighede wat vroeër nie aan diensbillikheidsteikens voldoen het nie, kan ons ook verwag dat die meeste steeds nie “getransformeer” sal wees nie. Die verslag werk dus doelbewus met 'n vooraf gekose groep wat die kommissie se subjektiewe standpunte sal bewys.

Die verslag meld dat 64,7% van bestuursposte steeds deur wit mense beklee word. Wit mense en Indiërs word volgens die verslag op alle vlakke van geskoolde arbeid, behalwe in die staatsdiens, oorverteenwoordig.

Eerder as om 'n kultuur van onderrig en opvoeding, soos by die wit en Indiër-bevolking gesien word, by ander groepe te vestig, wil die staat hierdie groepe straf. Hoe durf wit en Indiër-ouers in hul kinders se opvoeding belê? Hoe durf jy voorkeur gee aan opgeleide werknemers bo ongeskoolde arbeiders? Dit is wat die regering by besigheidseienaars wil tuisbring.

Die uiteinde van afdwingbare diensbillikheidsteikens sal op die minste 'n verlaging in standaarde, produktiwiteit en sakevertroue wees. Die grootste effek daarvan sal egter wees dat dit besigheidseienaars ontmoedig om hier sake te doen.

Die staat kan natuurlik 'n ander benadering volg, naamlik om opleidingsgeleenthede aan die “aangewese groepe” te verskaf en dan die transformasie aan die mark oor te laat. 'n Opgeleide persoon sal tog, ongeag ras, die geleentheid kry om die taak waarvoor hulle opgelei is, te kan uitvoer. Van daar af is dit slegs die persone en hul werkgewers wat kan bepaal of hulle in bestuursposte sal beland.

Ons sien egter die teendeel. NSFAS-uitbetalings is jaarliks 'n probleem en hulle ontvang onvoldoende fondse. Suid-Afrika se skole word allerweë as van die swakste op die planeet bestempel en TVET-kolleges word toenemend onderbefonds.

Dit is tyd vir die sakesektor om doodeenvoudig “nee” te sê wanneer die staat sy glibberige vingers inforseer waar dit nie hoort nie.

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close