Kultuur -

Liewe moeder Afrika

Hierdie is bloot my storie; dit is nie ’n volledige storie nie, maar dit is myne. Ek probeer ook nie in hierdie storie om my broers se storie vertel nie. My ander broers het ook stories, hartseer stories van swaarkry en al ons stories saam vorm ons familiestorie.

Ma, hoekom is ek jou weggooikind? Ek lyk anders en praat anders. ’n Ander ma het my beïnvloed, maar is nie my ma nie.

Kort ná 1652 het die eerste Vryburgers hul rûe op Europa en hul gesigte na Afrika gedraai. Só het die geboorte van my, Afrikaner, begin. Dit was ’n pynlike geboorte met swaarkry en smart, maar ek het myself na Ma vernoem, “Afrikaner.” Ek het begin praat en ’n taal ontwikkel en dit na Ma vernoem, “Afrikaans.”

Ma, ek wou nie gedienstig wees aan Europese kolonialiste nie en ek het dieper in jou ingetrek. Ek het nie teruggetrek nie; ek het ingetrek. My trek was vir ’n plek in Afrika. My broers het ook getrek, ook vir plek in Afrika.

Broer het teen broer geveg vir plekke aan die suidpunt van Afrika. Miljoene moes vlug en honderde duisende – sekere bronne praat van tussen 1 en 2 miljoen – is doodgemaak. Ons huis hier aan die suidpunt is gedestabiliseer. Broers van ons, soos die Sotho’s, Matabeles, en die Tswanas, moes vlug.

Die vroue en kinders van ander broers is by ons sterk broers ingelyf; mans is doodgemaak. Shaka was die groot vegter en vandag word beelde vir hom opgerig. Ek was deel van daardie trekpatrone. Ek het gesoek na ’n plek in Afrika. In die groot geweld en ontwrigting het ek ’n klein rol gespeel. Ek het boonop nog probeer om ooreenkomste aan te gaan en traktate te teken; daarvoor is ’n deel van my, Piet Retief en sy mansklappe, wreed vermoor.

Maar Ma, hoekom bou jy beelde om my broers se Mfecane te herdenk, maar ek is ’n uitbuiter? Hoekom is Shaka ’n vryheidsheld, maar Piet Retief, die vermoorde, en ander Voortrekkerleiers gee aanstoot?

Hoekom is wat met my ander swart broers deur die hand van swart broers gebeur het nie ’n misdaad teen die mensdom nie? Hoekom is jy so geduldig met my swart broers se geweld op mekaar?

Ek moes weer trek, weereens weg van die Engelse kolonialiste.

Ek vestig my in die Noorde. Twee republieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje Vrystaat, word gevestig. Die Engelse kolonialiste wil my nie uitlos nie. As Afrika-stam veg ek in die Eerste Vryheidsoorlog en ek word ek ’n Afrika-stam wat ’n koloniale mag verslaan.

Die kolonialiste wil my minerale rykdom kolonialiseer en die Tweede Vryheidsoorlog breek uit. Dit was ’n duur, wrede oorlog. Ek het die duurste prys nóg vir my plek in Afrika betaal. My vroue en kinders is in konsentrasiekampe aangehou. Dáár is sowat 34 000 van hulle dood. Dertig duisend van my mans is as bannelinge weggestuur; plase is afgebrand. Twintig duisend oorlogswesies bly agter. Moeder Afrika, moet my nooit weer ’n kolonialis – al is dit een van ’n spesiale aard – noem nie. Dit is ’n belediging vir my en die grafte van my voorouers.

Soos tipiese kolonialiste wou die Engelse my ná die oorlog by hulle inlyf. As ek my Afrika-taal gepraat het, moes ek ’n bordjie, “I am a donkey,” dra. Ten spyte van die regering het ons opgestaan. Ons het gemeenskapsinstellings begin vestig.

Droogte, depressie en armoede het my swaar getref. Om op te staan uit armoede het ek geglo ek moet kultureel ryk wees en in die swaarkrytyd is die Bybel in Afrikaans vertaal en talle Afrikaanse instellings is gestig. Só het Afrikaans deel van my opstaan-identiteit geword. Ek praat nie net Afrikaans nie; ek is Afrikaans. Afrikaans het my taal van aspirasie geword.

Die prys van die oorlog was egter hoog. Dit het my aan die “never again”-sindroom laat ly. Die kinders van apartheid het die doodskampe van die oorlog nog in hul huise beleef. Apartheid is nie so simplisties nie, maar “never again” het ’n groot invloed gehad.

Apartheid was 'n Suid-Afrikaanse paradoks. In reaksie op hartseer van kolonialisme is die logika van kolonialisme deur apartheid voorgesit – 'n sentrale idee en stelsel wat van bo afgedwing is.

Ek is baie bewus van die foute in my verlede en wil dit nie ontken nie. My volle verlede, goed en kwaad is deel van my. Die stelsel van apartheid was onvolhoubaar. Dit het gelei tot ‘n struggle vir vryheid van die stelsel.

Maar Moeder, het jy ’n historiese bewussyn van ander vergrype aan die suidpunt van Afrika?

Hoekom swyg jy oor die onreg wat aan my swart broers deur swart broers in die struggle-tyd gedoen is? Hoekom is die 200 mense wat in een jaar deur die “necklace”-metode vermoor is nie deel van die hoofnarratief nie? Hoekom is die raadslede, Inkatha-lede, onderwysers en talle ander wat vermoor en verbrand is nie deel van die jou hoofstorie nie? Hoekom swyg jy oor my swart broers se smart?

Moeder, vandag hoor ek weer “never again.” Ek hoor van 'n stelsel wat my broers moet bevry en herstel. Ek hoor my broers wil breek van die slawerny van een stelsel deur slawe te word van nog 'n stelsel.

Moeder Afrika, dit lyk vir my of die “never again”-sindroom die denkfout van die apartheidsgeslag deur jou kinders voortgesit word. In 'n poging om 'n vorige stelsel reg te stel, word die logika van die stelsel voortgesit.

Wat my die meeste verstom, is dat jy iemand anders se taal jou taal van aspirasie gemaak het. Jy het jou eie taal opgegee. Hoe kan iemand sê: My taal kan nie?

Jy gaan jou kinders so verloor – dit maak van hulle kolonialiste van ’n spesiale aard.

Moeder Afrika, ek het ’n diep liefde vir jou. Jou oopheid, jou natuurskoon, jou klimaat en jou grond. Ek is lief vir jou kinders, my broers en susters, en oor jare het ons ’n besondere band ontwikkel. Die kinders in ons huis verskil, ons lyk anders; praat anders; en doen anders, maar ons het een ding in gemeen – moeder Afrika.

Moeder Afrika, ek het jou omhels, maar ek ervaar nie dat jy ’n wit kind omhels nie. Jy skryf my uit die definisie van Afrikaan in jou wetgewing. Jou narratief is ’n eenvoudige goed/kwaad-narratief: Wit is kwaad en swart is goed. Jy sê dat alle probleme begin het toe ek hier aangekom het. Jy skuif my uit en is kwaad as ek eenkant staan. Jou ander kinders se rassisme is legitieme eise, maar my legitieme eise is rassisme. Jy praat van my as “hulle” en van die ander kinders as “ons.”

Hoekom is dit so moeilik vir jou om my as jou kind te aanvaar? Waarom sien jy my as ’n kind van ’n ander ma wat dankbaar moet wees vir die goedgesindheid en geduld van die Afrika-huis.

Moeder Afrika, is jy ’n rassistiese ma?

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close