Algemeen, Politiek -

Kubaanse ingenieurs: Water op 'n eend se rug?

Deur Theuns du Buisson

Die Kubaanse ingenieurs wat teen die reusekoste van R65 miljoen ingevoer word om Suid-Afrika se waterprobleme op te los, sal dit beslis nie kan doen nie. As 'n mens 'n klein bietjie navorsing doen, sien 'n mens dat hulle nie eens hul eie waterprobleme kan oplos nie. In Kuba gaan tot 50% van gesuiwerde water verlore as gevolg van hul vervalle stelsels. Die probleem is dus nie eens iets wat buite hul beheer is nie, maar die direkte gevolg van Kubaanse onbevoegdheid, of spesialiskennis, soos ons Departement van Water en Sanitasie dit noem.

Eintlik is dit nie waarvoor hulle hier is nie. Die verwelkoming van hierdie ingenieurs is eerder 'n gebaar om die ANC, en ongelukkig die hele Suid-Afrika daarmee saam, se verknogtheid aan Kuba en die kommunisme te bewys. Elke belastingbetaler dra by tot die vereniging van die werkers van die wêreld – een Kubaanse ingenieur op 'n slag. Praktiese oorwegings soos die beurtwaterstelsel wat in Kuba gebruik word, maak nie vir die ANC-regering saak nie. Solank die een hand die ander was, met of sonder water, is dit goed genoeg. Kuba was destyds daar vir die ANC en sy makkers in Angola, en nou is ons, ja die hele Suid-Afrika, daar vir hulle. Wie gee nou om oor die beste belange van die burgers in wie se belang die regering moes optree?

'n Land waar drinkwater dikwels met perdekarre vervoer word, bied sekerlik die oplossing. Teen 'n koste van R65 miljoen kan ons net dink watter wonderlike oplossing dít sal wees.

Maar kom ons veronderstel hierdie ouens is regtig so goed as wat minister Lindiwe Sisulu sê. Dan is dit 'n groot jammerte dat hulle dit nie dadelik sal kan bewys nie. Eerstens het hulle nie akkreditasie by ons professionele liggame soos die Ingenieursraad van Suid-Afrika (Ecsa) nie, en tweedens kan die meeste van hulle slegs Spaans praat. Met 'n Kubaanse ontplooiing van ingenieurs in die Vrystaat in 2019 het lede van hierdie kennerskorps vir die eerste paar maande slegs Sotho en Engels geleer. Omtrent twee jaar en R84,7 miljoen later, is die Vrystaat se watersituasie steeds beroerd en ons weet nie of die Kubane nou Engels of Sotho kan praat nie.

Ons weet wel dat hier volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs (Saice) ongeveer 'n duisend werklose ingenieurs is, waarvan ons met sekerheid kan sê dat ten minste 24 van hulle die wenkombinasie van Engels en Sotho magtig is.

Dan is daar natuurlik ook 'n groot aantal Suid-Afrikaanse ingenieurs wat oral ter wêreld werk om ander lande se infrastruktuur te verbeter en in stand te hou. Dit klink nie of die regering enigsins 'n poging aangewend het om te hoor of daar nie van hulle is wat graag sou wou terugkom nie.

Ons moet egter onthou dat water en infrastruktuur nie die eintlike rede is vir die Kubane se koms nie. Die beklemtoning van Suid-Afrika se verbintenis tot die kommunistiese ideaal is die rede – selfs al kom dit teen die prys van 'n vet klap in die gesigte van ons eie ingenieurs en opleidingsinstansies.

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close