Ekonomie -

Kospryse: Januarie 2008 tot Desember 2013

Kospryse 2008 tot 2013 AFRKospryse in Suid-Afrika het in die algemeen van Desember 2012 tot Desember 2013 met slegs 3,5% gestyg. Hierdie stelling word waarskynlik deur die meeste lesers met groot ongeloof begroet. Die meeste verbruikers sal aanvoer dat kospryse met minstens 10% in die loop van 2013 gestyg het, en dat dieselfde ook oor kospryse in 2012, 2011 of enige jaar voor dit gesê kan word. In die afgelope vyf jaar het kospryse in Suid-Afrika egter nie teen ʼn egalige tempo aanhou styg nie. Wat eerder gebeur het, is dat tydperke van skerp stygings wat met tydperke van stabiliteit afgewissel word, voorgekom het.

Tydperke van stygings gevolg deur stabiliteit kom natuurlik steeds op ʼn netto styging neer. Kospryse het in geen tydperk gedurende die afgelope vyf jaar noemenswaardig gedaal nie. Indien die amptelike kosmandjie van Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) – wat geen buitengewone luukshede insluit nie – gebruik word, was die kumulatiewe styging in kospryse vanaf Januarie 2008 tot Desember 2013 byna 47% gewees, As iemand met ander woorde aan die begin van 2008 ʼn winkelmandjie vol kosprodukte vir R100 kon koop, sal dieselfde mandjie nou sowat R147 kos.

 

Indien die amptelike mandjie van Stats SA nie gebruik word nie, maar eerder net die eenvoudige gemiddelde van die prysstygings van al die beskikbare kosprodukte, was die toename sowat 51% gewees wat nie veel meer as Stats SA se 47% is nie. Indien enigiets wat moontlik as ʼn luuksheid geag kan word, uitgehaal word en die eenvoudige gemiddelde dán bereken word, het kospryse steeds met sowat 51% gestyg.

 

Alle kosprodukte se pryse styg natuurlik nie teen dieselfde tempo nie. Iemand wat baie van aartappelskyfies hou, moes byvoorbeeld in Desember 2013 sowat 62% meer daarvoor opdok as in Januarie 2008, aangesien die gemiddelde prys van ʼn 125 g pak skyfies van ongeveer R6,71 tot R10,85 toegeneem het. Iemand wat verkies om eerder vars aartappels te eet, was beter daaraan toe aangesien die prys met slegs 22% oor die vyf jaar toegeneem het, van ongeveer R8,12 tot R9,94 per kilogram.

 

Die tydperke van skerp stygings en daaropvolgende stabiliteit in kospryse kan op die meegaande grafiek gesien word. Deur die loop van 2008 het kospryse met byna 16% gestyg, maar in die daaropvolgende twee jaar het dit byna stabiel gebly, en slegs met 2,3% toegeneem. In 2011 het pryse egter weer skerp gestyg, met ʼn toename van byna 13% gedurende die jaar. ʼn Kort periode van stabiliteit het tot Augustus 2012 gevolg, waarna pryse binne slegs vyf maande met 7% gestyg het. Van Januarie tot Augustus 2013 was daar weer stabiliteit, maar in die laaste vier maande van 2013 het pryse weer met sowat 2,4% gestyg.

 

Op die oomblik is die groot vraag of die skerp styging in kospryse sedert Augustus 2013 deur die loop van 2014 voortgesit gaan word en of daar eers weer ʼn tydperk van stabiliteit sal wees. Onlangse skerp stygings in Suid-Afrikaanse mieliepryse voorspel egter niks goeds nie aangesien dit ʼn belangrike inset in talle kosprodukte is. Beide 2008 en 2011 se skerp stygings in algemene kospryse is deur stygings in grootmaat-mieliepryse voorafgegaan.

  •  
  •  
  •  
  •  
Paul Joubert Deur Paul Joubert


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close