Gemeenskappe -

Laat geen steen onaangeroerd nie

Groot was my skok toe ek onlangs daarvan te hore kom dat daar 'n vlaag hondvergiftigings in ons woonbuurt plaasgevind het. In een van die gevalle is 'n miniatuur-hondjie in 'n sekuriteitskompleks (met elektriese omheining) in ons straat vergiftig. Gelukkig het die hondjie dit oorleef.

Net daar begin ek paniekbevange om die gemeenskapspolisiëringsforum se nommer op my selfoon te vind sodat ek kan verseker dat die kwessie onder hul aandag is. Skielik verbeel ek my hoe ek een oggend op my dierbare hond-kinders moet afkom waar hulle vergiftig is. Ek kry 'n koue rilling en besluit dat ék alles in my vermoë sal doen om dit te verhoed.

Ek begin toe dadelik om kennisgewings te tik waarmee ek al die inwoners van ons kompleks wil waarsku om spesiale veiligheidmaatreëls toe te pas om sodoende te verhoed dat dieselfde 'n troeteldier in ons kompleks oorkom. Die middag na werk deel ek verwoed pamflette uit en vertel al wat 'n buurman is van die nuus.

Of my pogings nou enigsins gaan vrugte werp, is debatteerbaar. Gelukkig kan ek snags met die wete dat ék iets gedoen het, in die bed klim. Gelukkig lees ek toe ook die volgende aanhaling raak wat my net weereens oortuig het dat my pogings nie tevergeefs was nie: This is your life and this is your country. If you want to keep it safe, you need to get involved ~ Aaron Swartz (Internet-aktivis en politiese organiseerder, 1986-2013).

Vra jouself gerus af: Hoe betrokke is ek in my gemeenskap? Mag ek regtig oor alles kla as ek nie self iets doen om die probleme in die samelewing op te los nie? My pleit aan jou is: Raak vandag nog betrokke!

  •  
  •  
  •  
Inge Strydom Deur Inge Strydom


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close