Kultuur, Politiek -

Laat jou stem hoor oor Maties en Afrikaans

Moenie dat die politiek van wanorde die stille meerderheid se stem stilmaak nie

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

 

Suid-Afrika het die afgelope tyd 'n karakter begin ontwikkel van onordelike politiek. Die goeie orde in die parlement word verruil vir wanorde. Akademiese debatte op kampusse word verruil vir anargie. Klein groepies kry groot stemme. Vensters word stukkend gegooi, karre word gebrand, en monumente word beskadig. Visekanseliers is polities lomp en voer die krokodil van wanorde met toegewings. Jy kan nie 'n krokodil mak maak nie, inteendeel, as hy groot is, eet hy jou op.

Aan die ander kant is daar 'n groep studente wat graag hulle eksamens ordelik wil afhandel. Ander is afhanklik van die eksamenuitslae om weer beurse en lesings te kry. Talle van hulle arm studente wil uit hulle armoedesirkels deur goeie studies breek. Studente wil tuis voel. Hulle wil in hul moedertaal studeer, nie omdat hulle ’taalbulle’ is nie, maar omdat dit gemaklik is en dit die beste manier van studie is. Hulle wil dus en hulle mag.

Daar is oud-studente wat hulle Alma Mater se goeie naam wil beskerm. Deels nostalgie, maar deels ook omdat hulle die waarde van hulle graad wil beskerm. Voornemende ouers wil graag hulle kinders in 'n ordelike omgewing laat studeer en bestaande ouers wil nie in die nag wakker lê oor hulle kinders se veiligheid nie.

Die tweede groep is dikwels stil. Hulle stem word nie gehoor nie, maar hulle is die stille meerderheid. Die onordelike politiek trek die aandag en die besture reageer daarop.

'n Groep oud-studente van Maties het in samewerking met Solidariteit 'n referendum oor Maties se taalplanne uitgeroep sodat hierdie ander stem ook gehoor kan word. Dit skep 'n ordelike platform waarop 'n stem gehoor kan word.

'n Paar honderd, en hoogstens 1 000 studente, is deel van Open Stellenbosch, maar hulle onordelike taktiek domineer die debat. Driehonderd dosente het darem op 'n ordelike manier hul steun aan Wim de Villiers se Engelse plan gegee.

Sestien duisend (16 000) mense het vier dae nadat die referendum op www.matiesreferendum.co.za begin is, hulle stemme uitgebring. Vyf-en-negentig persent (95%) van hulle sê Afrikaans op Maties moet beskerm en uitgebou word.

Dit is die stille meerderheid wat praat en oor die volgende paar dae gaan hulle stem net nog harder word. Geen ander groep kan soveel steun bewys nie. Dit is 'n stem wat nie geïgnoreer kan word nie.

Ons moedig die stille meerderheid aan om in hulle massas by www.matiesreferendum.co.za te gaan stem.

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch sit op 30 November 2015. Ons beplan om die uitslag van die referendum voor die vergadering aan hulle te oorhandig.

Ons moenie toelaat dat die politiek van wanorde die stille meerderheid stilmaak nie.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close