Kultuur -

Kruispad: Afrikaners se vier keuses

Die Nederlandse denker, Bob Goudzwaard, het gesê dat Afrikaners se geskiedenis eerder ’n stryd om oorlewing is as wat dit om oorheersing gaan. Ná 1994 het Afrikaners net ’n gewone minderheid geword, met ’n meerderheid wat oor ons lewens besluit. Dit lyk of die ANC die struggle voortsit met staatsmag en dat groot dele van die staat verval. Ons grondliggende belange, soos die Afrikaanse taal, skole en universiteite, ly onherstelbare skade en rassewetgewing bedreig ons in die werkplek, in besigheid en in sport. Die staatsideologie van transformasie met sy 80:9:9:2-formule (swart, wit, bruin, Indiër) van bevolkingsverteenwoordiging dien as werktuig om met die ANC se beleid van “African hegemony” ons lewens orals te domineer. Terugskouend voel baie mense dat ons vir ’n demokrasie gestem het, maar ’n (onderhandelde) rewolusie gekry het. Al daal die ANC se stemme tot 51%, hou hulle steeds 100% van die mag.

 

Gelukkig het drie vorme van “beste praktyke” internasionaal ontwikkel vir multikulturele lande wat wenlande gebruik om soortgelyke uitdagings as dié in Suid-Afrika te bestuur. Dit behels individuele regte vir monokulturele lande; groepsregte met afgewentelde regte en magte vir multikulturele lande; en selfs gebiedsregte met wisselende vlakke van outonomie. Die doel hiervan is om kulturele vryheid vir almal ingevolge die nuutste VN-standaarde te verseker. Dit verhoed dat meerderheidsregering in meerderheidsoorheersing ontaard. In ’n demokrasie sonder kulturele vryheid is net die meerderheid vry. Suid-Afrika het in 1994 minderheidsregering vir individuele regte verruil, aangevul met grondwetlike ruimte vir groepsregte en -gebiedsregte. ’n Stelsel wat net op individuele regte geskoei is, sal té simplisties wees vir komplekse multikulturele samelewings soos dié in Suid-Afrika. 

Bestaansuitdaging

Hierdie demokratiese grondwetlike ruimtes vir mense om hul individuele regte op byvoorbeeld moedertaalonderrig gesamentlik uit te oefen, word egter tans verskraal deur krimpende politieke ruimtes. Die individuele regte van die meerderheid op toegang weeg nou swaarder as die individuele regte van die minderheid op moedertaalonderrig. So word politieke mag nou sterker as grondwetlike gesag, en verander die eertydse bevryders in heersers. Die regering misbruik sy politieke mag om ons multikulturele land volgens sy monokulturele beeld te omskep. Nasiebou word verskraal tot inlywing by die meerderheid. Dit skep vir ons ’n bestaansuitdaging omdat Afrikaners, as (grondwetlike) kultuurgemeenskap, nie deel is van die regering se toekomsbeeld nie, behalwe as ingelyfde enkelinge.

Hierdie soort politieke nasiebou werk nie omdat die prys van selfopheffing wat van minderhede vereis word, in die praktyk te hoog is om te betaal. Soos die VN se ontwikkelingsverslag van 2004 oor kulturele vryheid uitwys: “As die geskiedenis van die twintigste eeu iéts bewys het, dan is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens of by die meerderheid in te lyf, eerder ’n lewenskragtige herlewing uitlok.”

 Risikobestuur

Die vraag is wat Afrikaners te doen staan wat die grondwetlik voorsiende ruimte wil hê om 100% Afrikaners te wees, sodat hulle ook 100% Suid-Afrikaners kan wees. Die risiko is te groot om permanent afhanklik te wees van die verdraagsaamheid en gehalte van ’n ANC-regering. Die howe kan wel uitsprake lewer teen korrupte regeringsleiers, maar hulle kan nie goeie regering verseker nie. Die grondwetlike ruimtes vir taal- en kultuurgroepe, is as blote magtigende bepalings nie afdwingbaar genoeg om kulturele vryheid suksesvol te bereg nie. Boonop het daar in praktyk niks gekom van die instellings wat gemeenskapsregte moes bevorder, soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en die Artikel 185- grondwetlike kommissie nie.

 Kruispad

Hierdie ontwikkelings het ons by ’n kruispad te staan gebring, met vier toekomspaaie vir vier groepe Afrikaners:

 

  1. Vreemdelinge: Dit is onbetrokke Afrikaners wat negatief oor die land voel maar wat positief is oor Afrikaneridentiteit.

 

  1. Emigrante: Afrikaners wat negatief oor die land én Afrikanerskap is, en wat inwaarts of uitwaarts emigreer.

 

  1. Enkelinge: Hulle is positief oor die land as Afrikaanse enkelinge.

 

  1. Bouers: Afrikaners wat positief oor die land, hul Afrikaner- én Afrikaanse identiteit is, en wat aktief wil bou aan die toekoms en vryheid, veiligheid en voorspoed van almal.

Die Romeinse denker Sallust het gesê: “Min mense begeer vryheid. Die meeste verkies net regverdige heersers.” Bouers is vrye burgers, en nie onderdane nie. Daarom kies bouers die pad om kulturele vryheid te bou deur sterk gemeenskapsorganisasies.

  • 157
  •  
  •  
Flip Buys Deur Flip Buys


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close