Algemeen, Gemeenskappe, Nuus, Politiek -

Lesufi bevestig kommer rondom skolewet wysiging

Op watter punt skakel potensiële kommer oor na werklike kommer? Die jongste wysigingswetsontwerp het verskeie potensieel kommerwekkende klousules bevat waarin die mag van beheerliggame, ouers en personeel tot 'n groot mate deur die staat oorgeneem sal word. Uit die aard van die saak was hierdie reeds genoeg gewees om meeste mense die skrik op die lyf te jaag. Tog, was daar ander wat gewonder het of die kommer miskien nie effens oordrewe is nie: die wet gee wel vir die departement van basiese onderrig en die minister die mag om besluite te neem rondom personeel aanstellings, toelating van leerlinge en die samestelling van klasse, sowel as die taalbeleid. Maar, dit beteken nie noodwendig dat hulle die verkeerde besluite sal neem in dié verband nie.

Die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het egter 'n einde gesit aan al die spekulasie rondom die regering se planne ter aanwending van hul magte ingevolge die voorgestelde wysigingswet. Tydens 'n radio-onderhoud op Radio 702 saam Eusebius Mckaiser op 2 November, ontbloot Lesufi die gedagtegang waarin die departement verkeer. Hierin verduidelik Lesufi onder andere, dat:

  • hy meen alle skole se taalbeleide moet aangepas word om ten minste drie tale in te sluit;
  • tuisskoolonderrig behoort nie toegelaat te word nie;
  • klaskamers vergroot moet word om tussen 60-70 leerlinge per klas in te pas;
  • aanstellings beheer moet word sodat die beste onderwysers outomaties by informele nedersettings geplaas word;
  • en, dat kurrikula aangepas moet word om meer van die land se apartheid geskiedenis in te sluit.

Die potensiële kommer is dus omgeskakel na wesenlike kommer vir diegene wat besorgd is oor die taal waarin hul kinders onderrig ontvang, die grootte van die klaskamers waarin hul kinders sit, die onderwysers wat die klasse aanbied en feitlik enige ánder aspek van onderrig. Dieselfde geld natuurlik vir onderwysers in die verband.

Ons hoef nie te wonder wat die uitwerking van hierdie wet sal wees vir alle openbare skole nie. Sou die wysigingswetsontwerp in werking tree, dan is die bedoelinge van die departement aan ons almal bekend.

 

Dien gerus jou kommentaar teen die wysigingswetsontwerp in voor 10 November deur op die skakel te klik: https://solidariteit.co.za/vir-skole/ .

  • 913
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close