Kultuur, Politiek -

Lentedag: Afrikaners se plant-en-groei-seisoen

Almal is in vervoering oor die winter wat verby is – die Lente is hier! Maar, hoe lyk die seisoen waarin die Afrikaner hom tans bevind? Hoe lyk die “plant en groei status” van die Afrikaners?

Die heel eerste “plant” oomblik van die Afrikanervolk, waarvan kennis geneem moet word, is die feit dat God,  369 jaar gelede, ons volk in Suid-Afrika geplant het. Behalwe vir die feit dat ons volk se groei in 1652 met 'n gebed op die Kaapse kus begin het, is dit ook noemenswaardig dat 'n Groter hand die aankoms bewillig het. Dink daaraan – dit was net vier jaar nadat die vervolging van Protestantse Christene in Nederland geëindig het en dit was beslis nie toevallig dat die Portugese (die draers van die Rooms-Katolieke geloof) vir meer as 'n eeu en 'n half verby die Kaap gevaar het en hulself slegs in Angola en Mosambiek gevestig het nie.

Na die bonatuurlike “plant” gebeure van 1652 het Afrikaners, met krag van Bo, baie in Suid-Afrika “geplant”. Ons weet natuurlik van die nuwe huise, plase en dorpe wat deur die Voortrekkers na 1838 “geplant” is. Ons kan herroep hoe die krygers van die Boereoorloë ten duurste vryheid vir die Afrikaner tussen 1881 en 1902 probeer plant het. Ons kan nie vergeet hoe die Afrikaners na die Boereoorlog se verskroeide-aarde-beleid 'n ploeg getrek het en weer begin plant het nie. Afrikaners “plant” toe ook die Helpmekaar-beweging, Sanlam, Santam en Volkskas.

In die Groot Depressie jare van die 1930’s plant die Afrikaners verwoed voort aan die FAK, die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings, die eerste Afrikaanse Bybel en die Voortrekkermonument. Die Afrikaners “plant” later (tussen 1948 en 1990) 'n moderne staat en ekonomie. Dink aan Yskor, Sasol, top-klas universiteite en die beste ambagslui ter wêreld.

Afrikaners het, ten spyte van onweer, van krag tot krag bly groei.

Die onweer blyk nou oorheersend te wees, maar die Afrikaner plant en groei steeds voort, al voel dit dalk tans vir my en jou soos winter. Die instansies wat ten duurste soos blomme geplant is, gaan ten gronde. Afrikaans word uit universiteite verwyder. Die staat wil Afrikaners se grond sonder vergoeding onteien. Daar word geskree “kill the boer” en gesê dat Afrikaners in die see in gejaag moet word. Beurse en werksgeleenthede vir jong Afrikaners word geweier en daarom vlug hulle uit Suid-Afrika.

Maar, hierdie winter voel asof dit op 31 Augustus staan.

Die Lente is nog nie hier nie, maar ek kan dit hoor wanneer soveel jong Afrikaner-sangers oor trotse Afrikanerskap sing. Ek kan al die Lente ruik wanneer Afrikaners met die leuse “ons sal self” saamstaan en op die manier hulle dorpe skoon en veilig hou. Ek kan dit sien wanneer menigte Afrikaners innoverend hulle eie besighede bedryf en al hoe meer privatiseer, teenoor die staat wat vrot sentraliseer. Ek kan dit proe wanneer Afrikaners saam braai en begin gesels oor ons ryk erfenis en hoe ons die toekoms self moet opbou. Dink aan die “geplant” van Sol-Tech, Maroela Media, Akademia en Orania.

Die Lente is dalk nog nie hier nie, maar ek kan dit so hittete aanvoel wanneer Afrikaners handevat en daarmee erns neem dat ons in Suid-Afrika geplant is en sal aanhou met die plant en groei van ons erfenis.

  •  
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close