Algemeen -

Kusspanne nie opgewasse teen Nieu-Seelandse opposisie

Een uit drie. Dit is wat die telbord tussen Suid-Afrikaanse en Nieu-Seelandse spanne na die afgelope naweek se Super Rugby-kwarteindrondes effektiewelik wys.

 

Die Leeus het daarin geslaag om die konings van uitkloprugby en seker die suksesvolste span in die geskiedenis van die reeks, die Crusaders, goed te klop. Die absolute euforie van die span nadat die eindfluitjie geblaas het en die telbord op Emirates Airline Park 42-25 in die guns van die tuisspan wys, was ’n blye gesig.

 

Dis egter die vertonings van die twee ander Suid-Afrikaanse spanne, die Sharks en die Stormers, wat groot kommer by die grootkoppe van SARU sal wek. Die twee kusspanne het groot loesings gekry toe hulle deur onderskeidelik die Hurricanes (41-0) en die Chiefs (60-21) gestoomroller is.

 

Die Hurricanes is na my mening tans die span in die kompetisie om te klop. Hulle het die Sharks se vele foute telkens met punte gestraf, en die Natallers het gelyk asof hulle nie antwoorde op die kliniese aanval van die Hurricanes het nie. Die Stormers, aan die ander kant, is ’n duidelike voorbeeld daarvan dat die huidige konferensiestelsel in Super Rugby nie in die toekoms voortgesit kan word nie. Die Stormers se wedstryd teen die Chiefs was hul eerste kragmeting teen ’n Nieu-Seelandse span vanjaar, en mens kon dit sien. Die Stormers, wat hul konferensie gemaklik gewen het, moes vanjaar net teen Australiese opposisie meeding en dan natuurlik teen mindere spanne soos die Kings, Sunwolves en Jaguares, sonder om een Nieu-Seelandse span die stryd aan te sê. Die huidige formaat van Super Rugby is dus in alle eerlikheid onregverdig.

 

Die Stormers, in Schalk Burger se laaste wedstryd vir die unie, is deur die vaart, krag en besluitneming van die Chiefs oorrompel en is in elke faset van die spel deur hul opponente uitoorlê. Nie meer was daar sprake van ’n gedugte vaste vyf met ysters soos Etzebeth en Pieter-Steph aan die voorpunt nie, omdat die Chiefs daarin geslaag het om hulle totaal en al te elimineer en dan die bal met ongelooflike vaardigheid na die punte toe te versprei. Die Stormers kon geensins die pas waarteen die Nieu-Seelanders speel, volhou nie.

 

Die Leeus, aan die ander kant, het daarin geslaag om met ’n Nieu-Seelandse tipe spelpatroon die gedugte Crusaders te klop. Die Leeus is nou die enigste Suid-Afrikaanse span oor in die kompetisie en kom vandeesweek teen die Highlanders te staan. Ek het geen twyfel dat hulle hierdie Nieu-Seelandse span ook sal afslag nie. Dan lê daar ’n moontlike harde finaal teen die Hurricanes in Nieu-Seeland of teen die Chiefs in Suid-Afrika voor. Wat egter in die toekoms gebeur, maak nie rêrig saak nie – die Johannesburgers het reeds daarin geslaag om ons weer te laat glo dat Suid-Afrikaners wel met sukses ’n meer aanvallende spelpatroon kan implementeer.

  •  
  •  
  •  
  •  
Francois Redelinghuys Deur Francois Redelinghuys


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close