Ekonomie -

Koste van mediese fondse verdubbel sedert 2008

Medies duurder AFRDie standaard van mediese sorg is een van die gebiede waar die meeste vooruitgang in die wêreld gemaak is in die afgelope eeu tot eeu en ʼn half. Siektes soos polio, masels, malaria en griep, waaraan mense minder as ʼn eeu gelede nog in honderdduisende tot miljoene op ʼn slag gesterf het, kan vandag met min moeite en koste behandel of voorkom word. Ook allerhande kleiner, ongerieflike kwale wat tot onlangs nog ongeneeslik was, kan deesdae met eenvoudige operasies of ander behandeling genees word. Mense leef oor die algemeen beduidend langer, wat wel beteken dat die voorkoms van siektes wat met ouderdom verband hou, soos kanker en demensie ook toeneem. Iets wat ook, veral oor die afgelope paar jaar, toegeneem het, is die koste van mediese fondse.

 

Oor die algemeen is mense tog gewoonlik daarmee gediend dat ʼn hoër prys vir ʼn beter diens betaal moet word. Gestel jy is siek en word voor die keuse geplaas om die duur, nuwe behandeling te ontvang, of slegs tegnieke en medisyne wat 20 jaar gelede beskikbaar was, te gebruik. Die ouer behandeling is goedkoper, maar het meer newe-effekte, hou ʼn groter risiko in en is nie so effektief soos die nuwe behandeling nie. Watter opsie sou jy kies?

 

Dit beteken nie dat dit onmoontlik is dat daar redes kan wees waarom mediese koste hoog styg nie. In Suid-Afrika is rasgedrewe beleide oor opleiding en menslike hulpbronne ongetwyfeld ʼn faktor wat mediese koste hoër maak as wat dit hoef te wees. Ander beleide wat sekere verpligtinge of beperkinge op verskaffers van mediese dienste en mediese fondse plaas, stoot ook die koste van dié dienste op. Ironies genoeg word die privaat sektor dan daarvoor blameer.

 

Tog is dit raadsaam om te kyk na hoeveel vinniger as algemene verbruikerspryse die koste van mediese fondse oor die afgelope paar jaar gestyg het. Die verlede voorspel nie die toekoms nie, maar as daar geen goeie rede is om te dink dat die situasie gaan verander nie, kan die verlede se tendens ʼn goeie gids tot die toekoms wees.

 

Sedert 2008 het die algemene koste van mediese fondse, soos deur Statistieke Suid-Afrika bygehou, bykans presies verdubbel. In dieselfde tyd het die algemene verbruikersprysindeks (VPI) slegs met sowat 47% toegeneem. Mense betaal nou dubbeld soveel vir hul mediese fondse as ses jaar gelede, maar slegs ongeveer een en ʼn half keer soveel as in 2008 vir verbruiksgoedere en dienste oor die algemeen. Prakties beteken dit dat as jy verwag dat die algemene VPI-inflasiekoers volgende jaar 6% gaan wees, dit ʼn goeie idee is om solank te begin begroot vir ʼn mediesefondspremiestyging van sowat 10% tot 14%.

  •  
  •  
  •  
  •  
Paul Joubert Deur Paul Joubert


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close