Algemeen -

Liewe matrikulant van 2021

Deur Marisha Hermann

’n Vreemde jaar lê vir jou voor! Jy gaan skool toe om jou boeke op te laai en dan huis toe om skool te gaan.

Jou klasmaats se gesigte gaan jy min sien. Lesse vind aanlyn plaas en almal sit mos eintlik in hulle nagklere en wegkruip agter blokkies op rekenaarskerms. Klasse is ongewoon stil, want niemand waag dit om hulleself te “unmute” nie en jou wange word bloedrooi as jy wel die dag vergeet om jou luidspreker af te sit.

Jou bed het jou skoolterrein geword en jou hond jou klasmaat. Al dag en heeldag is pouse en geen klokke lui om die volgende klas aan te kondig nie. Jy besluit wanneer jy werk en dan werk jy jou klasse sommer tussen al die Netflix in.

Ek, as Covid-19-matrikulant van 2020, ken hierdie roetine goed, want ek self was al daar. In die deurmekaar jaar van 2020 was ons matrieks bemoedig met die woorde: “Ons weet hoe julle voel, elke jaar het maar sy unieke uitdagings.” Die boodskap het ons egter nie bemoedig nie. Hoe kan iemand sê hulle weet hoe ons voel as hulle nie vir ’n oomblik in ons skoene gestaan het nie?

Nooit in my leeftyd het enige matriek gevrees dat ’n eindeksamen dalk nie in November kan plaasvind nie. Geen van hierdie matrieks het nodig gehad om hul eindeksamen te skryf met ’n masker op hulle gesigte nie. Vorige jare se matrieks het nie ervaar hoe dit voel om matriek grootliks deur selfstudie aan te pak nie.

Dit sal dan ook nie waar wees as ek, ’n matrikulant van 2020, vir jou, die matriek van 2021, sê dat ek verstaan waardeur jy gaan nie. Ons klasse was aanlyn. Ons het nie die voorreg gehad om ons vriende te sien of om op die skoolterrein te kon baljaar nie; net soos wat die jaar vir jou ook nou begin.

Ten spyte van dit wat ons matriekgroep en joune in gemeen het, het die matrieks van 2020 nie Graad 11 (die belangrikste jaar van jou lewe) met hoofsaaklik selfstudie voltooi nie. Ons het ook nie ons matriekjaar op hierdie wyse afgeskop nie. Soos jy het ons wel nie geweet wat die jaar vir ons inhou nie; was net een ding seker: onsekerheid.

Liewe matrikulant van 2021, ek wil jou graag bemoedig met dié woorde: Ons weet nie waardeur jy gaan nie.

Wat ons wel weet is dat jy nie alleen is nie. Jy gaan uithouvermoë, selfdissipline en selfbeheersing aanleer. Jou karakter gaan gevorm en getoets word. Jy gaan jouself op ’n ander vlak leer ken.

Dis ’n voorreg om ’n Covid-19-matrikulant te wees. Jy groei en jy word sterk. Verdiep jou in jou nuwe wêreld en beleef elke oomblik op dié manier. Sit jou rekenaar se kamera aan en beantwoord so nou en dan ’n vragie op daardie aanlyn klas. Staan op en vergroot jou skoolterrein. Maak vanjaar jóú unieke matriekjaar!

 

Groete

Matrikulant van 2020

  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close