Gemeenskappe, Kultuur -

Kultuurtrotse heimwee

Hierdie tyd van die jaar is 'n mens geneig om heimwee te kry oor die 314 dae van die jaar wat reeds verby is en sommer die vorige jare wat verby is ook … My heimwee het egter 'n kultuurtrotse ondertoon. Met die vele uitdagings wat met 2021 gepaard gegaan het, het ek 'n verlange om kultuurtrotse staaltjies oor te vertel en te hoor.

 

Die term “kultuurtrots” kan dalk, in die wêreld se huidige politieke klimaat, oorweldigend klink, maar kom ons los vir 'n oomblik die groot vraagstukke en herinner mekaar aan die klein, kosbare, kultuurryke oomblikke.

 

Ek sê altyd dat jy eers die waarde van jou kultuur-wortels begryp wanneer jy daarvan weggeruk word. Dit laat my dink aan die wonderlike voorreg wat ons Afrikanerkindertjies het om in die somer kaalvoet skool toe te mag gaan. Ek het ongelukkig die teenoorgestelde in Engeland ervaar, toe ek vir “anti-hygienic behaviour” aangespreek is omdat ek kaalvoet by 'n winkel wou ingaan.

 

Weet jy, by my ou hoërskool in Oudtshoorn was die skaaphond, Bakkies, van een van die huise teenaan die sportterrein, altyd ons beste speler op die hokkieveld. Hoe kostelik dat die pa’s langs die veld met hulle boerehoedens vir Bakkies probeer wegjaag wanneer hy die middelpunt van die wedstryd wou wees.

 

Ken jy daardie warm gevoel wanneer jou oom op die plaas se stoep, tydens 'n braai, die Afrikaanse melodieë se volume opstoot? Sjoe, ek verlang sommer nou na daardie tye toe ek en my niggies, op die maat van die musiek, met mekaar kon kompeteer om te sien wie die hoogste in die boom kon klim. Ai, dan onthou ek terselfdertyd hoe ek en my sussies in Engeland vir 'n klagte van “anti-social behaviour” moes koes toe ons wou boomklim.

 

Ek sien anderdag by my ou skoolgronde byekaste en vra vir my ma: “En die?” Die antwoord was dat een van die plaasseuns in die koshuis te veel na die plaas verlang het en 'n tipe boerderytjie naby hom wou begin. Hierdie boere-ondernemingsgees sal nie sommer op enige ander plek of in enige ander kultuurkonteks gerespekteer of verstaan word nie.

 

Dit is amper tyd vir die Desember-seevakansie, en soos ek daarna uitsien kan ek soveel kere herroep wat vreemdelinge ons uitgenooi het om saam met hulle vlugbal te speel. Hierdie spontane interaksie word gedryf deur daardie “iets” wanneer jy net weet, dit is my mense. Daardie “iets” is waardevol en moet gekoester word. Ons spreek immers ouer mense aan as “oom” en “tannie”, want ons voorouers het in die moeilike Depressiejare so ná aan mekaar geleef dat die onderskeid tussen biologiese familie en kultuurfamilie moeilik was om te onderskei.

 

My kultuurfamilie is vir my van onskatbare waarde. Ons kan nie in die waan van vandag dink dat dit beter is om ons kultuur agter te laat nie. Die Afrikanerkultuur is veel meer as 'n politieke begrip. Kyk maar net na die enkele betekenisvolle staaltjies wat ek so vinnig kon herroep … Wat is jou kultuurtrotse staaltjies wat jou heimwee gee?

  •  
  •  
  •  
Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close