Gemeenskappe, Politiek, SNI -

Konstitusionele hof se ideologiese onderrok hang steeds uit, maar daar is groter probleme

In gister se uitspraak (Duncanmec v Gaylard, 13 September 2018) het die konstitusionele hof bevind dat die gebruik van die term “boer” in die konteks van 'n “struggle”-lied soos gebruik in die frase “die slaan van 'n boer” nie op rassisme neerkom nie. Regter Jafta verduidelik in die uitspraak dat die term “boer” óf kan verwys na iemand wat op 'n plaas werk, óf na 'n wit man, maar dat nie een van hierdie twee gebruike rasbeledigend (“racially offensive”) is nie. Die hof verduidelik verder dat selfs al het die sing van die woorde in die lied neergekom op die gebruik van rassistiese woorde, dit steeds nie noodwendig outomaties die afdanking van werknemers regverdig nie. Die hof het verduidelik dat daar geen beginsel in ons reg bestaan wat voorsiening maak vir outomatiese afdanking in die geval van rassisme nie.

Ongeag hoe mens voel oor die inhoud en beginsels van hierdie beslissing, is daar ten minste een ding wat baie duidelik na vore kom uit die hof se gedrag tot dusver vanjaar en dit is juis hier waar die hof se onderrok opnuut sleg uithang.

Vroeër vanjaar het ’n ander saak voor die hoogste hof in die land gedien wat te make gehad het met die afdanking van 'n werknemer ná die beweerde gebruik van 'n rassistiese term. In Rustenburg Platinum v Bester is mnr. Meyer Bester daarvan aangekla dat hy die woorde “swart man” gebruik het om na een van sy kollegas te verwys. (Dalk moet 'n mens net hier benadruk dat Bester deurgaans ontken het dat hy wel dié woorde gebruik het). In hierdie geval het die konstitusionele hof 'n beduidend ander benadering tot die saak gevolg. In hierdie geval het regter Theron verduidelik dat woorde wat na ras verwys nooit vermoedelik neutraal kan wees nie en ook nie as blote beskrywings kan funksioneer nie. Die hof het die frase “swart man” as “racially loaded” en “derogatorily subordinating” beskryf.

In paragraaf 56 van die Bester-uitspraak verduidelik die regter dat “Our courts have made it clear, and rightly so, that racism in the workplace cannot be tolerated” en in paragraaf 62 dat “By his actions he has shown that he has not made a break with the apartheid past and embraced the new democratic order where the principles of equality, justice and non-racialism reign supreme.”

Waar lê die verskil tussen die sake dan? Aan die een kant is daar 'n groep stakende werkers wat sing oor die blydskap wat gepaardgaan met die slaan van boere; aan die ander kant is daar 'n wit man (of kan ek nou maar sommer net sê 'n boer?) wat 'n personeellid vra om 'n swart man se motor van sy parkeerplek af te verwyder. In albei gevalle is die betrokkenes aanvanklik afgedank, maar die konstitusionele hof bevestig net een van die stel afdankings as redelik en regverdig. Trouens, in die geval van Bester spreek die hof skerp kritiek uit teenoor die arbeidshof omdat dié hof enigsins sy weg kon oop sien om ten gunste van Bester te bevind.

In Duncanmec hoor ons dat die gebruik van rassistiese woorde nie outomaties afdanking regverdig nie; in Bester word daar verduidelik dat die vernietiging van rassisme in die werkplek een van ons Grondwet se hoogste waardes en doelstellings is.

Daar is twee gevolgtrekkings waartoe ek kom in my vergelyking van hierdie twee sake: eerstens dat die konstitusionele hof nie ideologies neutraal is nie, maar dat die regters van die hof in presies dieselfde ideologie gesetel is as die partylede wat hulle aangestel het, dit wil sê die ANC; en tweedens – en dit gaan die moeiliker gevolgtrekking wees – dat neutraliteit nie saak maak nie.

Die mees kommerwekkende tendens in hierdie twee sake is dat mense hulself toenemend op die howe beroep om sosiale kwessies te beredeneer en dat sodra die hof, veral die konstitusionele hof, uitspraak lewer, almal daardie uitspraak vir evangelie aanneem of as 'n heilige geskrif beskou wat nie bevraagteken durf word nie. Dit is juis waar ons grootste fout lê. Sosiale interaksie in Suid-Afrika mag nooit deur 'n handjievol regters gereguleer word nie. Ons is 'n land met talle gemeenskappe en die onus is op ons om uit te werk hoe hierdie gemeenskappe met mekaar moet integreer – let wel, nie assimileer nie.

Geen instelling het die alleenreg om voor te skryf hoe mense met mekaar mag kommunikeer of wat toelaatbaar in gesprekke is nie. Ons sal veel verder kom as 'n land as ons self verantwoordelikheid aanvaar vir ons gedrag en vir hoe ons daardie gedrag moet aanpas om vreedsaam saam te leef. Ons kan nie net elke keer na die howe toe hardloop om 'n hoër gesag te raadpleeg en om daardie gesag op ander af te dwing nie.

Selfbeskikking verg dat jy self verantwoordelikheid neem, self doen en dat die onus by jou berus om moeilike gesprekke te voer sodat die partye self kan bepaal hoe hulle ten goede kan voortgaan. Nóg die regering nóg die howe het die reg om in elke aspek van mense se lewens in te meng. As ons wil keer dat so iets gebeur, dan gaan ons moet ophou om hul mag op daardie gebied te regverdig en te legitimeer deur gedurig na hulle toe te hardloop vir sake waaroor hul menings inkonsekwent, skadelik en by uitstek eintlik ongeldig en irrelevant is.

  • 1K
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close