Algemeen -

Kovsie-personeel wérk uit protes

Dit is ’n warm Dinsdagaand in Bloemfontein. Die onlangse haelskade is nog sigbaar aan die tuine en in die strate ná die onlangse storms en reën, en die stad het tot bedaring gekom ná die Vrystaat se groot Curriebeker-oorwinning. Te midde van die twee seëninge wat die Vrystaatse hoofstad onlangs ervaar het, swoeg die universiteitpersoneel steeds om hul werk te doen sodat studente die akademiese jaar kan voltooi.

Solidariteit het te wete gekom van ’n spul frustrasies wat sy 300 lede op die Kovsie-kampus ervaar en het toe na aanleiding daarvan ’n werkwinkel gereël om iets omtrent die frustrasies te doen. Solidariteit se wekroep was dat elkeen sy of haar plan moes saambring sodat ons saam ’n plan kan maak. Dié aand daag daar toe studente, personeellede, ouers, ander belanghebbendes en lede van die publiek op. En almal wil weet waarheen nou en hoe nou gemaak.

Die probleme wat uitgelig is, was legio – verskeie misdade wat op die kampus gepleeg word; die ekonomiese implikasies wat die kampusgeweld vir besighede en ouers inhou; die afwatering van akademiese standaarde as gevolg van gevaarlike alternatiewe wat ingestel is; intimidasie deur gevaarlike, kleiner aktivistiese groepe op sosiale netwerke; en algemene intimidasie. Die grootste probleem en die meeste klagtes het egter te make met die universiteit en sy bestuur self.

Soos uit een mond moes ons hoor hoe die universiteitsbestuur se prioriteite polities geposisioneer is; hoe die universiteit roekeloos omgaan met ondeurdagte kommunikasie; hoe bestuur dubbelstandaarde handhaaf wanneer dit kom by die straf van studente; en dat geen SAPD-ontplooiing en strategiese plasing van sekuriteitspersoneel plaasvind nie. Personeel word ook verbied om enige kontak met hul studente te hê en moet in die geheim kontaksessies met hul studente reël. Dit wil ook voorkom of die universiteit geen regsadvies oor die aangeleentheid inwin nie, of indien wel, dat dit heel moontlik die verkeerde advies is.

Wat ook al die swaarste op mense se gemoedere rus, die feit dat die universiteit een aand laat ’n SMS aan sy personeel gestuur het om hulle te vermaan om nie die volgende dag te gaan werk nie uit simpatie met die #feesmustfall-studente, weeg dalk die swaarste. Die SMS het almal stomgelaat. Baie personeellede het daardie aand nie ’n oog toegemaak nie en het die volgende dag uit protes gaan werk.

Die woorde “om uit protes werk toe te gaan” het my soos ’n uitklophou getref en ek moes die woorde stadig in my kop herhaal: “Ek gaan wérk om te protestéér.” Is dit regtig waar ons ons nou bevind? Hoe het ons hier gekom?

Ek het ná die vergadering op my bed neergesak en aan al die personeel op die Kovsie-kampus gedink. Hul roeping in die lewe is om jongmense van alle kleure en kulture vir die grootmenswêreld voor te berei, en dié roeping word deur die werkgewer self geminag deur die intimidasie en swak bestuur wat aan die dag gelê word en deur die toegewings wat aan die kleiner groep anargiste gemaak word – so asof hulle daardie groep ondersteun.

Ek dink aan julle, julle wat uit protes moet werk – ek salueer julle!

  •  
  •  
  •  
Deur juran


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close