Algemeen -

Kommunisme moet saam met Castro begrawe word

Fidel Castro se dood is as’t ware die einde van ’n era. Of altans, dit behoort te wees. Die era waarvan ek praat verwys inderdaad enersyds na sy lang bewind in Kuba sedert die laat 50’s – maar wat sedert circa 2006 buitendien nie meer deur hom persoonlik behartig is nie – maar ook andersyds na kommunisme as ’n regeringsvorm.

 

Fidel CastroCastro was ’n eiesoortige, verdelende figuur wat die kommunisme vir dekades verpersoonlik het. Hy was ’n held vir gewone mense en diktators in die Derde Wêreld – veral in Latyns-Amerika en Afrika – wat die heerskappy van die Weste en veral Amerika verfoei en vir wie hy allerlei hulp gelewer het. Sy oorlewing van talle sluipmoordpogings deur die Amerikaanse Sentrale Intelligensiediens (CIA) en ook sy lang bewind – wat oor 11 Amerikaanse presidente se termyne gestrek het – het hom ook ’n soort skyn van onsterflikheid gegee. Sy vurige toesprake, deurspek met rewolusionêre tirades en vol provokasies jeens Amerika, en ‘n bloedige rewolusie het hom aan bewind gekry en het selfs ’n groot deel van die Kubaanse bevolking en ook buitelandse gehore se lojaliteit en bewondering gewen en behou. Die feit dat hy, amper man-alleen en so naby aan die geografiese invloedsfeer van die VSA en ten spyte van streng Amerikaanse sanksies, steeds na die einde van die Koue Oorlog verbete aan ’n gediskrediteerde stelsel en mag vasgeklou het, het sy aansien in sekere oorde behoue laat bly.

 

Tot in sy dood is Castro egter ’n verdelende figuur. As jy gewone Suid-Afrikaanse nuuswebwerwe se Facebook-blaaie dopgehou het in die nadraai van sy oorlyde, is jy begroet met mildelike “rewolusionêre medelye”. Swart Suid-Afrikaners, dankbaar vir die hulp wat Kuba aan die ANC tydens apartheid gegee het, voel hulle het een van hul eie verloor. Linkse politici regoor die wêreld, van die Britse Arbeidersparty-leier Jeremy Corbyn tot die Kanadese premier Justin Trudeau, het ook hul leedwese uitgespreek. Die ANC het uiteraard ook hulde aan hul groot bondgenoot gebring. Selfs Pous Francis, wie se kerk hewig onder Castro se bewind verguis en onderdruk is, het die “tragiese nuus” betreur.

 

Aan die ander kant het Amerikaners, veral die konserwatiewes, en baie van die Britse media hard gejuig oor die dood van ’n tiran. “Death of a dictator!” het een van die konserwatiewe nuusdiens Breitbart se opskrifte gelui. “Plenty of places to light a cigar in hell!” het die konserwatiewe politieke kommentator en regsgeleerde Ben Shapiro op Facebook uitgeroep. Die Kubaanse gemeenskap in Miami het fees gehou asof dit Oujaarsaand is. Donald Trump, in teenstelling met pres. Barack Obama, het dit ook prontuit gestel dat die wêreld nou nog een diktator minder het om oor bekommerd te wees. Heelwat Afrikaners, wat per slot van sake in die Bosoorlog teen Kubaanse soldate moes veg, het min simpatie met sy afsterwe gehad. Selfs CNN (wat dikwels as die Communist News Network beskryf word) het prontuit verklaar: “A dictator is dead.”

 

Die eiland van sigare, salsa en strafkampe

 

My mening is dat diegene wat hom bewonder so betower is deur sy ideologie, beeld en beloftes dat hulle nie sy rekord in die praktyk na behore kan of wil gadeslaan nie. Die wrede werklikheid is dat hy en sy ideologie baie wreed was (en dis steeds nie verby nie). Art. 16 van die Kubaanse Grondwet bepaal dat die staat alle ekonomiese alle ekonomiese aktiwiteite sal rig en beheer. Kubane is derhalwe tot vandag nie vry om te werk en hul geld te bestee soos hulle goed dink nie. In 1978 was daar sowat 15 000 tot 20 000 gewetensgevangenes in Kubaanse tronke. In 1986 is 12 000 tot 15 000 politieke gevangenes in 50 streeksgevangenisse in die land aangehou. Vanaf 1959 – toe Castro aan bewind gekom het – tot die laat 90’s het altesame 100 000 Kubane aangehoudenes in tronke of kampe geword. Dit het veroorsaak dat miljoene Kubane in die jare 60 reeds met hul “roeispane” begin stem het en die 145 km na Miami in Amerika begin aflê om daar ‘n nuwe lewe te bou en ook ‘n doring in Castro se vlees te wees. Daar het hulle veral nagklubs maar ook ‘n hele rits ander besighede begin en floreer. Maar sowat een derde van alle boot-vlugtelinge (bekend as balseros in Spaans) is deur die jare dood terwyl hulle na Amerika wou vlug. Soms is hulle geskiet en ander kere is sandsakke uit Kubaanse helikopters op die bote laat val om hulle te laat sink.

 

Nes in ander kommunistiese state is dwangarbeid met groot ywer toegepas en daar is tientalle kampe daarvoor ingerig. Onafhanklike media en burgerlike instellings soos kerke is verbied. Afvalliges is swaar gestraf en gefusilleer en die hele land is gesentraliseer en gemilitariseer om die stelsel in stand te hou. “To be a traitor to the revolution is to be a traitor to the country,” het Castro ondubbelsinnig gewaarsku. Die rede hoekom hy vir vyf dekades kon regeer is omdat hy, soos elke ongenaakbare diktator, hom nie aan die wil van die mense wou onderwerp nie en later te veel dwingelandy en vergrype bewerkstellig het om veilig en gemaklik mag te oorhandig.

 

Dit is ironies dat Castro, wat met sulke edele motiewe aan bewind gekom het nadat hy die insgelyks outoritêre Batista-regime omvergewerp het, weldra self ‘n utopiese ideaal vir een van staatsterreur verruil het. Dit is dieselfde verhaal wat homself in soveel Afrikastate sedert dekolonisering afgespeel het wanneer bevrydingsbewegings later regerings word. En dit is die soort leier wat deur die linkses en social justice warriors op kampusse verafgod word en op wie se (kapitalistiese) t-hemde hy pryk.

 

Kuba het tog sekere suksesse, hoewel net tydelik of gedeeltelik, sedert Castro se bewindsoorname en die inwerkingtreding van kommunisme gehad. Noem dit pseudo-suksesse. Vernaam is die hupstoot wat onderrig en gesondheidsdienste ontvang het. Heelwat mense is gratis in die nie-politieke diensteberoepe opgelei terwyl die geesteswetenskappe om vanselfsprekende redes ten nouste gemonitor en beheer is. Daar was ook ’n aansienlike verbetering in openbare gesondheidsdienste in die 60’s en 70’s gewees. In die 2000’s was Kubane se lewensverwagting en die sterftekoers onder babas omtrent dieselfde as dié van die VSA. Die geletterdheidskoers het aansienlik verbeter al was dit reeds taamlik hoog, dog ongelyk, voordat Castro aan bewind gekom het.

 

Hierdie suksesse moet egter ook gekwalifiseer word. ’n Arm land kan nie onbepaald uitstekende en doeltreffende gesondheidsdienste aan sy bevolking lewer nie en die Kubaanse gesondheidstelsel het berug geword vir sy lang toue en tekort aan medici en medisyne. Mense mis daarom baie werksdae om in toue by hospitale in Havana en elders te wag terwyl hulle eintlik moet werk. Die menigte afgestudeerdes in ingenieurswese en medies het een van Kuba se grootste uitvoerprodukte geraak en dien dus nie Kuba met hul vaardighede nie, maar eerder die Weste waar hulle ordentlik besoldig word en in gunstige omstandighede kan werk. Kommunisme is soos om in ’n emmer te staan en jouself aan die handvatsels te probeer optrek: Omdat dit nie uitnemendheid beloon nie en juis straf, vlug die kundigheid en bly kommunistiese lande arm terwyl ander lande hul selfgekweekte kundigheid opraap.

 

Kuba na Fidel

 

Ondanks Kuba en die VSA se onlangse toenadering na Castro se uittrede uit die aktiewe politiek deur byvoorbeeld weer ambassades in mekaar se lande te open en nuwe handelsbande te smee, bly Kuba ’n kommunistiese land en daarmee saam ook ’n totalitêre een. Die nieregeringsorganisasie Freedom House het dit in hul Freedom of the World 2016-verslag as “onvry” bestempel. Die onlangse kosmetiese veranderinge soos die gedeeltelike vrystel van die Internet word wel vermeld, maar die vergrype oorskadu dit by verre. Kuba onder Fidel Castro se broer, Raul, het 0 uit 16 vir politieke deelname en pluralisme in 2016 ontvang. Dit het 5 uit 16 vir vryheid van uitdrukking, 1 uit 12 vir die funksionering van die regering, 0 uit 12 vir organiserings- en assosiasieregte, 3 uit 16 vir regsoewereiniteit, en 6 uit 16 vir individuele regte ontvang. Dus het bitter min verander in die “Nuwe Kuba”.

 

Die kruks van die saak is dat al die probleme in Kuba onderlê word deur die kommunisme. Die post-Fidel-potentate het die Obama-administrasie om die bos gelei en kosmetiese veranderinge aangebring om sodoende die sanksies te omseil en dus die gevolge vry te spring. Niks het wesenlik verander nie en kommunisme gaan noodwendig en uiteindelik met dwang, onderdrukking, paranoia, armoede, agteruitgang en ’n verlies aan vryheid op alle vlakke gepaard. Dis tyd dat die wêreld ophou om Kuba, Castro en kommunisme te romantiseer en verheerlik want die feite spreek vanself. Die kommunisme moet saam met Castro begrawe word.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close